Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde: 30 Januarie 2026  

Ek glo dat julle ook verbaas is dat môre reeds die laaste dag van die eerste maand van die nuwe jaar is. Vir my voel dit asof die nuwe jaar skaars begin het en nou moet ons op Sondag vir Februarie-maand welkom heet. Weet nie of dit iets met ouer word te doen het nie, maar tyd vlieg net te vinnig verby. Tyd het ook ’n magiese kwaliteit, veral as ’n mens met ’n opwindende taak of projek besig is, waarvan jy hou. Geniet dus wat jy doen. Dit is presies waar ek, as skoolhoof, my tans in my loopbaan bevind – ek geniet elke oomblik terdeë by die skool.

Ek het ook op dag een van die nuwe akademiese jaar vir die personeel tydens ons eerste personeelvergadering gesê dat dit belangrik is dat ’n mens jou werk moet geniet, want dan voel dit nie soos werk nie, maar eerder meer as ’n roeping. Ek glo dat mense wat van hulle werk hou, geneig is om meer optimisties te wees, meer gemotiveerd, leer vinniger, maak beslis minder foute en maak beslis beter besluite.

Die probleem met tyd is egter dat dit vir niemand wag nie. Indien jy dus vanjaar beplan om nog iets spesiaal te doen of dalk moet jy nog iemand vergewe of om verskoning vra, moenie te lank wag nie, doen dit sommer onmiddellik. Ek bly maar altyd verstom dat sommige mense in dieselfde tydperk berge kan versit terwyl ander absoluut uitstel en bitter min vermag. Mag ons die kosbare tyd wat ons in 2026 gegun word, effektief en met balans aanwend.

Graag wil ek almal hartlik bedank vir al die mooi verjaardagwense en pragtige geskenke wat julle saam met jul kinders vir my gestuur het. Ek is op Woensdag, 28 Januarie, tot in die afgrond deur die leerders, leerderraad en personeel bederf. Ek wens julle kon die spesiale dag by die skool saam met my beleef het. Dit was so kosbaar. Die leerders se opregte omgee, deernis, spontaneïteit en kreatiewe verjaardagwense sal ek vir altyd koester.
Week 3 van die nuwe kwartaal is behoorlik vol opwinding met beide my en die skool se verjaardag op Saterdag, 31 Januarie! Vandag is die opwinding nog groter met die viering van die skool se 105de bestaansjaar. Leerders gaan vir die tweede keer die week bederf word, maar hierdie keer met ’n heerlike kolwyntjie wat deur een van ons ouers geborg is. Dankie ook aan diegene wat 'n addisionele kolwyntjie tot die klaspartytjies geskenk het.

Die stigting van ons trotse skool is alles te danke aan die jongeheer, Japie Louw. Hierdie jongeheer het meer as ’n eeu gelede net eenvoudig geweier om in Engels skool te gaan en dit het tot die stigting van Laerskool Jan van Riebeeck gelei. Soos Japie en nog menigte wat na hom gevolg het, het hy vinnig ontdek dat hierdie besondere skool baie meer as net geleerdheid bied.

Hier ontdek jy jouself! Hier leer jy wat dit beteken om net jouself binne ’n veilige omgewing met gekoesterde waardes te wees. Mag Laerskool Jan van Riebeeck vir nog ’n 105 jaar voortbou op sy reuse suksesse en ryke tradisie waar ’n waardegedrewe omgewing gekoester word sodat ’n kind nog kind kan wees terwyl hulle leer.

Tans is die Gr. 4–7-leerders besig om gedigte te skryf ter viering van ons skool se 105de verjaarsdag, maar graag deel ek die volgende gedig wat deur mnr. André Lourens geskryf is:

Honderd-en-vyf jaar van Afrikaans in die Stad(teland)
Honderd-en-vyf jaar van sinvol rebelleer
Van wees jouself en aanhou probeer
Van drome droom in die Kaapse skiereiland
hand aan hand
voet by stuk
en beste voetjie voor

Honderd-en-vyf jaar van aansit vir familie-etes by
Die rotstafel gedek met mooie wolk linne
Borde vol Afrikaans wat ons voed
Ons herkoms wat in ons skottelgoed woed
geen een dink hy is kaas, baas of Klaas
geen pap op die grond
geen mosterd na die maal
Dankie Japie en Trudie
Dankie vir aanhou, toe ander sê "Moenie!"

Julle het moontlik gedink dat mnr. André net ’n goeie onderwyser en rugbyafrigter is, maar hier stel hy net nog een van sy verskuilde talente ten toon. Baie dankie, mnr. André, jy maak ons baie trots.

Op Saterdag, 24 Januarie, het ons vir die derde agtereenvolgende jaar die gewilde Ouer-en-Kind-sportdag vanaf 08:30 by die Conradieveld aangebied. Die opkoms van ouers en kinders was ’n riem onder die hart. Die weer het absoluut saamgespeel om ’n perfekte dag in die buitelug te spandeer. Die opwinding en gees was aansteeklik en almal het hul gate uit geniet.

Dit was dan ook ’n ideale geleentheid vir leerders, ouers en personeel om sommer lekker kollektief gees te vang, behoorlike oefening te kry en die jaar op ’n hoogtepunt af te skop. Groot dankie aan die personeel wat as beamptes opgetree het, asook die snoepieverkope op die dag behartig het. Welgedaan, mnre. Leon en Rashard, met die puik Ouer-en-Kind-sportdag propvol pret.
Die afgelope week het ons ook met liga-wedstryde vir krieket- en tenniswedstryde begin. Vanmiddag geskied die eerste swemgala te Laerskool Kampsbaai. Die somersportprogram en –wedstryde is dus in volle swang en my beste wense vergesel al ons leerders en afrigters.

Die o.12- en o.13-netbaldogters het baie vroeg op Donderdagoggend, 29 Januarie, na Drie Susters vertrek waar hulle aan ’n netbalkamp deelneem wat deur die bekende Patrys van der Merwe (voormalige Protea-speler) op die plaas Elandsfontein aangebied word. Baie dankie aan juff. Ischké en Sharon, asook mnr. Dian, wat die dogters vergesel.

Hiermee gaan ek voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer:

“iemand die harnas injaag”

Die uitdrukking word gebruik om iemand baie kwaad te maak. ’n Harnas was lank gelede deel van ’n ridder se wapenrusting in ’n geveg. Wanneer ons dus vandag sê jy jaag iemand die harnas in, maak jy hom/haar so kwaad dat hy/sy sommer gereed is om te baklei.

Mag julle ’n wonderlike naweek saam met jul vriende en gesin geniet.

Groetnis

Naas Beets
SKOOLHOOF

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

AKADEMIE

STUDIEKURSUS: Kwartaal 1, 2026

Leerders word volgens hulle grade in groepe ingedeel. Die groepe bestaan uit 8–10 leerders per groep en kom een keer per week vir 45 minute bymekaar. Leerders gaan vir 7 weke gratis studie-ontwikkeling ontvang. U kan ’n e-pos aan Marietjie de Kock (marietjie@jvrprim.co.za) stuur om vir u kind ’n plek te bespreek.

Die studie-ontwikkeling bestaan uit die volgende:

  1. Beplanning vir die kwartaal en doelwitstelling
  2. Hersiening van verskillende opsommings
  3. Luister- en konsentrasievaardighede
  4. Geheue-oefeninge
  5. Beantwoording van toetse en eksamens
Die kursus begin die week van 26 Januarie. Hier is die tye en datums vir die onderskeie grade.

KULTUUR

Senior Koorkamp: 6 - 7 Februarie

Dit is weer daardie tyd van die jaar en die senior koor se jaarlikse koorkamp is om die draai!

SKEDULE

Vrydag, 6 Februarie:
  • Middagete voorsien deur die skool: 14h00-14h20
  • Oefen: 14h20 - 17h45
  • Piekniek op die skoolveld vir alle koorlede en -ouers: 18h00 - 19h00
Saterdag, 7 Februarie:
  • Oefen: 09h00 - 14h00
  • Ons voorsien:
    • Waatlemoen vir peuselhappie
    • Boereworsrolle vir middagete
  • Leerders pak genoeg water en peuselhappies in.
  • Kampkonsert vir ouers: 14h15 - 14h30
Kom kuier saam by ons senior koorpiekniek op Vrydag, 6 Februarie, vanaf 18h00 - 19h00. Ons nooi ook alle ouers uit om Saterdagmiddag, 7 Februarie, ’n kort kampkonsert in die skoolsaal by te woon.
Die koorkamp is verpligtend vir alle senior koorlede. Indien iemand nie die koorkamp kan bywoon nie, moet juf. Rolene asb in kennis gestel word.
Groete,
Rolene

ALGEMEEN

KENNISGEWING VAN TUSSENTYDSE BEHEERRAADSVERKIESING 2026

Beste Ouers/Voogde
Twee ouer-lede van die Beheerraad het aan die einde van 2025 van die Beheerraad bedank. Susan van der Walt (Tesourier) het bedank en Marié Cruywagen se jongste kind het graad 7 voltooi.
Dus moet die twee vakatures gevul word. Ons het reeds laasjaar pro-aktief opgetree en die volgende twee persone op die Beheerraad gekoöpteer en hulle het hulself vanjaar weer verkiesbaar gestel:
  • Oloff Sieberhagen
  • Sybil Müller (Tesourier).
Wie mag 'n ouer benoem:

‘n Ouer van 'n leerder van ons skool, wie se naam op die kieserslys van die skool is, mag enige ander ouer van 'n leerder wat die skool bywoon wie se naam op die keiserslys van die skool is benoem, of sodanige ouer se benoeming sekondeer, deur 'n voltooide benoemingsvorm teen nie later nie as 04 Februarie 2026 teen 12:00 by die skool af te lewer. Benoemingsvorms is by ontvangs (Adri) beskikbaar.

'n Aanlyn verkiesing (VotingCrowd) sal op Maandag, 16 Februarie 2026, vanaf 06:00 – 18:00 gehou word, indien daar meer as die twee bogenoemde kandidate genomineer word.

Sien asseblief die kennisgewing van die aanlyn tussenverkiesing hier onder. Meer inligting rakende die tussenverkiesing sal volg.

Baie dankie vir jul aandag.

Groetnis
Naas Beets | Skoolhoof

Welwillendheidsprojek: Kwartaal 1, 2026

Hier is hoe jy hierdie kwartaal 'n verskil kan maak:

Motorplakkers: 'n Vereiste

Alle motors wat op die perseel kom, moet 'n plakker in die motorvenster hê. Plakkers kan by ontvangs teen R10 'n plakker gekoop word .

Die Boekbende: Nuwe Boekklub!

Ons is opgewonde om aan te kondig dat ’n nuwe boekklub, Die Boekbende, by ons skool begin!

Die boekklub vind elke eerste Woensdagoggend van die maand, voor skool vanaf 07:15 tot 07:45 in die mediasentrum plaas.
Leerders in Graad 4–7 wat lief is vir lees en stories, is welkom om aan te sluit.


Vir meer inligting kan leerders gerus met die mediasentrummonitors gesels.

Sosiale media gesprek met Carla de Beer

Kom sluit aan by die gesprek oor kunsmatige intelligensie en sosiale media met Carla de Beer. Sien meer inligting hier onder:

Valentynsdag: Verkope & Sivvies

Kom maak 'n draai by die Valentynsdagverkope!
Sien meer inligting hier onder:

Gholfdag: 19 Maart 2026

Sien meer inligting oor die 2026 Gholfdag hier onder:

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

JANNIES VAN DIE WEEK

SPORT

Krieketuitslae: 26-29 Januarie 2026

Sien die week se krieketuitslae hier onder:

Tennisuitslae: 28 Januarie 2026

Sien die week se tennisuitslae hier onder:

Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad