Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Weeklikse Nuusbrief banner
Liewe Ouers

DATUMS

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)




>> SIEN DIE VOLLEDIGE DAGBOEK <<

VIR AANDAG

KULTUUR

Kwartaal 1 Musiekkonserte

Dit is amper weer tyd om musiekkonsert te hou! In Maart kry elke leerder wie ‘n musiekinstrument speel, ‘n geleentheid om die kwartaal se harde werk op die verhoog ten toon te stel. Ons leerders is nie verplig om deel te neem nie, maar ons moedig almal aan om die geleentheid te gebruik. Alhoewel musiekleerders baie tyd alleen spandeer om te oefen, is musiek ‘n uitvoerende kuns en daarom bedoel om ook met ander gedeel te word.

Die konserte sal in klas- of graadverband gedurende skooltyd plaasvind. Sien asseblief die datums vir elke graadgroep. Spesifieke tydsgleuwe sal nader aan die tyd bekend gemaak word.
  • Graad 6: Donderdag, 20 Maart
  • Graad 2,3,7: Maandag, 24 Maart
  • Graad 4,5: Woensdag, 26 Maart
Ons nooi alle ouers, familie, en vriende uit om te kom luister en saam met ons die kinders se harde werk en vondering te vier.

Indien daar leerders is wat buite die skool musiekles ontvang en graag wil deelneem, kontak my gerus.

Groete,
Rolene van Zyl

SPORT

Interskole Atletiekbyeenkoms: Program

Dinsdag, 18 Februarie, neem 62 van ons atlete deel aan die jaarlikse Interskole atletiekbyeenkoms. Dit vind plaas by die sportvelde van Hoërskool Jan van Riebeeck. Alle atlete moet die skool se atletiekdrag dra: die oranje JvR-hemp met sportbroek/-romp. Alle atlete moet om 07:45 op die pawiljoen aanmeld by meneer Rashard. Die dag begin stiptelik om 08:30 en sal ongeveer om 14:30 klaar wees. Atlete wat moet teruggaan skool toe, sal na afloop van die byeenkoms terug skool toe gebring word.

Kliek HIER vir die volledige program.

ALGEMEEN

Motorplakkers: 'n Vereiste vanaf 10 Februarie 2025

Die vereiste vir motorplakkers is 'n nuwe instelling by die skool wat reeds vanaf 10 Februarie 2025 in werking is. Alle motors wat op die perseel kom, moet 'n plakker in die motorvenster hê. Elke gesin sal twee motorplakkers ontvang. Indien jy ekstra plakkers benodig, kan jy dit via die Karri-app teen R10 'n plakker bestel. Die plakkers sal direk aan die leerders oorhandig word.

Op soek na rygeleentheid

Ons is opsoek na 'n rygeleentheid soggens vanaf Kaapstad na Stellenbosch, en smiddae terug, vir (enige) 3 dae per week teen vergoeding. Dit word benodig vanaf 1 Maart 2025 vir 'n werkende jong persoon.

Kontakpersoon: Adri by 0716861057

HS JvR Opedag, 18 Februarie 2025

Ons wil julle graag uitnooi na ons hoërskool se opedag! Bring julle kinders saam en kom kyk wat ons alles het om te bied. Dit is 'n uitstekende geleentheid om meer te leer oor ons skool en om enige vrae wat julle mag hê, beantwoord te kry.

Datum: Dinsdag,18 Februarie 2025

Plek: Hoërskool Jan van Riebeeck, Klooftsraat 129, Kaapstad

Tyd: 16:30 begin koshuisetoere; 18:00 Inligtingsessie by die skool

Registreer asb. vooraf vir die sessie by die volgende skakel: https://forms.gle/yZA91vANXyXobcUW7

Baie dankie vir julle samewerking en ons sien uit daarna om julle daar te sien!

TERUGVOER

Senior Swemgala, 7 Februarie

Sien die uitslae van die senior swemgala by hierdie skakel: SWEMGALA UITSLAE

Tennisuitslae: 5 Februarie 2025

Sien die week se tennisuitslae hier onder:

Krieketuitlsae: 12-13 Februarie 2025

Sien die week se krieketuitslae hier onder:

JANNIES GESPREKKE

Wat sien ons kinders raak en wat gaan hulle daarmee doen?

As ouers beïnvloed ons gedrag ongelukkig die dag-tot-dag keuses wat ons kinders maak. Dit is dikwels bepalend van die mens wat hy of sy gaan word. Hierdie gemoduleerde en aangeleerde gedrag, goed of sleg, word soms van een geslag na ‘n ander oorgedra. Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde:

HOE JY KONFLIK, WOEDE EN STRES HANTEER

Ons is uitstekende “skeidregters” en “afrigters” wanneer ons ons kinders leer hoe om woede en konflik te hanteer, Maar die beste leerskool bly egter jou eie optrede: hoe jý jóú emosies uitdruk. Die wyse waarop jy jou eie angs en spanning bestuur, gaan waarskynlik bepaal hoe jou kind dit eendag gaan hanteer. Dit geld ook vir konfliksituasies. Om deur jou eie optrede te demonstreer hoe om te verskil asook hoe om moontlike oplossings te vind, leer jy hom of haar die mag wat konstruktiewe kommunikasie in verhoudings kan hê. Wys hulle die belangrikheid van verskillende perspektiewe en opinies, maar ook watter grense jy stel as dit by verskille kom.

DIE MANIER HOE JY OOR JOUSELF EN ANDER PRAAT

Ons almal ken die gesegde: “As jy nie iets goeds van iemand kan sê nie, sê eerder niks.” Om jou kind te leer om versigtig te wees wat hulle sê en om nie woorde te gebruik wat kan seermaak nie, gaan hulle help om in die toekoms sterk verhoudings te bou. Vermy dit om negatief oor onderwysers, afrigters of jou vriende te praat. Om daarop ingestel te wees om vir jou kind iemand se optrede in perspektief te stel, al is hy of sy verkeerd, leer jy jou kind om met empatie en ‘n “sagter” oog na ander te kyk.

Ons moet ook nie die impak van negatiewe selfspraak onderskat nie. Watter boodskap kry my kind as ek voortdurend my eie tekortkominge en foute in gesprekke uitwys? As jy nie in jouself en in jou eie vermoë glo nie, nie met positiwiteit geleenthede aangryp nie, hoe moedig ons ons kinders aan om hulle eie drome en doelwitte te bereik?

ONS EIE VERHOUDINGS EN VRIENDSKAPPE

Hoe ons ons eie verhoudings en vriendskappe in stand hou, gaan die hoek bepaal waaruit jou eie kind daarna gaan kyk. Ons kinders het net ons om by te leer. Om hulle aan te moedig om te luister, om eerlik in ‘n verhouding te wees en om empatie sover moontlik te demonstreer, leer jy hulle om met selfvertroue enige verhouding te hanteer.

WAT SIEN MY KIND IN MY OË?

Wanneer jou kind ‘n vertrek instap, wat is ons soms geneig om eerste te doen? Is hulle netjies? Is hulle hare gekam? As hulle die kritiek in jou oë sien, voel hulle onmiddellik hulle is nie goed genoeg nie. Ons as ouers word gebombaardeer met oueradvies wat dikwels teenstrydig is. Daar is egter een iets wat die toets van die tyd weerstaan het: jou kind gaan altyd na jou kyk en tekens soek dat jy hulle liefhet en onvoorwaardelik aanvaar. En soos Toni Morrisson so treffend opgemerk het: “When your child enters the room, does your face light up?”

Marike Badenhorst
Opvoedkundige Sielkundige

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

 Geagte Ouers / Voogde  - 14 Februarie 2025

Dit is nie aldag dat die nuusbrief op ‘n Valentynsdag gepubliseer word nie. Vandag word Valentynsdag wêreldwyd gevier waar mense die geleentheid gebruik om die liefde te vier. Verseker sien sommige mense Valentynsdag as ‘n kommersiële foefie en ‘n geldmaakspul, maar tog word hierdie gewilde dag geassosieer met die stuur van kaartjies, geskenke en blomme aan ‘n geliefde. Volgens nuttelose statistieke het die Amerikaners in 2023 meer as $26 miljard aan Valentynsdag spandeer. Dalk gaan President Trump hiervoor ook ‘n stokkie steek.

Vandag vier ons egter as leerders en personeel saam die liefde en omgee vir mekaar en trek ons tradisioneel ‘iets’ rooi, pienk en/of wit aan. Op ‘n manier sluit die Valentynsvieringe by een van ons kernwaardes, naamlik OMGEE, aan. Ons kinders word groot in ‘n era en ‘n wêreld waar alles resultaatgedrewe en materialisties van aard is. Ons vergeet dat ons kosbaarste kommoditeit nie in die bank lê nie en dat liefde alle kwaad oorwin. Die leerders kan verseker ook nie vir die gewilde Valentynsdagverkope wat tydens eerste pouse plaasvind, wag nie. Baie dankie aan al ons ouers/voogde vir al die wonderlike Valentynsdagitems wat te koop is. Ek hoop en vertrou dat julle ook op hierdie Valentynsdag tot in die afgrond bederf sal word, julle jul geliefdes sal bederf en mag ons nooit die krag van liefde en vergifnis onderskat nie. Daar is vandag ontelbare mense in die wêreld wie se mees basiese behoefte om geliefd te wees, nie eers amper vervul word nie. Die rede hiervoor is seker dat die mensdom vandag so behep is met hul eie dinge en gefokus is om hul eie doelwitte na te streef, dat hulle nie tyd maak om liefde vir hul medemens te gee nie. Kom ons maak tyd vir ons medemense, selfs in ons eie skoolgemeenskap waar daar mense leef sonder liefde. Laat ons nooit vergeet dat omgee ‘n positiewe krag van deernis besit wat mense oor kulture saambind. Mag ons skoolgemeenskap omgee as ‘n lewensfilosofie uitleef om ‘n verskil in die brose wêreld te maak.
Op Vrydag, 07 Februarie 2025, het ons weer ‘n suksesvolle senior swemgala aangebied. Moeder Natuur het hierdie keer haar samewerking met ‘n heerlike warm en sonnige dag gegee. Baie geluk aan die onderstaande swemmers wat na afloop van die gala die volgende bekers ontvang het:

  • Junior dogterswemmer (o/10 & o/11) vir die jaar: Ellen van Heerden
  • Junior seunswemmer (o/10 & o/11) vir die jaar: Daniel van den Berg & Jan-Jurie Fourie
  • Senior dogterswemmer (o/12 & o/13) vir die jaar: Jeanne van Heerden
  • Senior seunswemmer (o/12 & o/13) vir die jaar: Nils le Roux & Dane Botha
Baie geluk aan die twee sussies wat met die bogenoemde louere weggeloop het—dit is so spesiaal. Laat my ook toe om al ons ouers, voogde, oumas en oupas wat die gala bygewoon het om hul kind/ers en kleinkinders te ondersteun, hartlik te bedank. Dit is ‘n riem onder die hart om te sien hoe ons ouers, voogde en grootouers ons leerders in alle opsigte ondersteun. Baie dankie aan ons Hoof van Sport, mnr. Leon, wat die gala gereël het, asook ons Hoof van Swem, juf. Ilse-Marié, saam met al die ander personeel wat as beamptes opgetree het. Die hoogtepunt van die dag was natuurlik waar die mamma-span teen die onderwyserspanne meegeding het. Die aflositems het groot vermaak en opwinding verskaf en graag wil ek die mammas en die onderwysers hartlik bedank vir die wonderlike gees waarmee dit plaasgevind het.
Ek klink dalk alweer soos ‘n platespeler wat vasgehaak het, maar ek gaan julle weer ernstig versoek om samewerking met ons terreinmanne wanneer julle jul kinders by die skool kom aflaai en/of optel. Probeer asseblief so spoedig moontlik jou kinders aflaai en/of optel sodat ons die wagperiode vir ander voertuie wat in ‘n ry staan, kan verminder. Indien my program dit toelaat, probeer ek sommige dae tydens aflaai en optel saam met die terreinmanne diens doen, maar ons kan net die verkeersvloei deur die skoolterrein verbeter met julle samewerking. By voorbaat dankie vir julle geduld – dit sal middae so ongeveer 10–15 minute duur om al die leerders saam met die voertuie vanaf die skoolperseel te verdaag. Daar is weinig skole waar ouers/voogde hul kinders op die skoolterrein kan optel en aflaai - dit is ‘n voorreg wat bittermin skole beskore is.

Maak ook asseblief seker dat jou voertuig ‘n plakker op het om toegang tot die skoolperseel te verseker. Moet asseblief nie die sekuriteitswagte aanvat omdat hulle weier om jou toegang sonder ‘n plakker te gee nie. Ons het darem vir almal meer as twee weke kennis van die sekuriteitsreëling asook twee gratis plakkers gegee. Hierdie nuwe reëling is ingestel om almal se veiligheid by die skool aan te spreek.

Ek sluit dan die week af met die fokus op liefde en deel die onderstaande aanhaling van Moeder Teresa rakende die liefde. Geniet ‘n heerlike naweek saam met jul gesinne.

“Small things done with great love will change the world.’’

Vriendelike groete,

Naas Beets
SKOOLHOOF

Kliek HIER vir Die Suidooster

met al die nuutste artikels, foto's en video's.

Kliek HIER vir advertensies van die week