Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Weeklikse Nuusbrief banner
Liewe Ouers

DATUMS

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)




>> SIEN DIE VOLLEDIGE DAGBOEK <<

VIR AANDAG

AKADEMIE

Ouerbesoeke: 15 & 22 April 2025

Ouerbesoeke vind op 15 & 22 April vanaf 13:30 - 17:30 plaas.

Skeduleer asseblief so gou as moontlik 'n afspraak met jou kind se onderwyser, indien jy nog nie het nie,deur gebruik te maak van die onderstaande skakel:

MAAK AFSPRAAK HIER

Hoe werk dit?
  • Maak die skakel oop en kies die regte graad
  • Rol af na die kalenderafdeling en kies jou kind se onderwyser by die "select staff" opsie
  • Kies die datum (15/22 April) en die tydsgleuf wat jou die beste pas
  • Rol af en vul alle nodige besonderhede in
  • Kliek op "Book"

KULTUUR

Musiek-ouervergaderings: Kwartaal 2

Die Musiekdepartment wil graag ‘n geleentheid skep vir ouers/voogde om hul kind(ers) se musiekonderwyser/s te ontmoet. Ons wil hierdie tyd gebruik om te gesels oor jou kind se musieklesse en om ook te luister na wat julle graag met ons wil deel. Algemene kwessies soos musiekeksamens, eisteddfods, lestye, oefenroetines, en algemene vordering en verwagtinge, is van die belangrike punte wat ons graag wil bespreek.

Ons nooi daarom alle musiekouers uit om enige van jou kind(ers) se musieklesse gedurende Kwartaal 2 by te woon. Kontak asseblief die betrokke musiekonderwyser om die spesifieke lestyd en -datum, wat jóu die beste pas, te bevestig sodat die nodige voorbereiding vir die ontmoeting getref kan word. Die tydsgleuf vir ‘n musiekles is 30 minute, alhoewel ‘n afspraak nie noodwendig die volle tydsduur hoef te beloop nie.

Ons sien baie uit daarna om ouers in die musiekdepartement te verwelkom en hoop om almal deur die loop van Kwartaal 2 hier te sien.

Ek lys die musiekonderwysers se kontakbesonderhede:

Rolene van Zyl rolene@jvrprim.co.za

Ben Reynecke ben@jvrprim.co.za

Larah Eksteen info@larah.co.za

Shannon Cook shannonsjb@gmail.com

Paul Richard paulrichard07041986@gmail.com

Brent January brentjanuary1305@gmail.com

Estelle Slabber eeslabber@gmail.com

Helecia Groenewald helecia@gmail.com

Pieter Bezuidenhout bezuidenhoutpl@gmail.com

Lily van der Merwe meetlily@gmail.com

ALGEMEEN

Veilingsdinee: 7 Junie 2025

Ons nooi julle graag na hierdie jaar se opvoedingstrust veilingsdinee fondsinsameling.

Die veiling vind plaas op 7 Junie by die Mount Nelson Hotel.

Daar is beperkte kaartjies so RSVP asseblief by die onderstaande skakel om teleurstelling te vermy:
https://forms.gle/mtH1mY7RqxdsFTYL7

Vriendelike groete,
Die 2025 Veilingkomitee

Wêreldboekedagkompetisie – Woensdag, 23 April 2025

Beste Ouers,

Ons is opgewonde om Wêreldboekedag op Woensdag, 23 April 2025 te vier! Ter viering gaan ons ’n prettige kompetisie hou waar leerders uitgenooi word om skool toe te kom in die uitrusting van hul gunstelingboekkarakter.

Daar sal ’n prys in elke graad wees vir die leerder met die mees kreatiewe uitrusting, so ons moedig almal aan om hul verbeelding te gebruik en pret te hê!
Ons sien uit daarna om al die wonderlike karakters op die dag te sien.

Vriendelike groete,
Juf Marecia

Doughnut Verkope: Donderdag, 17 April 2025

Ondersteun die Gr.7's en bestel 'n lekker doughnut op Karri!

Ouer-Kind Oranjerivier Extravaganza - 2026

Die jaarlikse Ouer-Kind Oranjerivier Extravaganza was weereens 'n reuse sukses. 'n Groep van 80 sterk JVR-Jannies en ouers het die vierdag-toer met groot entoesiasme aangedurf.

As julle hou van kamp en saam met jou kind ’n onvergeetlike avontuur wil aanpak, dan daag ek die Graad 6-ouers van 2024 uit om die datum vir volgende jaar reeds in die dagboek te plaas: 26 – 31 Maart 2026.

Let wel dat hierdie jaarlikse toer direk met Felix Unite in Namibië deur die Jannie-ouers gereël word. Ek stel voor dat iemand wat reeds roomys langs die rivier geëet het in vorige jare, die huidige Graad 6-span verteenwoordig vir ’n paar reëlings.

Ons deel graag ons ondervinding van hierdie en vorige jare, en ek sal sekerlik weer rasieleier wees vir die 2030-Graad 7’s!

As jy jou hand wil opsteek vir volgende jaar se reëlings, kontak my gerus.
Rudi Barnard (rudi.barnard@gmail.com / +27 72 555 9956)

TERUGVOER

Netbaluitslae: 9 April 2025

Sien die week se netbaluitslae hier onder:

Jannies neem deel - Interprovinsiale Toernooi vir Aksienetbal

Anouk en Stella het tydens die vakansie lekker deelgeneem aan die 2025 Interprovinsiale Toernooi vir aksienetbal.

Daar was 12 spanne. Anouk het vir die o.12B-span gespeel, wat 4de geëindig het, en Stella vir die o.13A-span, wat 9de geëindig het. Die toernooi het oor vyf dae gestrek, en die meisies het die Western Cape Coastal-distrik verteenwoordig.

Daar was ook ’n paar oud-Jannies in die o.14A-span: Emma Snijders en Karu Rademeyer, wat 1ste geëindig het, en Jana Oosthuizen en Hila Herzog in die o.14B-span, wat 3de geëindig het.

Oud-Jannie kry SA-klere

Graag gee ons erkenning aan een van ons oud-Jannes, naamlik Christiaan Boshoff, wat onlangs sy SA-klere vir "bass"-hengel verwerf het. Die kompetisie het in Witbank onder gure weersomstandighede plaasgevind.

Christiaan is tans 'n matriekleerling by Paul Roos Gimnasium, en ons is saam met sy ouers, Louis en Esna, baie trots op sy merkwaardige prestasie.

JANNIES GESPREKKE

Zen Den-gesels: Leesmodel 3: "Simple View of Reading"

Leesmodel: “Simple View of Reading”

Die “Simple View of Reading” teorie is ontwikkel deur Philip B. Gough en William E. Tunmer om vaardighede te identifiseer wat ‘n rol speel in die vroeë ontwikkeling van leesbegrip. Volgens die oorspronklike teorie is daar twee leesvaardighede nodig om leesbegrip te bevorder, naamlik: dekodering en taalbegrip.

Dekodering verwys na die vermoë om geskrewe woorde akkuraat te herken en uit te spreek en taalbegrip is die vermoë om woorde in sinne te verstaan. Hierdie teorie beweer dat bogenoemde twee vaardighede die grootste bepalende faktore in leesbegrip is.

Die model stel leesbegrip voor deur die volgende formule:

Dekodering x Taalbegrip = Leesbegrip

Bogenoemde formule impliseer dat beide dekodering en taalbegrip noodsaaklik is vir effektiewe leesbegrip. Indien een van die komponente 0 is, sal leesbegrip ook 0 wees. Alhoewel die model goed deur navorsing ondersteun word, moet ons dit as ‘n kognitiewe teorie sien en nie ‘n allesomvattende model nie. Die model word die beste toegepas in moedertaalonderrig.

Ouers speel ‘n belangrike rol in die ontwikkeling van bogenoemde vaardighede om leesbegrip by kinders te bevorder en kan die vaardighede op die volgende praktiese maniere toepas.
  1. Dekodering
Gebruik flitskaarte met letters en woorde. Vra jou kind om die klank te noem wat by elke letter pas.
  1. Saamlees
Lees elke dag saam met jou kind ‘n paragraaf uit ‘n leesboek. Die saamlees werk soos volg: As ouer lees jy eers die sin terwyl jou kind met sy vinger elke woord volg. Daarna lees jou kind elke woord in die sin. Nadat julle die paragraaf gelees het, kan jy sekere woorde uitwys en vir jou kind die betekenis van die woord vra. Kyk ook saam na die prente en gesels met jou kind daaroor om leesbegrip te bevorder.
  1. Woordeskat
Praat met jou kind oor sekere onderwerpe. Terwyl julle daaroor gesels kan jy sekere van die woorde op flitskaarte skryf en iewers in die huis opsit.

Dit is belangrik om jou kind se woordeskat uit te brei deur die aanleer van nuwe woorde. Verduidelik die betekenisse van die woorde aan jou kind en vra vir jou kind hoe hy/sy die woord in ‘n sin kan gebruik. ‘n Goeie woordeskat bevorder beter taalbegrip en leesbegrip.
  1. Alledaagse leergeleenthede
Maak gebruik van alledaagse aktiwiteite om jou kind aan leesgeleenthede bloot te stel. Bv. Vra vir jou kind om die inkopielys te lees of ‘n resep terwyl jy kos maak.

Die sukses van leesontwikkeling word bepaal deur ouers en opvoeders wat op ‘n kreatiewe manier kinders leer om te lees sonder dat hulle blootgestel voel.

Deur: Marietjie de Kock

Hoe lyk my kind se digitale voetspoor en waarom maak dit saak?

Bewustheid en bestuur van jou digitale voetspoor is belangrik vir 'n positiewe digitale identiteit.

Konteks

In die digitale era is die internet diep verweef in ons daaglikse bestaan, insluitend die lewe van ons kinders wat in hierdie hoogs gekonnekteerde wêreld grootword.

Net soos volwassenes, laat kinders ook ‘n digitale voetspoor soos hulle sosiale media, aanlyn speletjies, opvoedkundige platforms en verskeie ander toepassings gebruik.

Hul digitale voetspoor is ‘n rekord van al hul aanlyn aktiwiteite en dit is belangrik dat beide kinders en hul ouers die implikasies hiervan verstaan.

Deur ons kinders van digitale voetspore te leer, kan ons hulle help om verantwoordelike aanlyn gedrag te ontwikkel en om hul privaatheid en toekomstige geleenthede te beskerm.

Die verstaan en bestuur van mens se eie digitale voetspoor is ‘n kritiese vaardigheid in die digitale era, wat kan help dat ons kinders met ‘n sterk digitale bewustheid en verantwoordelikheidsin grootword.

Wat is ‘n Digitale Voetspoor?

‘n Digitale voetspoor verwys na die versameling van data wat individue agterlaat wanneer hulle die internet gebruik. Dit sluit alles in — van internetsoektogte en webblaaie wat besoek word tot e-posse wat gestuur word, sosiale media-interaksies, plasings, en aanlyn aankope.

Elke aanlyn aksie dra by tot hierdie digitale voetspoor. Maatskappye kan hierdie data gebruik vir bemarkingsdoeleindes, werkgewers kan dit benut om agtergrondondersoeke uit te voer, en kuberkriminele kan die data misbruik as dit nie voldoende beskerm word nie.

Twee Tipes Digitale Voetspore

1. Passiewe Digitale Voetspoor

‘n Passiewe digitale voetspoor verwys na die data wat oor ‘n gebruiker versamel word sonder hul bewuste toestemming of medewete. Voorbeelde hiervan sluit in webblaaie wat rekord hou van die aantal besoekers, klikke en liggingsdata wat gebaseer is op die gebruiker se IP-adres. Webkoekies wat in die webblaaier gestoor word is ook ‘n algemene voorbeeld van passiewe voetspore.

Hierdie tipe voetspore is dikwels onsigbaar vir die gebruiker, maar kan waardevolle insig verskaf oor hul aanlyn gedrag en voorkeure.

2. Aktiewe Digitale Voetspoor

‘n Aktiewe digitale voetspoor verwys na die data wat ons bewustelik aanlyn deel. Dit sluit sosiale media-plasings, bloginskrywings, foto’s en video’s wat opgelaai word, kommentaar op webblaaie, sowel as enige ander vorm van inhoudskepping en die deel van inhoud met ander in.

Aktiewe digitale voetspore kan tot 'n groot mate deur die gebruiker beheer word. Dit vereis egter 'n doelbewuste benadering om hierdie inligting te bestuur en te beskerm. Daarbenewens moet gebruikers seker maak dat die inhoud wat hulle deel, konsekwent is met hul persoonlike en professionele beeld.

Waarom maak Digitale Voetspore Saak?

Sodra data aanlyn geplaas word, is dit baie moeilik om dit weer heeltemal te verwyder. Dit is dus noodsaaklik om digitale voetspore te verstaan, aangesien dit verreikende langtermyngevolge kan hê:

1. Privaatheid

Persoonlike inligting wat aanlyn gedeel word, kan sonder toestemming deur ander gebruik word. Dit kan tot privaatheidskending en selfs identiteitdiefstal lei.

2. Reputasie

Jou digitale voetspoor kan jou reputasie beïnvloed. Onvanpaste plasings of kommentaar uit die verlede kan weer na vore kom en gevolglik skool-, universiteit-, beurs- of werksgeleenthede nadelig raak.

3. Sekuriteit

Kuberkriminele kan jou persoonlike data ontgin en vir bedrogdoeleindes gebruik, wat jou digitale veiligheid bedreig.

4. Veiligheid

Onverantwoordelike aanlyn gedrag kan kinders blootstel aan kuberboeliegedrag en verhoog die risiko van uitbuiting deur aanlyn predatore.

5. Geleenthede

‘n Positiewe digitale voetspoor kan egter ook deure oopmaak—dit bied die geleentheid om jou vaardighede en talente aan potensiële werkgewers of universiteite uit te lig.

Hoe word ‘n Digitale Voetspoor Geskep?

Digitale voetspore kan op verskeie maniere deur kinders geskep word:

1. Sosiale Media

Deel van foto’s en video's, opdatering van statusse, die lewering van kommentaar en ander interaksies op platforms soos Instagram, TikTok, X (voorheen Twitter), Facebook en SnapChat.

2. Aanlyn Speletjies

Interaksies met ander spelers, aankope binne speletjies en die deel van spelvordering op aanlyn forums dra by tot hul digitale voetspoor.

3. Opvoedkundige Platforms

Deelname aan aanlyn klasse, indien van opdragte, en die gebruik van opvoedkundige toepassings. Laerskool Jan van Riebeeck maak gebruik van die Microsoft 365 Education-platform, wat omvattende maatreëls ingestel het om leerders se privaatheid, sekuriteit en veiligheid te beskerm.

4. Webblaaiergeskiedenis

Elke besoek aan webblaaie, klikke op skakels en internetsoektogte dra by tot hul digitale voetspoor.

5. E-pos, Klets en Boodskappe
Die stuur van e-posse en boodskappe, sowel as deelname aan kletsgesprekke, dra by tot hul digitale voetspoor.

Bestuur en Minimalisering van Digitale Voetspore

Die bestuur van digitale voetspore vereis bewustheid van aanlyn aktiwiteite en die neem van proaktiewe stappe om persoonlike inligting te beskerm. Hier is strategieë wat kinders kan gebruik:

1. Dink voor jy klik

Moedig kinders aan om die langtermyn impak van wat hulle aanlyn deel, in ag te neem. Sodra iets aanlyn geplaas is, kan dit baie moeilik wees om dit weer te verwyder. Ander kan ook maklik skermgrepe neem van enigiets wat aanlyn gepubliseer is. Leer kinders om vooruit te dink oor moontlike gevolge, en om versigtig en respekvol te wees in hul aanlyn optrede.

2. Privaatheidverstellings

Gebruik privaatheidverstellings op sosiale media platforms om te beheer wie toegang tot inligting en plasings het. Maak seker hierdie verstellings word gereeld nagegaan. Kinders moet vermy om publieke profiele op sosiale media te hê.

3. Beperk persoonlike besonderhede

Leer kinders om nie persoonlike inligting soos huisadresse, telefoonnommers, geboortedatums en skoolname aanlyn te deel nie, selfs al vertrou hulle die persoon. Data wat aanlyn gedeel word, kan vinnig na 'n breër gehoor versprei word en risiko's verhoog.

4. Gereelde opruim

Verwyder ou aanlyn profiele wat nie meer gebruik word nie, asook plasings, foto’s en video’s wat nie meer relevant is nie. Hierdie praktyk help om die digitale voetspoor klein en hanteerbaar te hou.

5. Gebruik sterk wagwoorde

Moedig kinders aan om unieke, sterk wagwoorde te gebruik om hul aanlyn rekeninge en profiele te beskerm teen ongemagtigde toegang.

Die Rol van Ouers om Digitale Gedrag te Rig

Ouers het ‘n sleuteverantwoordelikheid om hul kinders se digitale gedrag te rig en help bestuur. Hier is hoe dit effektief gedoen kan word:

1. Stel Reëls en Bepaal Grense

Stel duidelike reëls vir die gebruik van die internet, insluitend tydsbeperkings en besluit oor aanvaarbare aanlyn aktiwiteite. Die konsekwente toepassing van hierdie reëls vorm die fondament vir veilige en verantwoordelike aanlyn gedrag.

2. Moniteer Aanlyn Aktiwiteite

Hou ‘n wakende oog oor die webblaaie wat jou kinders besoek, hul sosiale media-interaksies, en die mense met wie hulle aanlyn kommunikeer. Deur hierdie aktiwiteite dop te hou, kan moontlike risiko’s vroeg geïdentifiseer en aangespreek word.

3. Moedig Oop Kommunikasie Aan

Skep ‘n ondersteunende omgewing waar jou kinders gemaklik voel om hul aanlyn ervarings en bekommernisse met jou te deel. Oop kommunikasie kweek vertroue en bevorder samewerking.

4. Bly Self Ingelig

Bly op hoogte van nuwe tendense in tegnologie en aanlyn gedrag. As ‘n ingeligte ouer kan jy relevante en tydige leiding aan jou kinders verskaf en hulle beter beskerm.

5. Stel ‘n Positiewe Voorbeeld

Jou eie aanlyn gedrag behoort verantwoordelikheid en versigtigheid te weerspieël. Deur jou ervarings en benadering met jou kinders te deel, dien jy as ‘n rolmodel wat hulle help om gesonde digitale gewoontes te ontwikkel.

Ter afsluiting, ‘n digitale voetspoor is ‘n onvermydelike aspek van die moderne lewe, veral vir kinders wat grootword in ‘n tegnologiegedrewe wêreld. As ouers speel ons ‘n kritiese rol in die kweek van ‘n generasie van digitaal-verantwoordelike individue wat bewus is van hul aanlyn teenwoordigheid en dit op ‘n positiewe manier kan benut.



Kyk na hierdie video:

Follow the Digital Trail - Video

DInK-slim © 2025 deur Marié Cruywagen is gelisensieer onder CC BY-NC-SA 4.0

Creative Commons Attribution-NonCommercial-ShareAlike 4.0 International

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 11 April 2025

Hiermee ‘n hartlike welkom terug by die skool. Ek glo dat almal die kort, maar welverdiende ruskansie terdeë geniet het en kosbare tyd saam met familie en vriende spandeer het. Ek is baie dankbaar dat almal veilig terug is na die vakansie, veral die gr.7’s en hul ouers/voogde wat aan die jaarlikse Oranjeriviertoer deelgeneem het. Baie dankie aan Rudi Barnard en Louis Boshoff wat aan stuur van die suksesvolle roeiroete gestaan het. Die jaarlikse Ouer/Kind-Oranjerivier Extravaganza was weereens ‘n reuse sukses. ‘n Gemotiveerde JvR-groep (Jannies en hul ouers) wat uit 80 lede bestaan het die 4-dagtoer met groot entoesiasme aangedurf. Sommige van die leerders het maar liggeloop vir die "Entrance Exam" en soos altyd, het die "Sjambok" sy pond vleis geëis met menige kano’s wat sonder ‘n kaptein of ‘enjin’ die stroomversnelling uitgedaag het. Graad 6-leerders en hul ouers maak gerus ‘n plan om volgende jaar aan die onvergeetlike avontuur deel te neem.
Die skool het skaars begin en soos ‘n goed ge-oliede masjien is ons skoolaktiwiteite sommer vanaf dag 1 weer goed opdreef met die akademie, wintersport buitemuurse program, musiekklasse en kooroefeninge wat op dag 1 van die nuwe kwartaal met baie opwinding afgeskop het. Sportwedstryde vir rugby, netbal en hokkie skop ook die week af en ons leerders is baie opgewonde om aan wintersportwedstryde deel te neem. April 2025 met al die openbare vakansiedae bied nogal ‘n uitdaging rakende kurrikulum- en sportbestuur wat dus deeglike beplanning verg. Neem asseblief kennis dat weke 1, 2 en 3 van kwartaal 2 slegs uit 4 werksdae/skooldae bestaan en dat week 4 ‘n hele week van vakansiedae insluit. Ek is nie seker of ek moet kla of dankbaar wees nie, maar as skoolhoof weet ek dat roetine vir leerders belangrik is.

Op Dinsdag, 08 April, het die skool tradisioneel amptelik die nuwe kwartaal met ‘n saalbyeenkoms geopen. Tydens die saalbyeenkoms is daar onder andere erkenning aan ons atlete gegee wat vanjaar vir die WP-Atletiekbyeenkoms gekwalifiseer het. Baie geluk aan die volgende toegewyde atlete wat elk ‘n sone-medalje ontvang het;

Gia Kruger, Lukas Loubser, Mateo Pereira, Louis Hofmeyer, Maia du Toit, Leah Jacobsz, Willem VIljoen, Stef Nel, Rafa Lamprecht, Dane Botha, Andree Steyn, Anabella Boshoff, Ynes Kabassidi, Jack Dawes, Nils le Roux, Carter Schoeman.
Normaalweg word die Top 10 Akademiese Gr. 7-leerders kwartaalliks op die laaste dag van die kwartaal bekend gemaak. Weens die gr.7’s se deelname aan die Oranjerivier-roeitoer wat vanaf 26 Maart – 02 April plaasgevind het, kon ons kwartaal 1 se Top 10 Gr.7-leerders eers op die dag wat die skool vir die tweede kwartaal open, bekend maak en hul sertifikate oorhandig. Baie geluk aan die volgende gr.7-leerders (alfabeties) met jul harde werk en toewyding:

Sabine Barnard

Abigail Fourie

Andries Gouws

Johannes Mouton

Dané Olivier

Stella Pansegrouw

Zani Scholtz

Katryn Silvis

Amelie van der Walt

Annalene Viljoen
Op Woensdag, 09 April, het ons jaarlikse Kleiduifskietkompetisie by die Gun Valley Skietbaan te Agter-Paarl plaasgevind. Die deelnemers was almal eens dat dit ‘n hoogtepunt op Laerskool Jan van Riebeeck se kalender bly. Baie dankie aan Safari Outdoor wat jaarliks as die hoofborg optree. Groot dankie aan Stephanie le Roux en Ria Hertzog wat die gewilde dag vir die 5de agtereenvolgende jaar gereël het. Die geesdrif en samesyn het soos ‘n paal bo water uitgestaan. Baie dankie aan die EXCO-span wat gaan deelneem het. Ek was die enigste haan onder die henne en ek glo die dames het hierdie unieke dag terdeë geniet, alhoewel hul skouers baie broos van die skiet is. Die dag word saam met Alive Foundation aangebied en die fondse geïn op die dag sal vir behoeftige leerders aangewend word. Baie geluk aan Stephanie en Ria met ‘n puik dag, vol groot opwinding.
Môre vind die jaarlikse Kaperjolle plaas. Hierdie sosiale hoogtepunt is uiters gewild onder beide die ouers en die leerders. By voorbaat dankie aan die OOV onder leiding van Susan Derksen wat die opwindende dag reël en moontlik maak. Ek is seker die leerders kan nie meer wag om aan die pretdag deel te neem nie.

Ek sluit dan week 1 af, sien uit om almal môre vanaf 12:00 by die Kaperjolle te verwelkom en mag julle ‘n wonderlike naweek saam met vriende en familie geniet. Sterkte vir die hokkie-wedstryde en landloop wat vanmiddag plaasvind, die netbaltoernooie van môre asook die eerste rondte van die AKTV-redenaars wat vandag en môre by Hoërskool Jan van Riebeeck plaasvind. Graag gaan ek voort om ons pragtige taal te promoveer en sluit ek met die bekende Afrikaanse uitdrukking af:

‘Ganse najaag’

Ganse najaag verwys na ‘n mens wat weens besopenheid slingerend loop. Met tong in die kies: mag dit hopelik nie met ons tydens môre se Kaperjolle gebeur nie - veral nie met die skoolhoof nie. Dit sal nou ‘n sosiale flater van skandaligheid wees.

Vriendelike groete,

Naas Beets
SKOOLHOOF

Kliek HIER vir Die Suidooster

met al die nuutste artikels, foto's en video's.

Kliek HIER vir advertensies van die week