Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 07 November 2025  

Ek hoop en vertrou dat dit met almal in ons skoolgemeenskap goed gaan, veral dié tyd van die jaar (ook bekend as die “silly season”) waar ons nog so baie persoonlike en/of werkstake moet afhandel en sperdatums moet eerbiedig onder baie druk voordat die langverwagte Desembervakansie vir almal welverdiend aanbreek.

Volgende week, op Maandag, 10 November, begin die finale eksamen vir die Gr. 7’s. Die assesserings vir die grondslagfase is reeds vanaf Maandag, 3 November, volstoom aan die gang. Ons grondslagfase-onderwysers hanteer die finale assesserings op ’n deurlopende basis, wat beslis help om die assesseringsangs by ons leerders te verminder. Soos julle weet, mag ek mos nie eintlik die “E-woord” gebruik nie aangesien die WKOD dit assesserings as kontroletoets beskou, maar op Donderdag, 13 November, begin die Gr. 4–6-leerders ook met hul eksamen, en wens ek al ons leerders, ouers/voogde, tutors, fasiliteerders en personeel voorspoed toe.

Eksamen verhoog ongelukkig stres- en angsvlakke by leerders, en dit filter ook dikwels deur na die huisgesin. Graag versoek ek julle as ouers/voogde om ons as onderwysers te help om die stresvlakke en spanning tydens die eksamen/assessering te help bestuur sodat dit nie die oorhand kry nie. Stres as gevolg van enige eksamen laat die meeste mense snak na hul asem, maar dit is ’n natuurlike reaksie, en as dit reg aangewend en bestuur word, kan dit ook voordelig wees om ons leerders vir hul hoërskoolloopbaan asook volwasse lewe voor te berei.

Graag neem ek die vrymoedigheid om die volgende wenke aan julle as ouers/voogde voor te stel wat jou kind/ers se eksamenstres — en moontlik jou eie angstigheid daaroor — hok sal slaan:
  • Help jou kind/ers asseblief om betyds voor te berei. Stel betyds ’n studierooster saam met jou kind/ers op wat jou kind/ers genoeg tyd sal gee om die werk baas te raak, maar ook tyd om te ontspan en vroeg saans in die bed te spring sodat hulle genoeg slaap kan kry. Handhawing van ’n roetine is altyd ’n wenner!
  • Skep ’n rustige en ontspanne atmosfeer, vry van stressors vir jou kind/ers om te leer.
  • Skep ’n toegewyde studieruimte met behoorlike beligting en vry van geraas.
  • Skep ’n emosionele band met jou kind/ers, sodat hulle nie voel dat hulle die eksamenpad alleen stap nie. Vra vir hulle daagliks hoe die eksamen/assessering was, en dit is belangrik om positiewe woorde uit te spreek deur byvoorbeeld ter ondersteuning die volgende te sê: “Dit sal goed met die eksamen gaan, want jy het goed voorberei.” Laat hulle verstaan dat julle vir hulle nog steeds baie lief sal wees, ongeag die uitslae, en hulle beslis nie op grond daarvan sal beoordeel nie.
  • Help jou kind/ers om ’n gewoonte aan te kweek dat hulle die regte skryfbehoeftes en toerusting vir die eksamendag skool toe pak.
  • Vermy asseblief gejaagdheid en om jou kind/ers op die nippertjie soggens voor die eksamen/assesserings by die skool af te laai, want dit maak leerders ongelooflik angstig.
Op Maandag, 3 November, het die jaarlikse begrotingsvergadering met ouers om 18:00 in die saal plaasgevind. Ek was aangenaam verras met die opkoms van ouers/voogde tydens die vergadering. Baie dankie aan die 93 ouers/voogde wat die vergadering bygewoon het. Ons volg altyd ’n deursigtige proses met die begroting, en ek glo dit was ’n insiggewende sessie vir ouers/voogde rakende die finansiële bestuur van die skool, asook om te sien waarvoor julle skoolgelde jaarliks aangewend word. Die 2026-begroting en verhogings van skoolfooie is soos volg deur ouers/voogde goedgekeur:

Laerskool:
Gr. 1–3 = R46 385 per leerder
Gr. 4–7 = R47 780 per leerder

Huppelland:
Gr. R = R51 100 per leerder
Gr. 0 & 00 = R49 900 per leerder

Baie dankie aan ons Finansiële Bestuurder, Liesel Hammond, ons Tesourier, Susan van der Walt, asook ons BR-voorsitter, Merwe Scholtz, vir jul kosbare tyd en harde werk om ’n uitstekende en effektiewe begroting vir finale goedkeuring te kon voorlê. Weereens baie dankie aan die ouers/voogde wat die belangrike vergadering bygewoon het.

Ons jaarlikse Gr. 4-inligtingsessie met ons huidige gr. 3-ouers het op Dinsdagaand, 5 November, om 18:00 in die saal geskied. Die doel van die inligtingsessie is om aan die huidige gr. 3-ouers te verduidelik wat gr. 4 asook die nuwe fase (Intermediêre fase) behels. Dit sluit onder andere die nuwe gr. 4-vakke in, voorstellings aan die verskillende onderwysers wat die vakke onderrig, die volg van ’n ruilrooster vanaf 2026, gebruik van MS Teams, eksamens, asook om hul voor te berei vir hul kind/ers se oorgang na gr. 4. Ouers is dikwels meer angstig as hul kind/ers wat na ’n volgende fase beweeg. Ek wil graag vir juf. Marianne (graadhoof) en haar span hartlik bedank vir die puik en insiggewende aanbieding.
Op Woensdagoggend, 5 November, het ons ’n spesiale Opedag vir ons 2026 gr. 1’s gehou om hulle by die skool te verwelkom en vroegtydig te oriënteer sodat die transisie vanaf gr. R na gr. 1 soomloos kan geskied, sonder onnodige trane. Hulle is dan ook aan hulle nuwe juffrouens vir 2026 voorgestel, en hulle het ook die geleentheid gekry om die skool se nuwe gelukbringer, BRUL-JANt, in die nasorgparkie te ontmoet. Dit het tot groot opwinding gelei, terwyl hulle heerlik op die springkastele baljaar het. Ons het besluit om dinge hierdie jaar anders te doen deur die voornemende gr. 1-ouers dieselfde aand in die skoolsaal toe te spreek om vir hulle ook so goed moontlik op hul laerskoolreis voor te berei. Ek is baie dankbaar vir Nicola Potter (graadhoof) en haar span wat hierdie dag so spesiaal gemaak het.
Sportaktiwiteite vir Gr. 4–7 kom dan dié week ook tot ’n einde met die eksamen wat op hande is. Gr. 1–3-leerders gaan volgende week, 10 tot 11 November, voort met hul normale buitemuurse sportprogram, maar vanaf 12 November sal hul sportoefeninge egter vir die res van die week in skooltyd geskied, aangesien die hele skool vanaf 12 November vroeër (13:15) as gevolg van die eksamen verdaag. Vanaf 17 November sal ons weer ’n interne sportprogram vir alle leerders daagliks binne skooltyd volg, direk net na afloop van die betrokke eksamen op die dag.

Daar word hoofsaaklik op atletiek gefokus, aangesien die jaarlikse interhuis-atletiek op Woensdag, 3 Desember (velditems) en Vrydag, 5 Desember (baanitems en optogte) plaasvind. Hierdie interne sportoefeninge binne skooltyd is egter vrywillig. Ek glo dat die leerders dit terdeë sal geniet om net na afloop van ’n eksamen- of assesseringsessie sport te kan beoefen. Dit sal beslis help om die angstigheid van eksamen/assesserings te verminder, asook om net ’n bietjie asem te skep na ’n lang skryfsessie.

Graag wil ek dan al ons onderwysers en afrigters wat die afgelope jaar die spreekwoordelike ekstra myl gestap het om sport by ons skool te ontwikkel, hartlik bedank. Ons skool se uitstekende sportprestasie die afgelope jaar spreek boekdele van die harde werk en toewyding deur ons personeel, maar sluit ook die lojale ondersteuning van julle as ouers/voogde in om week in en week uit al die wedstryde, toernooie, byeenkomste en galas by te woon.

Baie dankie dat julle as ouers/voogde ons skool se sportontwikkeling komplimenteer deur tyd op te offer en logistieke planne te maak om die sportaktiwiteite by te woon en jul kind/ers te ondersteun – dit is kosbaar!

Dit is dan, soos die vorige weke, my voorreg om verder voort te gaan om ons pragtige moedertaal te promoveer en sluit ek met nog ’n bekende Afrikaanse uitdrukking af:

“Husse met lang ore”

Die uitdrukking verwys daarna om op ’n nuuskierige persoon se vraag te reageer sonder om die vraag te beantwoord. Die uitdrukking word dikwels gebruik om ’n nuuskierige kind/ers te antwoord.

Geniet ’n wonderlike naweek saam met jul gesinne, en mag die Bokke spreekwoordelik die Franse Hane se stertvere die naweek behoorlik pluk.

Vriendelike groete
Naas Beets
Skoolhoof

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

AKADEMIE

Gr.4-7 Prysuitdeling: Aansoek vir spesiale toekennings

Alle gr.4-7 leerders wat tydens hierdie jaar besonderse prestasies behaal het óf veelsydigheid getoon het op sport- en kulturele gebied kan in aanmerking kom vir 'n spesiale prys by die prysuitdeling.

Voltooi asb. die aangehegte vorm en handig die vorm en afskrifte van bewyse van die prestasie(s) teen Vrydag, 21 November by juf. Lucia de Jager in.

'n Hardekopie van die vorm kan ook afgehaal word.

Eksamenrooster: November 2025

Sien die eksamenrooster vir November 2025 hier onder:

KULTUUR

Ouer koor optrede by LS JvR-Kerskonsert

Ons nooi graag die ouers van ons junior en senior koorlede uit, om deel van die ouer koor te wees wat tydens ons kerskonsert op 27 November gaan optree. Kom deel in die vreugde van samesang tydens Kerstyd!

Die repetisietye is as volg:

Dinsdag, 18 November, om 18h30 - 19h30
Vrydag, 21 November, om 18h30 - 19h30
Dinsdag, 25 November, om 18h30 - 19h30

Ons moedig almal aan om al drie oefeninge by te woon, maar verstaan heeltemal as jy slegs by twee kan wees. Kom sing steeds saam!

Indien jy graag deel wil wees van hierdie besonderse ervaring, gaan loer gerus op die junior en senior kore se WA-groepe vir die skakel wat jou na die vorm sal neem.

Kontak vir Rolene van Zyl by rolene@jvrprim.co.za indien daar enige verdere vrae is.

Kwartaal 4 Kooroptredes

Daar lê ’n opwindende kwartaal vir ons kore voor, met optredes by verskeie geleenthede. Maak ’n aantekening in jou dagboek, en hou ons WhatsApp-groep vir verdere inligting dop:

Donderdag, 27 November (Junior en Senior Kore)
* Laerskool Jan van Riebeeck Kerskonsert

Sondag, 30 November (Junior en Senior Kore)
* NGK Tamboerskloof Kerkdiens

Kontak gerus vir juf Rolene met enige vrae.

Kerskonsert - Donderdag, 27 November 2025

Kom geniet ’n betowerende aand vol musiek en feesvreugde tydens ons jaarlikse LsJvR Kerskonsert!

???? Datum: Donderdag, 27 November
???? Tyd: 19:00
???? Kaartjies: R50 (beskikbaar op Karri)

BARBARA SCHREUDER DANSSKOOL

Ons dansskool bied verskeie genres van dans aan!
Hierdie naweek is dit Ballet se beurt, en ons jaarlikse American Academy of Ballet "Performance Awards" vind op Sondag, 9 November 2025, om 10vm by LS JvR plaas.
Ons beoordelaars is Iain McDonald van Joburg Ballet in Johannesburg en Laurence Kaplan, Direkteur van AAB in New York.
Ons oulike dansers is reeds baie opgewonde! Dis ’n wonderlike geleentheid om aan ’n internasionale program deel te neem met pragtige, voorgeskrewe werke. Alhoewel al ons dansers AAB-opleiding ontvang, is deelname nie verpligtend nie. Ons is trots op die dansers wat gaan deelneem en ons dansskool verteenwoordig.
Break a leg!

Deelnemers:
  • Gr 1: Heike Louw en Ada Uys
  • Gr 2: Mila Maree, Emily Theron, Isabella Robinson, Cornelia Opperman en Emma Wilke
  • Gr 4: Mika van der Walt en Christa-Bella Swart
  • Gr 5: Heidi van Heerden en Natalie Lawson
  • Gr 6: Solange Stevens
  • Gr 7: Ella Grey en Gabi Buckenham
  • Gr 9: Kerala Allewell en Karlien van der Walt
  • Gr 10: Lara Basson
Kom ondersteun ons gerus! Almal is welkom, en jong en oud sal dit geniet: pragtige musiek, stylvolle choreografie en talentvolle dansers.

Groete,
Juf Barbie

ALGEMEEN

Kersdonasies vir JvR-personeel

Indien jy graag ’n kersdonasie deur Karri vir die terrein-, nasorg- en/of snoepiepersoneel by die laerskool wil maak, is jy baie welkom om 'n bydrae te lewer.

Die Karri-insameling maak binnekort oop — hou asseblief die toep vir meer besonderhede dop.

Baie dankie vir julle ondersteuning en ruim harte!

Mediasentrum Kennisgewing

Leerders sal ongelukkig vanaf 7 November 2025 nie meer boeke mag uitneem nie, maar is meer as welkom om tydens tweede pouse op Dinsdae en Donderdae in die mediasentrum te kom lees of ontspan met ’n boek. Kom geniet steeds ’n bietjie leespret!

Jan Kas ure tydens eksamen

Neem asseblief kennis dat Jan Kas aangepaste tye sal hê gedurende die eksamen.

Hierdie tye sal vanaf Donderdag, 13 November gevolg word.

Maandag & Woensdag - 7:00 - 8:00
Dinsdag en Donderdag - 12:30 - 13:30

Jan Kas sluit: 27 November 2025

Ons skoolklerebank, Jan Kas, sal op Donderdag, 27 November 2025, om 10:00 vir die jaar sluit vir voorraadopname.

Ons vra vriendelik dat ouers en leerders asseblief alle nodige skoolklere voor hierdie tyd aankoop, aangesien geen verkope ná hierdie datum hanteer kan word nie.

Baie dankie vir julle begrip en samewerking.

JvR-Ondersteunersdrag is hier!

Bestellings vir ons splinternuwe ondersteunersdrag deur Old School is nou oop!

As jy nie seker is watter grootte om te kies nie, is jy welkom om by Jan Kas gedurende winkeltye aan te pas.

???? Volg die skakel om jou bestelling te plaas en wys jou Ls JvR-trots!
PLAAS BESTELLING HIER

OUERSPORTDAG 2025

Merk jou kalender!
Wanneer: Saterdag, 29 November 2025
Waar: Laerskool Jan van Riebeeck

???? DIE HOOF AKSIE: OUERSPORT (09:00 - 17:00)
Netbal: 09:00-11:00
Raak Rugby: 09:00-13:00
Swem: 13:00
Hokkie: 13:30-17:00
Skaak en tennis: 13:30-17:00

????‍????‍????‍???? VIR DIE RES VAN DIE GESIN (HEELDAG PRETDAG)
???? Kindermarkdag (10:00 - 12:00)
Laat die jong entrepreneurs jou beïndruk!
Kaartjies beskikbaar op Karri.

☕ Koffie Huis & Snoepie
Vir daardie noodsaaklike kafeïen-hupstoot en al die soetgoed.
???? Hoender Burgers & Repies (10:00 - 15:00)
Heerlike kos ten bate van die Kaapstad Kinderhuis.
???? Woodstock Brewery (13:00 - 18:00)
Vir die wat dors is! Gryp tjips, versnaperings en 'n koue een.

Spesiale Aanbod: Kry jou bier-kaartjie vir R250 vir 5 biere!
Bier-kaartjies beskikbaar op Karri. (verkope sluit 27 November)

???? DIE GROOT AFSLUITING (17:15)
SA RUGBY op die GROOTSKERM in die saal!

Kom geniet die dag saam met ons!

Koop ’n kookboek – ’n geskenk wat aanhou gee!

Kersfees is om die draai! Koop kookboeke as geskenke vir oumas, onderwysers, vriende en familie – en laat die skool daarby baat!

Vir elke kookboek wat teen R200 gekoop word, ontvang die skool R50.

Dis die perfekte manier om iets besonders vir Kersfees of verjaardae te gee, terwyl jy terselfdertyd ons skool ondersteun.

Kies uit vier pragtige kookboeke:

Geure deur Lientjie Wessels – eenvoudige resepte met jou gunstelingbestanddele soos asyn, sout en olyfolie. Heerlik en stylvol!
Cake It Till You Make It deur Anmar Wilding – stap-vir-stap riglyne om die perfekte koek te bak, met al die geheime vir goeie bakwerk.
Going Home deur Sophia Lindop – ’n Lebanese kookboek vol bekende Mediterreense disse soos hummus, laban en kofta. Gesond én smaaklik!
The Lockdown Recipe Storytelling Book saamgestel deur Ingrid Jones – ’n nostalgiese versameling resepte vir klassieke gunstelinge soos hertzoggies en sagopoeding.
Sien die volgende skakel vir meer besonderhede oor hoe om te bestel: BESTEL JOU KOOKBOEK

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

SPORT

Krieketuitslae: 30 Okt - 5 Nov 2025

Sien die week se krieketuitslae hier onder:

Tennisuitslae: 3-5 November 2025

Sien die week se tennisuitslae hier onder:

Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad