Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 24 Oktober 2025

Week 2 van die laaste kwartaal kom dan vandag te vinnig tot ’n einde, maar het gelukkig met groot opwinding op Maandag, 20 Oktober, afgeskop met die aanbieding van ons jaarlikse en gewilde matrieksaal. Dit is al tradisie dat ons jaarliks al die matrikulante wat by ons graad 7 voltooi het, uit te nooi na ’n spesiale matrieksaal. Ons het dus vanjaar weer al die 2025-matrikulante wat tydens 2020 by ons in graad 7 was, uitgenooi om die spesiale saalbyeenkoms saam met ons leerders en personeel by te woon om vir hulle sterkte vir die komende matriekeksamen toe te wens.

Ons nooi nie net Hoërskool Jan van Riebeeck se matrikulante wat by ons in die laerskool was nie, maar alle matrikulante wat in graad 7 by ons was. Die 2025-matrikulante moes in hul graad 7-jaar met Covid-uitdagings oor die weg kom, en hulle het heelwat van hul graad 7-skooljaar gemis as gevolg van al die drakoniese inperkings. Ons was baie bevoorreg dat die 2020 Hoofdogter en Hoofseun, Emma Bartel en Cayle Stoltz, ’n kort toespraak kon lewer. Baie dankie ook aan Jana Brink, tans die Hoofdogter van Hoërskool Milnerton, wat ook ’n baie inspirerende toespraak gelewer het.

My beste wense vergesel die merkwaardige matrikulante vir die komende matriekeksamen. Hulle moet nou al die harde werk wat hulle tot gr. 12 gebring het in aksie omskakel om vir hulle ’n blink toekoms te verseker. Baie dankie aan juf. Marinda vir al die puik reëlings om die spesiale matrieksaal moontlik te maak. My beste wense vergesel dan ook die matrikulante en onderwysers van Hoërskool Jan van Riebeeck vir die belangrike eksamen, en mag hul uitslae alle verwagtinge oortref.
Op Maandag, 20 Oktober, het ons ook ’n besoek van die onderwysdistrikskantoor (MCED) ontvang waartydens ons kringsbestuur, mnr. Zola Pahlana, ons kwartaal 3 se “Term Performance” kom afteken het. In ’n neutedop behels dit hoofsaaklik ’n akademiese evaluasiebesoek waartydens kwartaal 3 se akademiese punte gekontroleer word, asook dat dit behoorlik gemodereer is. Verder is alle registers (bv. leerderbywoning, personeelbywoning, verlof, siekte en aftyd) by die skool vir volledigheid en akkuraatheid afgeteken. Mnr. Pahlana het my gevra om die personeel, skoolbestuur en beheerraad te komplimenteer vir die puik werk wat by ons skool verrig word. Ek is baie dankbaar vir ons toegewyde en hardwerkende personeel asook ’n dinamiese beheerraad wat ons skool net na nog hoër hoogtes ter wille van ons Jannies lei!

Verskeie tennis- en krieketwedstryde, asook ’n swemgala, het alreeds die eerste twee weke van die kwartaal plaasgevind, en ons spanne en swemmers het weereens puik gevaar. Graag deel ek die volgende spog-sportuitslae:
  • Swemgala te Laerskool Kampsbaai op Vrydagmiddag, 17 Oktober:
    Ons behaal x10 eerste plekke; x15 tweede plekke; x15 derde plekke; x7 vierde plekke; x3 vyfde plekke en x1 sesde plek tydens die bogenoemde gala. Baie geluk aan ons Hoof van Swem, juf. Ilse-Marié, en ons swemmers met die puik uitslae.
  • Tennistoernooi vir o.13A-spanne te Laerskool Brackenfell op Saterdag, 18 Oktober:

    Ons o.13A-seunspan (foto onder, v.l.n.r.: Kohl Kushner, Nils le Roux, Rafa Lamprecht en Ben Esterhuyse) het puik gevaar en ongelukkig in die finaal verloor en dus ’n 2de plek behaal. Ons o.13A-dogterspan (foto onder, v.l.n.r.: Maia du Toit, Jeanne van Heerden, Annalene Viljoen en Mia-Lynn Podesta) het ’n derde plek behaal. Baie geluk aan ons Hoof van Tennis, juf. Suné, en ons eerstespanspelers met die puik prestasies.
Tans is die onderwysers, onder leiding van hul graadhoofde en fasehoofde, besig met die 2026-klasindelings. Sommige ouers mag dalk nie bewus wees nie, maar ons het ’n welgevestigde klasindelingsbeleid om klasse regverdig vir die volgende jaar in te deel met die fokus op die leerder in totaliteit. Die volgende faktore word in ag geneem met die indeling van klasse:
  • Akademiese uitslae;
  • Leerderverhoudinge (vriendskappe);
  • Mediese aanbevelings en uitdagings;
  • Leerderpersoonlikhede moet sover as moontlik met onderwyserpersoonlikhede versoen;
  • Leerders met uitdagings per klas;
  • Balans tussen seuns en dogters per klas;
  • Taalvaardighede (uitdaging met die Afrikaanse taal);
  • Regverdige verdeling van leerdergetalle per onderwyser.
Ek wil veral die grondslagfase-ouers/voogde vir 2026 vriendelik versoek om nie onderwysers te nader om versoeke te rig om jul kinders volgende jaar by ’n spesifieke onderwyser te plaas nie. Ons is baie konsidererend met die klasindelings, maar ek glo julle kan verstaan: as ons een ouer se versoek toelaat, dan moet ons almal se versoeke toelaat, en dit is tog prakties nie moontlik en uitvoerbaar nie. Ons het goeie en toegewyde onderwysers, en by voorbaat dankie dat julle ons in die proses van klasindelings vertrou. Huppelland volg nie spesifiek hierdie klasindelingsbeleid nie, want die leerders is nog baie jonk.

Ek mag dalk vir die volgende stelling in die moeilikheid beland:

Kinders is meer aanpasbaar as wat ons besef en dikwels is ons as ouers oorbeskermend. Ons kan al ons leerders spreekwoordelik in watte toedraai, maar ons weet die lewe werk nie so nie en dit is nie volhoubaar nie. Ek bedoel beslis nie dat ons onnodig spanning op leerders moet plaas om hulle vir die lewe voor te berei nie, maar eerder dat ons oor tyd stelselmatig leerders leer om aanpasbaar, selfstandig en onafhanklik te word sodat die transisie van laerskool na hoërskool soomloos kan geskied, soos dit tans is. Ons skool is ’n veilige omgewing waar ek as skoolhoof wil seker maak dat elke leerder hul laerskoolloopbaan geniet en vreugde daaruit put. Baie dankie dat julle ons in dié verband sal vertrou.

Dis vir ons baie sleg wanneer 'n Jannie-personeellid ons verlaat, maar wanneer drie onderwyseresse en een assistent-juffrou ons verlaat, is ons sommer baie hartseer. Elkeen van hierdie personeellede het wonderlike, mooi redes waarom hulle vir eers vir LS Jan van Riebeeck vaarwel gaan roep. Ons allermooiste wense vergesel hulle! Lize Terblanche (gr. 1), Maricqe Coetzer (gr. 2), Marlize ter Borg (gr. 3) en Tine-Louise (assistent) gaan groot leemtes in ons Jannie-harte los. Ons is uiters dankbaar om reeds bekwame onderwysers in hul plek te kon aanstel wat vanaf 1 Januarie 2026 in ons skool se diens sal wees: Mieke Eefting (gr. 1), Anthea Gravin (gr. 2) en Monica Robertson (assistent). Ons is in die proses met die gr. 3-aansoeke en onderhoude en sal so gou ons kan hierdie onderwyser ook bekendmaak.

Dit is dan, soos die vorige week, my voorreg om verder voort te gaan om ons pragtige moedertaal te promoveer, en sluit ek met nog ’n bekende Afrikaanse uitdrukking af:

“Die muggie uitsif, maar die kameel insluk.”

Die uitdrukking verwys na iemand wat slegs op kleinighede fokus, maar nie op belangrike en ernstige dinge ag slaan nie. Die uitdrukking kan ook verwys na ’n persoon wat iets wat onskuldig is, graag veroordeel, maar terselfdertyd ’n groot sonde sonder enige skaamte begaan.

Geniet ’n wonderlike naweek saam met jul gesinne. Sterkte met die swemgala wat vanmiddag by Curro Century City plaasvind asook môre se mini-kriekettoernooi te Laerskool Stellenbosch, en die junior koor wat môreoggend by die PlezierMarkt te Hoërskool Jan van Riebeeck optree.

Vriendelike groete
Naas Beets
Skoolhoof

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

AKADEMIE

Eksamenrooster: November 2025

Sien die eksamenrooster vir November 2025 hier onder:

KULTUUR

Ouer koor optrede by LS JvR-Kerskonsert

Ons nooi graag die ouers van ons junior en senior koorlede uit, om deel van die ouer koor te wees wat tydens ons kerskonsert op 27 November gaan optree. Kom deel in die vreugde van samesang tydens Kerstyd!

Die repetisietye is as volg:

Dinsdag, 18 November, om 18h30 - 19h30
Vrydag, 21 November, om 18h30 - 19h30
Dinsdag, 25 November, om 18h30 - 19h30

Ons moedig almal aan om al drie oefeninge by te woon, maar verstaan heeltemal as jy slegs by twee kan wees. Kom sing steeds saam!

Indien jy graag deel wil wees van hierdie besonderse ervaring, gaan loer gerus op die junior en senior kore se WA-groepe vir die skakel wat jou na die vorm sal neem.

Kontak vir Rolene van Zyl by rolene@jvrprim.co.za indien daar enige verdere vrae is.

Kultuurkonserte: 29, 30, 31 Oktober

Dit is weer tyd om konsert te hou! Ons rond die jaar se kultuuraktiwiteite af met ’n heerlike aand van musiek en kultuur, waartydens ons saam met ons leerders hul harde werk, toewyding en puik vordering vier.

Let asseblief op dat ons ’n ekstra datum bygevoeg het, aangesien daar soveel leerders is wat aan hierdie konserte deelneem. Ouers van die leerders wat deelneem, sou reeds ’n e-pos van juf. Rolene en jou kind se musiekonderwyser ontvang het òf kyk gerus na die lys met name wat op die Musiek WA-groep geplaas is. Maak asseblief seker dat julle weet op watter datum en tyd jou kind speel.

ISF-Kultuurkonserte:

Woensdag, 29 Oktober, om 19h00 - 20h00 (Alle graad 4-deelnemers)
Donderdag, 30 Oktober, om 17h15 - 18h15 (graad 5 - 7-deelnemers)
Donderdag, 30 Oktober, om 19h00 - 20h00 (graad 5 - 7-deelnemers)

GF-Kultuurkonsert:

Vrydag, 31 Oktober, om 08h00 - 09h00

Kontak gerus vir juf Rolene by rolene@jvrprim.co.za vir enige verdere navrae.

ALGEMEEN

Begrotingsvergadering: Maandag, 03 November 2025

Beste Ouers,

Sien asseblief baie belangrike inligting hier onder rakende ons jaarlikse begrotingsvergadering op 3 November 2025:

Jannies gee om!

Kyk hoe ons hierdie kwartaal 'n verskil in ons gemaak gemeenskap wil maak, hier onder:

Ouersportdag 2025 – Kry jou spanne reg!

Maak reg vir pret, spanpoging en sportgees!

Saterdag, 29 November 2025, van 08:30 tot 17:30 bied ons die opwindende Ouersportdag aan.

Kom wys jou vaardighede in:
  • Netbal
  • 7’s Raakrugby
  • 8’s Hokkie
  • Aflosswem
  • Tennis
  • Skaak
Daar is slegs plek vir 8 spanne, elk bestaande uit 16–20 lede. Moenie uitmis nie – dit beloof ’n dag vol lag, kompetisie en lekker saamwees.

???? Skakel of WhatsApp Danielle le Clus-Rossouw by 082 923 5903 om meer inligting te kry en jou span se plek te bevestig.

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

SPORT

Krieketuitslae: 20-22 Oktober 2025

Hier volg die week se krieketuitslae:

Swemuitslae: 17 Oktober 2025

Hier volg die week se swemuitlsae:

Tennisuitslae: 22 Oktober 2025

Hier volg die week se tennisuitslae:

KULTUUR

Antjie Samuel: Huisgenoot Eisteddfod Kategoriewenner

Antjie Samuel (graad 5) het aan die Huisgenoot Eisteddfod deelgeneem, en is as ’n kategoriewenner in haar ouderdomsgroep (graad 4-7) van die poësie- en redenaarsafdeling aangewys. Baie geluk met hierdie uitmuntende prestasie, Antjie! Ons is trots op jou.
 

Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad