|
|
|
|
|
Dagboek
Sa 6 Junie 2026
- Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
- Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
Ma 8 Junie 2026
Di 9 Junie 2026
- Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)
Do 11 Junie 2026
- Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)
Vr 12 Junie 2026
Ma 15 Junie 2026
Di 16 Junie 2026
Wo 17 Junie 2026
Do 18 Junie 2026
- Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
- Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)
Vr 19 Junie 2026
- Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Die afgelope jaar moes ek myself spreekwoordelik knyp rakende al die ongelooflike suksesse wat ons skool behaal het. Ons skool het al vir ‘n geruime tyd ‘n sterk akademiese reputasie en aanslag. Om die waarde van goeie laerskoolopleiding verder uit te brei, is dit belangrik dat ons ons leerders holisties opvoed en dus ‘n bietjie wyer fokus as net akademie. Dus het ons die afgelope paar jare hard gewerk om sport en kultuur op dieselfde standaard en prestasie as akademie te kry. Ons streef daarna dat akademie, sport en kultuur ‘n perfekte balans sal vind, maar dit gebeur nie oornag nie en verg harde werk en toewyding. Ons besef dat net in woordeboeke die woorde “sukses” voor “werk” (as gevolg van alfabetisering) geplaas word, maar ons weet nêrens anders in die wêreld nie. Daar is ongelukkig nie kortpaaie tot sukses nie – dit verg deeglike beplanning, harde werk en deursettingsvermoë. Ons moet dus ons leerders ook leer dat harde werk en deursettingsvermoë talle voordele inhou. Leerders besef nie aldag dat harde werk, die regte gesindheid en selfdissipline jou baie verder neem as wat net talent kan nie. Ek glo dat ons ons leerders binne ‘n veilige leeromgewing moet leer dat deur hard te werk en om vas te byt, instrumenteel is om jou volle potensiaal te bereik. Wanneer harde werk en toewyding begin om vrugte af te werp, bou dit leerders se selfvertroue wat weer tot verdere suksesse kan lei, en dit sluit aan by onder andere die merkwaardige prestasie wat ons senior koor oor die afgelope naweek behaal het.
|
Ons senior koor (45 leerders) het vroeg Saterdagoggend, 9 Augustus, na George vertrek om vanaf 9–11 Augustus aan die gewilde Cantamus Koorkompetisie deel te neem. Daar het 19 skole aan die koorkompetisie deelgeneem, waartydens ons ‘n algehele 3de plek met ‘n 85%-puntetoekenning behaal het. Wat verder merkwaardig is, is dat ons ook die kategorie vir die beste laerskool gewen het. Dis ‘n uitmuntende prestasie en nog ‘n trotse oomblik vir ons skool. Baie dankie en geluk aan mnr. Leon Starker en juf. Rolene vir julle leeue-aandeel in die koor se sukses. Mnr. Leon het so bietjie meer as ‘n jaar gelede as dirigent van die senior koor by ons aangesluit en saam met juf. Rolene, wat die koor begelei, reusewerk gedoen om die senior koor binne ‘n relatiewe kort tydperk op ‘n kompeterende standaard te kry om aan ‘n koorkompetisie deel te neem en nie net aan koorfeeste nie. ‘n Hartlike geluk aan die senior koorleerders; hulle het hard geoefen en moes baie opofferings maak en het dikwels gevoel dit is te harde werk en sou eerder verkies het om tyd saam met hul maats te spandeer, maar deur te volhou het hulle nie net sukses behaal nie, maar hoëvlakprestasie ervaar. Ek glo dat die koorervaring ‘n blywende belewenis vir hulle sal wees en dat hulle besef dat hulle almal belangrike ratte in ‘n masjien is wat seepglad moet loop. Hulle het geleer van spanwerk, samehorigheid en veerkragtigheid wat belangrik is om gemeenskaplike doelwitte te bereik – hierdie is almal groot lewenslesse wat nie sommer binne die vier mure van ‘n klaskamer geleer word nie. Laat my ook toe om juf. Ilse-Marié (Gr. 4-juffrou) hartlik te bedank wat die koortoer vergesel het om te help met toesig en beheer. Laaste, maar nie die minste nie, wil ek my dankbaarheid teenoor die volgende koormammas uitspreek wat ook die koortoer meegemaak het om met toesig en logistieke reëlings te help:
|
- Joanita du Toit
- Thelma Janse van Rensburg
- Suzanne Jacobsz
- Coreen Scholtz
- Louiza Rademan
- Samantha le Roux
- Cathy Lawson
|
Baie dankie ook aan Freda Theron, Jenine Boshoff en Barlodien Laubscher wat ook ter voorbereiding hand bygesit het om die sukses van die koortoer te verseker. Dit was beslis ‘n kollektiewe poging deur koorleerders, ouers en personeel – daarvoor is ek baie dankbaar en uiters trots!
|
|
|
|
Dit mag dalk voorkom of ek net aanhou spog, maar die suksesverhale stop nie net die afgelope naweek by die koor nie, aangesien ons o/10A-netbalspan op Dinsdagmiddag, 12 Augustus, goud tydens die WP-liga finale se uitspeelrondtes te Laerskool Edgemead gewen het. Hulle het teen Laerskole Vishoek, Edgemead en Somerset College gewen om tot die semi-finale teen Curro Durbanville te vorder, wat hulle met 8–5 gewen het. Hulle wen toe 9–3 in ‘n titaniese finale teen Laerskool Labiance, geleë in Bellville. Baie geluk aan die o/10A-netbalspelers en hul afrigters, juff. Lucia en Anika, met jul puik prestasie. Julle maak ons baie trots!
|
|
|
|
Op Dinsdag, 12 Augustus, is die saalboodskap deur ons 2025-hoofdogter en -hoofseun gelewer. Katryn Silvis en Nils le Roux het met hul eerste amptelike optrede as die nuwe hoofseun en -hoofdogter hul puik van hul taak gekwyt. Baie dankie aan Karlien en Jan Silvis (Katryn se ouers), en Althea en Simon le Roux (Nils se ouers) wat die simboliese aansteek van die hoofleierbalkies behartig het. My beste wense vergesel ons hoofleiers vir die groot taak wat op hulle wag.
|
|
|
|
Die afgelope week is daar sommer behoorlik gees gevang vir die afskop van die 2025-interskolenaweek wat vandag met hokkie teen Laerskool Dirkie Uys te Moorreesburg begin. Die Geesweek het met groot opwinding op Dinsdag, 12 Augustus, afgeskop met al die leerders wat blou skool toe moes dra en in oranje getooi op Woensdag, 13 Augustus. Ons eerste- en tweede skaakspanne het op Dinsdag, 12 Augustus, met die eerste interskole-wedstryde afgeskop en albei spanne het met die louere weggestap. Baie geluk aan ons skaakspanne en juf. Jua-Marie wat die 2025-interskole op ‘n hoë noot afgeskop het. Die hoogtepunt van die geesvang was natuurlik die ouers se wedstryde (raak-rugby, netbal en hokkie) agter op die nuwe kunsgrasveld teen die onderwysers wat op Woensdag, 13 Augustus, plaasgevind het. Die leerders het luidkeels hul ouers asook die onniespanne aangemoedig, maar dit tog moeilik gevind om te besluit vir watter span hulle nou eintlik moes ondersteun. Dit was groot pret en graag wil ek weer al die ouers hartlik bedank wat die tyd ingeruim het om aan die wedstryde deel te neem en in die proses dit baie spesiaal vir die leerders te maak. Die opwindende “Groot Brag” het op Donderdag, 14 Augustus, plaasgevind en die leerders het die spesiale interskole-video wat die personeel gemaak het, terdeë geniet. Die spesiale interskole-wense via video-boodskappe wat deur bekende sportsterre vir die Jannies gewys is, was nog ‘n groot hoogtepunt. Hulle was aangenaam verras dat sportsterre soos Pieter-Steph du Toit, Cheslin Kolbe, Deon Fourie, Manu Tshituka, Ryan Rickleton, Vincent Tshituka, Steven Kitshoff, Hacjivah Dayimani, Rickey Schreuder en Riley Norten vir hulle spesiale voorspoed toegewens het – die saal se dak het spreekwoordelik gelig toe die video’s gewys is.
|
|
|
Ek sluit dan week 4 af en wens vir julle ‘n voorspoedige interskolenaweek toe. Die Tiere wag vir ons – geniet elke oomblik saam met jou kind/ers in Moorreesburg. Onthou: wen is nie alles nie, maar wanneer ons wedstryde wen, bly ons nederig; en as ons verloor, vat ons dit op die ken, ons leer daaruit en hou aan om te verbeter. Sien baie uit om julle die naweek langs die sportvelde te Laerskool Dirkie Uys te sien en saam met julle die geleentheid te geniet.
|
Graag gaan ek voort om ons pragtige moedertaal te promoveer en sluit ek met nog ‘n bekende Afrikaanse uitdrukking af:
|
Ons het ‘n voëltjie hoor fluit
|
Die uitdrukking beteken dat ons ‘n storie of ‘n gerug gehoor het.
|
Vriendelike groete Naas Beets SKOOLHOOF
|
|
|
|
|
|
VIR AANDAG
|
|
Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Marinda Brink – 27 Julie 2025
|
Ek lees ‘n eeu oue verhaal van lewenswel en -weë, soos Laurika sing waar Japie Louw en Trudie de Waal Afrikaans as Moedertaal spoke jaag om ons taal amptelik te bewaar.
|
En waarheen al die woorde is, sal net Jannies kan verklaar. Afrikaans, ons taal - groei en vernuwe om nog ‘n 100 jaar amptelik te bly staan.
|
Japie, ons is jou dankbaar wat voet-by-stuk gehou het dat ‘n Jan van Riebeeck-kultuur fier en vors trots kan staan om liefde vir ons mooie taal met die ander elf Tale te deel.
|
LS JvR jou waardes geëets teen Tafelberg, Leeukop en Seinheuwel Respek Eerlikheid Verantwoordelikheid Omgee Lig omhoog jou heilsaamheid om kinders in wêreldburgers te omskep.
|
Voorwaarts vir Afrikaans – ons mooie taal vir nog eeue om te vier.
|
|
|
|
|
|
|
|
U word hartlik uitgenooi na 'n gesprek met Christien Neser, waar sy gaan gesels oor kinders wat "anders" is.
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Kom maak 'n draai by die boekuitstalling op 25-27 Augustus in die mediasentrum. Ouers is ook welkom om na skool saam met hul kinders te kom inloer.
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Hierdie kwartaal gaan ons iets besonders doen — ons gaan die onderwysers van ons buur-skool, Prestwich Primary, verras en bederf in hul personeelkamer!
|
Dié toegewyde onderwysers werk ongelooflik hard en ontvang min erkenning. Laat ons saam ’n verskil maak deur hulle te waardeer met lekkernye en ’n klein geskenkie.
|
Hoe kan jy help?
Maak ’n vrywillige donasie via die KarriApp – elke bydrae help ons om hierdie spesiale bederf moontlik te maak.
|
????️ KarriApp oop: 4 Augustus – 5 September 2025
|
|
Saam sê ons: Dankie, Juffrou! ❤️
|
|
|
|
|
|
|
|
???? Loslitdag is hier! ????
|
Wanneer: Vrydag, 5 September 2025
Tema: Beyond the Label
Koste: R20
|
Kom wys jou ware kleure op Loslitdag! Leerders mag op 5 September in sivvies skool toe kom — maar net as jy ‘n Loslit-plakker het!
|
Koop jou plakker vir slegs R20 op Karri en help om bewusmaking te skep oor die belangrikheid daarvan om mense nie volgens hul etiket te beoordeel nie.
|
|
Wees deel van die verandering — gaan beyond the label!
|
|
|
|
|
|
TERUGVOER
|
|
Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Ons o.13-skaakspan het Dinsdag die Interskole afgeskop en meegeding teen Laerskool Dirkie Uys. Die A-span het 5–1 gewen, en die B-span het ook weggestap met ’n wen van 3,5 teen 2,5. Hulle het die Tiere gewys wie baas is, en ons is ongelooflik trots op hierdie span wat aanhou hard werk en presteer.
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Hier volg die week se netbaluitslae:
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Hier volg die week se hokkieuitslae:
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Die senior koor het die afgelope naweek na George getoer om aan die Cantamus Nasionale Skole Koorfees en -kompetisie deel te neem. Die koor het vroeg Saterdagoggend uit Kaapstad vertrek en reeds Saterdagmiddag by ’n konsert in die George Burgersentrum gesing. Deel van die opwinding en spesiale belewenis was die geleentheid om na ander kore van regoor die land te luister. Die kompetisie het Sondagmiddag plaasgevind, en die koor het deelgeneem in die kategorie vir laerskoolkore. Ons senior koor het vier liedere gesing, waaronder die bekende Afrikaanse kunslied “Malie, die slaaf, se lied” van S. le Roux Marais.
|
Die aand is afgesluit met ’n prysuitdelingseremonie waar ons aangewys is as die wenners in die kategorie vir laerskoolkore. Ons het ook ’n algehele derde plek behaal, met ’n gemiddelde persentasie van 85%. Ons is ongelooflik dankbaar vir die positiewe uitslag en verheug dat die leerders se harde werk en toewyding op hierdie manier beloon is. Dit was ’n trotse oomblik wat die koor vir altyd sal bybly.
|
’n Besonderse woord van dank gaan aan mnr. Leon Starker vir sy leiding en geloof in die koor. Ons koormammas verdien ook elk ’n massiewe “dankie” vir hul ondersteuning en hulp met die organisering en bestuur van die toer: Joanita du Toit, Thelma Janse van Rensburg, Louiza Rademan, Coreen Scholtz, Suzanne Jacobsz, Samantha le Roux en Catherine Lawson. Dankie ook aan al die ander ouers wat ons vergesel het – julle ondersteuning en omgee beteken baie. Elkeen se insette en hulp het ’n bydrae gelewer tot die koor se ongelooflike lekker naweek!
|
|
Baie geluk, senior koor! Ons is ongelooflik trots op julle harde werk, fokus en toewyding.
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Baie geluk aan die volgende leerders wat puik gevaar het by die hoërskool se kunstefees se voordrag-afdeling!
|
Christa-Bella Swart: A+
Elisabet Marais: A+
Chris Derksen: A+
Heike Louw: A+
Petronella Gouws: A+
Mika van der Walt: A+
Frannie Samuel: A+
Cornelia Opperman: A++
Jean-Jacques Rossouw: A++
Antjie Samuel: A+++
|
|
|
|
|
|
Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.
|
|
|
|
Klik HIER vir advertensies van die week
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Jy ontvang hierdie nuusbrief
|
|
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
|
|
|
|
|
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad
|
|
|
|
|
|