Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 23 Januarie 2026

Ek is so opgewonde om die jaar saam met die leerders, julle en die personeel af te skop. Ek kan bevestig dat alle skoolaktiwiteite met die aanvang van die 2de week van die nuwe kwartaal in volle swang is en alles verloop klopdisselboom.

Op Vrydag, 16 Januarie, het die senior swemgala (Gr. 4–7) plaasgevind. Die weer het nie heeltemal saamgespeel nie, maar tog het die swemmers dit terdeë geniet terwyl hulle luidkeels deur die leerders, ouers, oumas en oupas, asook die personeel aangemoedig is. Baie geluk aan die volgende swemmers wat as die junior- en senior swemmers vir die jaar na afloop van die gala aangewys is:

Junior dogter (Gr. 4 & 5): Anouk Jacobsz
Junior seun (Gr. 4 & 5): Lukas Loubser
Senior dogter (Gr. 6 & 7): Ellen van Heerden
Senior seun (Gr. 6 & 7): Daniel van der Bergh
Verder het die buitemuurse program amptelik op Maandag, 19 Januarie, volstoom afgeskop. Dit sluit ook musieklesse en kooroefeninge in. Baie dankie aan al die ouers/voogde vir julle aandeel om jul kinders te motiveer om vanjaar weer aktief aan skoolsport en/of kultuuraktiwiteite deel te neem en dit saam met hul maats te geniet.

Baie geluk aan die volgende leerders (alfabeties) wat op Dinsdag, 20 Januarie, tydens die saalbyeenkoms hul leerderraadbalkies amptelik ontvang het:

Anabella Boshoff
Dane Botha
Chris Derksen
Jacques du Toit
Jamie Jordaan
Bella Naylor
Jana Nel
Mila Malan
Ghia Pereira
Pieter Rademeyer
Cato Terblanche
Lily van Zyl
My hartlike dank aan hul trotse ouers wat die spesiale geleentheid bygewoon het om die tradisionele aansteek van hul onderskeie balkies te behartig. My beste wense vergesel die 2026 leerderraad vir die belangrike rol wat hulle vanjaar as leerderleiers by ons skool speel.

Graag wil ek al ons ouers/voogde wat die gewilde inligtings- en bekendstellingsaand op Donderdag, 22 Januarie 2026, bygewoon het, hartlik bedank. Laat my toe om ons OOV-voorsitter, Susan Derksen, en haar span hartlik te bedank vir die puik reëlings en harde werk wat die sukses van die aand verseker het. Die samesyn was kosbaar en die ‘lekker gees’ onder die ouers/voogde was amper tasbaar. Die doel van die aand was natuurlik om inligting oor jou kind/ers se nuwe graad aan julle oor te dra, asook om die personeel bekend te stel. Ek dink almal stem saam dat die funksie absoluut die regte geleentheid was om die jaar op ’n hoogtepunt af te skop. Ek glo ouers/voogde het ook die geleentheid gebruik om mekaar sommer beter te leer ken, veral die graad 1-ouers asook al die nuwe ouers, om daardeur nuwe vriendskappe te bewerkstellig.

Die pret en samesyn vir die week het egter nie by Donderdagaand gestop nie; dus glo ek dat ek môreoggend almal weer tydens die ouer- en kindsportdag by die Conradieveld sal sien. Ouers/voogde en leerders word vanjaar weer in spanne van 5 lede gedeel wat bestaan uit 2 volwassenes en 3 kinders. Daar sal vanjaar weer aan sokker, raak-rugby, “pickle ball” en veldnetbal deelgeneem word. Hier is dus die ideale geleentheid om jou balvaardighede ten toon te stel en in die proses ’n wonderlike dag saam met jou kind/ers en ander ouers/voogde te geniet. Indien jy bekommerd is oor ’n moontlike besering, gaan ons spesiaal voorsiening van professionele noodhulp maak. Daar sal ook heerlike koffie, smaaklike eet- en drinkgoed te koop wees. By voorbaat dankie dat julle die dag gaan ondersteun. Groot dankie aan die personeel wat as beamptes gaan optree en die snoepieverkope gaan hanteer.

Graag wil ek ook van die geleentheid gebruik maak om Hoërskool Jan van Riebeeck, asook Pieter Rademeyer en sy personeel, hartlik geluk te wens met hul pragtige 2025 matriek­uitslae. Baie geluk ook aan Hoërskool Jan van Riebeeck wat vanjaar sy honderdste bestaansjaar gaan vier. Ons wens vir julle nog ’n eeu van akademiese uitnemendheid en sukses toe!

Hiermee gaan ek voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer:

“van ’n padda probeer vere pluk”

Die uitdrukking word gebruik om na iets te verwys wat onmoontlik is, of indien iemand die onmoontlike probeer doen.

Ek sien baie uit om julle môreoggend by die ouer- en kindsportdag te ontvang en om saam met jul kinders en vriende hope pret te geniet. Mag julle ’n wonderlike naweek saam met jul vriende en gesin geniet.

Groetnis
Naas Beets
SKOOLHOOF

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

AKADEMIE

STUDIEKURSUS: Kwartaal 1, 2026

Leerders word volgens hulle grade in groepe ingedeel. Die groepe bestaan uit 8–10 leerders per groep en kom een keer per week vir 45 minute bymekaar. Leerders gaan vir 7 weke gratis studie-ontwikkeling ontvang. U kan ’n e-pos aan Marietjie de Kock (marietjie@jvrprim.co.za) stuur om vir u kind ’n plek te bespreek.

Die studie-ontwikkeling bestaan uit die volgende:

  1. Beplanning vir die kwartaal en doelwitstelling
  2. Hersiening van verskillende opsommings
  3. Luister- en konsentrasievaardighede
  4. Geheue-oefeninge
  5. Beantwoording van toetse en eksamens
Die kursus begin die week van 26 Januarie. Hier is die tye en datums vir die onderskeie grade.

ALGEMEEN

KENNISGEWING VAN TUSSENTYDSE BEHEERRAADSVERKIESING 2026

Beste Ouers/Voogde
Twee ouer-lede van die Beheerraad het aan die einde van 2025 van die Beheerraad bedank. Susan van der Walt (Tesourier) het bedank en Marié Cruywagen se jongste kind het graad 7 voltooi.
Dus moet die twee vakatures gevul word. Ons het reeds laasjaar pro-aktief opgetree en die volgende twee persone op die Beheerraad gekoöpteer en hulle het hulself vanjaar weer verkiesbaar gestel:
  • Oloff Sieberhagen
  • Sybil Müller (Tesourier).
Wie mag 'n ouer benoem:

‘n Ouer van 'n leerder van ons skool, wie se naam op die kieserslys van die skool is, mag enige ander ouer van 'n leerder wat die skool bywoon wie se naam op die keiserslys van die skool is benoem, of sodanige ouer se benoeming sekondeer, deur 'n voltooide benoemingsvorm teen nie later nie as 04 Februarie 2026 teen 12:00 by die skool af te lewer. Benoemingsvorms is by ontvangs (Adri) beskikbaar.

'n Aanlyn verkiesing (VotingCrowd) sal op Maandag, 16 Februarie 2026, vanaf 06:00 – 18:00 gehou word, indien daar meer as die twee bogenoemde kandidate genomineer word.

Sien asseblief die kennisgewing van die aanlyn tussenverkiesing hier onder. Meer inligting rakende die tussenverkiesing sal volg.

Baie dankie vir jul aandag.

Groetnis
Naas Beets | Skoolhoof

Klik op die knoppie om die kennisgewing te sien:

Motorplakkers: 'n Vereiste vanaf 02 Februarie 2026

Alle motors wat op die perseel kom, moet 'n plakker in die motorvenster hê. Plakkers kan by ontvangs gekoop word teen R10 'n plakker.

Mediasentrum Tye

Die skool se mediasentrum is oop vir die uitneem van boeke tydens tweede pouse op Dinsdae en Donderdae.
Die mediasentrum is verder beskikbaar van Maandag tot Woensdag vanaf 14:10 tot 15:15, waar leerders welkom is om te lees, boeke uit te neem, huiswerk te doen of te leer.
Leerders mag slegs een boek op ’n slag uitneem. ’n Terugkeerdatum word voorin die boek gestempel en boeke moet op of voor die aangeduide datum terugbesorg word. Indien ’n boek reeds uitgeneem is, kan leerders hul naam op die Boekbesprekingslys plaas om die boek te reserveer sodra dit beskikbaar is.

Boekgroete uit die Mediasentrum!

WhatsApp-Gemeenskap

Sluit nou aan by ons WhatsApp-gemeenskap! WhatsApp is ons hoof vorm van kommunikasie met ouers. Maak asseblief seker dat jy op alle relevante groepe is.

Gebruik hierdie skakel om by die WhatsApp-gemeenskap aan te sluit:

https://chat.whatsapp.com/Lmxgmk8IQNHFl9w2N4VnMY

Ons nooi jou uit om by die volgende groepe aan te sluit:

  • Nuusbrief
  • Advertensies (opsioneel)
  • Verlore Goedere (opsioneel)
  • Tweedehandse Skoolklere (opsioneel)
Soek asseblief jou kind se graadgroep sowel as klasgroep, byvoorbeeld:

  • Graad 6 2026 (Ls JvR)
  • Graad 6DV 2026 (Ls JvR)
Sluit ook aan by die sport- en kultuurgroepe waarin jou kind betrokke is, sowel as die toepaslike ouderdomsgroepe vir elke sportsoort.

Vir enige navrae, kontak vir Megan by megan@jvrprim.co.za

Skoolkalender skakels

Sluit aan by ons skoolkalender om op hoogte te bly van belangrike datums en gebeure by die skool. Graad 4-7 het hul eie take- en toetsrooster-kalenders, en ouers kan daarby inskakel om seker te maak hulle bly op hoogte. Vir meer inligting en om aan te sluit, besoek gerus die volgende skakel: Skoolkalender

Roomysverkope: Graad 7-fondsinsameling

Hokkie en Netbal vir Ouers

Daar is 'n netbal- asook 'n hokkiegroep vir ouers wat op Dinsdag- of Donderdagaande by die skoolgronde lekker saam speel. Skandeer die QR kode vir die WhatsApp-groepe of kontak ons gerus vir meer inligting.

Hokkie
Annemarie Kemp
082 808 8681

Netbal
Tanja de Korte
072 744 7993

Kwartaal 1 se bedrywighede

Om by ‘n nuwe skool betrokke te raak, verg soms kophou om belangrike inligting nie mis te loop nie. Ons help graag deur hierdie kort opsomming as induksie te gebruik totdat jy vertroud is met die kalender, weeklikse nuusbrief en al die ander doen en late van ons skool.
Die doel hiermee is nie om enige ander dokument te vervang nie, maar eerder om onnodige angs en onsekerhede uit die weg te ruim.

Klik op die knoppie hier onder om belangrike datums en kontakbesonderhede te sien:

Karri-Kaart Bestellings

Indien jy nog nie 'n Karri-kaart bestel het nie en graag een wil hê, kan jy direk deur hul webtuiste vir jou kind 'n kaart bestel. Jy kan jou eie adres gebruik vir aflewering of jy kan dit by die skool laat aflewer.

Volg hierdie skakel om 'n kaart te bestel: KARRI KAART

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

JANNIE VAN DIE WEEK

SPORT

Swemgala: Finale uitslae

Klik op die knoppie hier onder vir die volledige uitslae:

JANNIES GESPREKKE

Insigte, wenke en kundige leiding vir ouers wat hul kinders se groei en welstand wil bevorder.

Verstaan ADHD: 'n Gids vir ouers

ADHD word as een van die mees algemene neurodiverse uitdagings beskou. Dit kom in kinders en volwassenes voor en word die meeste van die tyd verkeerd verstaan. Heelwat ouers dink steeds dat ADHD net oor ’n kind se konsentrasie gaan, maar navorsing oor jare heen bewys dat dit baie meer kompleks is.

Sien die volledige gids wat ouers en opvoeders help om ADHD beter te verstaan, vroeër te identifiseer en uiteindelik hoe om ons kinders met selfvertroue en deernis te ondersteun.

Alle dank en eer aan Goldilocks and The Bear Foundation wat hierdie inligting met ons deel.

Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad