Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 27 Februarie 2026  

Die tyd staan beslis nie stil nie, aangesien ons môre reeds van die tweede maand van die nuwe jaar gaan afskeid neem. Alhoewel die meeste mense Februarie met die maand van liefde assosieer, is Februarie egter na die Romeinse god Februus vernoem wat bekend staan as die god van suiwering of reiniging wat baie insiggewend is. Dikwels gebruik mense die maand Februarie om hul liggame te detoks of te vas na die heerlike feestyd oor Desember- en Januarie maande.

Baie dankie aan al ons ouers/voogde, leerders en opvoeders wat op Vrydagaand, 20 Februarie, die gewilde klasbraai by die Conradieveld bygewoon het. Die weer het vanjaar perfek saamgespeel met Moeder Natuur wat vir ons ’n perfekte en windlose aand opgedis het. Ouers/voogde en leerders het in groot getalle opgedaag, aangesien niemand die gewilde sosiale aand met kosbare samesyn wil misloop nie. Daar is by my geen twyfel dat die Conradieveld met die ikoniese Tafelberg as agtergrond, die statige Leeukop en die bekende Seinheuwel wat dit omring, seker een van die mees idilliese liggings is om ’n klasbraai of ’n funksie te hou. Baie dankie aan die personeel wat na die lang en besige week die moeite gedoen het om ook die spesiale aand by te woon en heerlik saam met ons ouers/voogde en leerders te sosialiseer. Amptelik was dit dan ook ons gr.1-ouers/voogde se eerste gesamentlike klasbraai by die laerskool en opvallend was die heerlike samesyn terwyl daar nuwe vriendskappe gesmee is.

Baie geluk aan die volgende 8 atlete wat na afloop van die sone-atletiekbyeenkoms op Vrydag, 20 Februarie, te Vygieskraal gekwalifiseer het om môre (Saterdag, 28 Februarie) aan die WP-byeenkoms deel te neem:

1. Leah Jacobsz, eerste plek vir o.12 - 1200m
2. Anabella Boshoff, eerste plek vir o.13 - spiesgooi
3. Louis Hofmeyer, eerste plek vir o.11 - verspring
4. Stef Nel, eerste plek vir o.12 - verspring en 3de plek vir hoogspring
5. Octavia Ackermann, 2de plek vir o.10 - Hoogspring
6. Cato Terblanche, 3de plek vir 1500m
7. Willem Viljoen, 3de plek vir o.12 - 150m Hekkies
8. Bella Malan, 3de plek vir o.12 - 150m Hekkies en 4de plek vir 75m Hekkies

Baie geluk en ons is baie trots op julle puik prestasies! Ons hou styf duimvas dat julle almal vir die Wes-Kaap-kampioenskappe sal kwalifiseer. Baie dankie mnr. Hanekom en al die afrigters wat ons atlete vir hierdie prestige byeenkomste voorberei het.

Op ’n hartseer noot gaan ons aan die einde van die kwartaal na 14 jaar afskeid neem van Marike Badenhorst. Sy was die heel eerste opvoedkundige sielkundige verbonde aan ons skool en tree amptelik op 31 Maart af. Ek het die wonderlike voorreg gehad om meer as 5 jaar saam met Marike te werk. Sy is ’n formidabele vrou, ’n merkwaardige kollega met die grootste omgeehart wat werklik enigiets sal doen om ’n leerder(s) en hul ouers te help. Ek glo dat sy ook een van die pioniers was wat gelei het tot die eerste leerderondersteuningsdienste by ons skool tot waar ons vandag ’n wêreldklas leerontwikkelingsentrum, naamlik die Zen Den, het. Marike het diep spore by ons skool getrap deur leerders, hul ouers asook personeel te help met akademiese-, sosiale- en emosionele uitdagings. Ons is vir Marike baie dankbaar vir die reuse verskil wat sy in menige leerders, ouers en personeel se lewens gemaak het. Ons beste wense vergesel haar met haar aftrede en mag sy genotvolle ure saam met haar kleinkind spandeer. Graag verwelkom ons dan ons nuwe opvoedkundige sielkundige, Elaine Scholtz, wat vanaf 1 April by ons gaan aansluit. Ek glo dat baie van ons ouers reeds vir Elaine ken met haar ongelooflike werksetiek en passie vir kinders. Ons is baie opgewonde om haar as deel van die JvR-personeelspan te verwelkom.

Vanaf Woensdag, 25 Februarie, was die skool relatief stil met die jaarlikse skoolkampe wat vir Grade 5 en 7 plaasvind. Ons leerders geniet die skoolkampe terdeë en die opwinding was groot met hul vertrek op Woensdagoggend. Skoolkampe speel ’n belangrike rol in die holistiese ontwikkeling van leerders en bied die ideale geleentheid om leerders uit ’n bekende en gemaklike omgewing te neem en bloot te stel aan ’n onbekende natuuromgewing wat gestruktureerd, veilig en vriendelik is. Terwyl hulle die natuur verken, neem hulle aan verskeie buitelugaktiwiteite deel wat help om hul karakter te bou, kommunikasievaardighede en spanwerk te verbeter asook leierskapsvaardighede te ontwikkel. Hier is dus net ’n wen-wen situasie wat gepaard gaan met tonne pret waar hulle beslis ander leerders asook hulself beter leer ken. Hulle gaan dus leer wat dit beteken om as ’n span saam te werk en op die regte tye vir mekaar spasie te gee. Skoolkampe sal altyd ’n onvergeetlike deel van ’n leerder se skoolloopbaan wees, waar hulle waardevolle lesse opdoen. Dit is natuurlik ook die graad 5’e se eerste skoolkamp. Ek glo dit het dalk ’n paar ouer-harte baie angstig gemaak, maar wees verseker jou kind gaan baie pret hê saam met hul maats en hulle is heel moontlik salig onbewus van die ouerverlange en/of bekommernisse. Hulle keer weer vandag terug skool toe en ek glo dat hulle nie kan wag om al die wonderlike avonture en nuwe ervarings met julle te deel nie. Gaan bederf gerus jul “kampers” vanmiddag of oor die naweek. Laat my ook toe om ons opvoeders wat ons leerders tydens die skoolkampe vergesel het, hartlik te bedank dat hulle so mooi na ons Jannies omgesien het.

Op Woensdag, 18 Februarie, het ons die jaarlikse klasfoto’s geneem wat altyd groot opwinding by die skool veroorsaak. Baie dankie aan juf. Ischké vir al die puik reëlings in dié verband. Graag deel ek ’n besonderse personeelfoto wat vroeg die oggend deur ons BR-voorsitter, ten aanskoue van die leerders en ouers, so in die verbygaan geneem is. Baie dankie, Merwe!
Laat my ook toe om mnr. Keneen en sy vrou, Quinlene, hartlik geluk te wens met die geboorte van die pragtige Mileah op 25 Februarie. Mag sy vir julle eindelose vreugde vol liefde bring — welkom klein Mileah by die JvR-familie.

Hiermee gaan ek voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te bevorder:

“Moenie iemand op sy baadjie takseer nie.”

Die uitdrukking word gebruik om aan te dui dat jy nie iemand op sy/haar uiterlike moet beoordeel nie, m.a.w. beslis nie volgens die kleredrag wat iemand dra nie. Die Engelse weergawe sal wees: “Don’t judge a book by its cover.”

Sterkte vir al die netbal- en rugbyspanne wat die naweek aan die Onder die Berg-sportnaweek te HS Jan van Riebeeck gaan deelneem.

Geniet ’n wonderlike naweek saam met jul vriende en gesin.

Groetnis
Naas Beets
SKOOLHOOF

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

AKADEMIE

Drukwerk by die skool

Het jou kind nodig om iets te print? Moenie bekommerd wees nie, ons help jou graag by die skool!
  • Swart & wit: R5 per bladsy
  • Kleur: R10 per bladsy
  1. Gaan betaal eers by tannie Adri (ontvangs)
  2. Sy sal vir jou 'n papiertjie gee met bewys van betaling
  3. Stuur die drukwerk in PDF-formaat aan juffrou Marecia by marecia@jvrprim.co.za
  4. Drukwerk moet minstens 24 uur voor die tyd gestuur word.
  5. Geen onmiddellike drukwerk sal gedoen word nie.

KULTUUR

Kwartaal 1 Musiekkonserte

Dit is amper weer tyd vir ons Kwartaal 1 Musiekkonserte! In Maart kry elke leerder wie ‘n musiekinstrument speel, die geleentheid om die kwartaal se harde werk op die verhoog ten toon te stel. Ons leerders is nie verplig om deel te neem nie, maar ons moedig almal aan om die geleentheid te gebruik. Alhoewel musiekleerders baie tyd alleen spandeer om te oefen, is musiek ‘n uitvoerende kuns en bedoel om ook met ander gedeel te word.

Die konserte sal in klas- of graadverband gedurende skooltyd plaasvind. Die spesifieke konserttye sal op ’n latere stadium gedeel word, maar loer gerus na die datums:

Graad 2 en 3 - Maandag, 23 Maart

Graad 4 en 5 - Dinsdag, 24 Maart

Graad 6 en 7 - Woensdag, 25 Maart

Ons Graad 1-leerders tree nie by hierdie konsertgeleentheid op nie. Ons gee hulle nog kans om te ontwikkel en hul voete te vind.

Vra asb vir juf Rolene of jou kind se musiekonderwyser indien daar enige vrae rondom jou kind se deelname aan hierdie konserte is. Ons help graag.

Ons nooi alle ouers, familie, en vriende uit om te kom luister en saam met ons die kinders se harde werk en vordering te vier.

Indien daar leerders is wat buite die skool musiekles ontvang en graag wil deelneem, kontak my gerus. Die leerders wat by die skool musiekles neem, kry voorkeur, maar ons akkommodeer graag enige leerder wat musiekles buite die skool neem, indien die program dit toelaat.

Rolene van Zyl

Eisteddfod: Mei 2026

Liewe Eisteddfod-ouers

Ons deel graag dat die Eisteddfod weer hierdie jaar aan die einde van Mei by ons skool sal plaasvind. Die spesifieke datum sal binnekort gekommunikeer word.

Ons leerders presteer elke jaar uitstekend en ons is ongelooflik trots op hulle!

📌 Inskrywings
  • Vind asseblief die inskrywingsvorm by hierdie skakel:
    EISTEDDFOD INSKRYWINGS
  • Inskrywings sluit op 4 Maart.
  • Nadat jy jou kind ingeskryf het, sal die betaling op die Karri-toep beskikbaar wees.
  • Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie.
  • Die koste beloop R120 per item.
📖 Belangrike kennisgewing oor Prosa (vanaf Graad 4)
Leerders wat vir prosa inskryf, moet ’n leestuk uit ’n boek:
  • Memoriseer
  • Dramatiseer
Let asseblief daarop dat Kwartaal 2 baie besig is met sport, eksamens en ander aktiwiteite. In die verlede het sommige leerders onttrek omdat hulle nie genoeg tyd gehad het om behoorlik voor te berei nie. Dink dus asseblief mooi voordat jy jou kind vir prosa inskryf.

Drama-groete
Jana

SPORT

Winter: Buitemuurseprogram 2026

Neem asb. kennis dat die somer buitemuurseprogram die week eindig. Ons begin Maandag, 2 Maart, met die winterprogram wat tot en met 21 Maart sal duur. 

Sien die winter buitemuurseprogram vir kwartaal 2 en 3 hier onder: 

ALGEMEEN

Somersokkie: 19 Maart 2026

Dit is amper weer tyd vir die graad 5-7 Somersokkie! Sien meer inligting hier onder:

Kontakbesonderhede op MyJvR opdateer

Ons versoek ouers vriendelik om hul kontakbesonderhede (e-posadres en telefoonnommer) op MyJvR na te gaan en op te dateer indien dit verander het. Dit verseker dat alle belangrike kommunikasie, insluitend u kind/kinders se rapporte, ontvang word.

Volg hierdie skakel na MyJvR: KLIK HIER

Dankie dat u saam met ons werk om gladde en effektiewe kommunikasie te verseker!

Veiling 2026: Skenkings

Liewe Ouers,

Hou asb 6 Junie 2026 oop vir hierdie jaar se Laerskool JvR Opvoedingstrust Veiling, wat by die Mount Nelson sal plaasvind.
Ons soek graag skenkings vir ons lotte. Enige ouers wat kan help met drank, vakansiehuise, jagritte, kuns, juwele, spa-ervarings, ens. word vriendelik versoek om Anna Blackmore op 083 386 4057 te kontak.
Enige bydrae word opreg waardeer.

Welwillendheidsprojek: Kwartaal 1, 2026

Hier is hoe jy hierdie kwartaal 'n verskil kan maak:

Paaseiers insamel!

Ons wil baie graag weer vanjaar Kaapstad se Lion’s Club ondersteun deur paaseiers vir minderbevoorregte kinders in te samel. Dit sal wonderlik wees as elke leerder minstens een paaseier vir ons kan bring en dit in die emmer wat in Adri se kantoor staan, kan plaas. Hulle verkies die eiers wat die malvalekker aan die binnekant van die sjokolade het soos op die prentjie. Dit kom ook in ‘n string van vier of in verpakkings van 24 en meer.

Enige donasies word opreg waardeer!

Kombuistaal Werkswinkel: vir jou en jou kind(ers)

Kom kuier, luister na en kook saam met Rooi Rose se oudredaktrise (Vickie de Beer) wat 'n kookboek geskryf het om ons kinders te inspireer om gesonder te eet. Haar fokus is op lekker kos wat voedsaam is. Koop gerus jul, jy en jou kind(ers), kaartjie d.m.v. Quicket teen R370 per gesin. Dit sluit 'n mengbak, houtlepel, bestanddele vir die gereg en die resepteboek in. Dis ook opwindend om te weet dat Antjie Krog saam met Vickie gewerk het om hierdie kookboek ekstra spesiaal te maak. Ons gaan 'n heilsame aand (Dinsdag, 17 Maart) in ons skoolsaal beleef! Sien jou daar.

Marinda Brink

BESPREEK HIER

Boekverkope: 18-19 Maart 2026

The Book Box kom weer binnekort kuier! Spaar solank om jouself en jou boekrak te bederf.

Ondersteun die skool deur jou MySchool-kaart te gebruik

Wat is 'n MySchool-kaart?

Die MySchool-kaart is ’n maklike manier om jou skool te ondersteun sonder dat dit jou iets ekstra kos. Elke keer as jy met jou kaart by deelnemende winkels betaal, skenk die winkel ’n persentasie van jou aankoop direk aan ons skool. Jy dra dus by tot waardevolle projekte en hulpbronne, eenvoudig deur jou alledaagse inkopies te doen.

Registreer by hierdie skakel: Registreer: MySchool

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

JANNIES VAN DIE WEEK

SPORT

Tennisuitslae: 23-25 Februarie 2026

Hier volg die week se tennisuitslae:

Krieketuitslae: 21-26 Februarie 2026

Hier volg die week se krieketuitslae:

Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad