Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 31 Oktober 2025  

Vandag sluit ons week 3 van die kwartaal af deur vir Oktobermaand spreekwoordelik te groet. Dit bly maar verstommend hoe vinnig die jaar einde se kant toe snel, met een van die langste maande van die jaar wat in ’n oogwink verby is, om môre Novembermaand te verwelkom. Kersfees maak dan sommer ook skielik sy verskyning op die kalender met die pragtigste Kersfeesversierings wat winkelsentrums oral verfraai.

Ons junior koor het op Woensdag, 22 Oktober, aan die Weskus Koorfees te Laerskool Van Riebeeckstrand, asook op Saterdagoggend, 25 Oktober, te Hoërskool Jan van Riebeeck tydens hul PlezierMarkt opgetree en hulle weereens puik van hul taak gekwyt. Baie dankie, mnr. Ben en die junior koor, wat ons so trots maak met jul puik optredes die afgelope jaar.
Graag wil ek van die geleentheid gebruik maak om die volgende leerders wat silwer medaljes tydens die Kaapse Eisteddfod verower het, hartlik geluk te wens – ons is baie trots op julle:

Floris Muller – voordrag

Frannie Samuel – voordrag

Cornelia Opperman – voordrag

Jean-Jacques Rossouw – voordrag

Mika van der Walt – voordrag

Antjie Samuel – voordrag

Coreen Scholtz – onvoorbereide lees Graad 5–6, asook Junior Sang (in die kategorie Afrikaanse Lirieke)

Gerhard Conradie – onvoorbereide lees Graad 5–6, asook vir voordrag

Jamie Jordaan – unprepared reading

Susie Samuel – onvoorbereide lees, asook unprepared reading

Coreen Scholtz en Antjie Samuel – Beste Junior Deelnemer in die UNISA-afdeling, asook onvoorbereide lees vir Graad 5–6.

Op Vrydag, 24 Oktober, het ons vir die eerste keer aan Laerskool De Hoop se middag-/aand-atletiekbyeenkoms onder spreiligte deelgeneem. Ons het 32 atlete na die De Hoop-atletiekbyeenkoms in Somerset-Wes geneem, en ons atlete het uitstekend presteer. Hul medaljes is tydens die saalbyeenkoms op Dinsdag, 28 Oktober, uitgedeel:

Jack Dawes – 1ste plek seuns o.13 80 m hekkies

Bella Malan – 2de plek dogters o.11 80 m naellope

Louis Hofmeyr – 2de plek seuns o.10 80 m naellope

Dylan Daniels – 2de plek seuns o.13 verspring

Maia du Toit – 3de plek dogters o.11 70 m hekkies

Rafa Lamprecht – 3de plek seuns o.12 hoogspring

Lizzy Snyders – 3de plek dogters o.10 verspring

Leah Jacobsz – 3de plek dogters o.11 600 m

Pumi Salamani (o.13), Dane Botha (o.12), Stef Nel (o.11) en Louis Hofmeyr (o.10) – 3de plek in die wisselaflos.

Baie geluk aan die bogenoemde atlete wat ons so trots maak, en baie dankie aan mnre. Leon, André, Keenen en Dian wat ons atlete na Laerskool De Hoop vergesel het.
Huppelland se jaarlikse kunsuitstalling het vanjaar op Donderdag, 23 Oktober, plaasgevind en was weereens ’n reuse sukses. Dit was ’n betowerende aand waar al ons Huppelland-ouers hul kinders se unieke kinderkuns en kreatiwiteit kon beleef. Die volgende drie kunstenaars het vanjaar ons leerders se kuns geïnspireer:

Gr R: Michal Turner

Gr 0: Jackie Veldman

Gr 00: Austen Gordon

Die bogenoemde kunstenaars het gedurende kwartaal 2 die onderskeie grade kom besoek om apart met die leerders te praat, van hulself te vertel, en hul ongelooflike kuns vir die leerders en juffrouens te wys. Hulle het daarna ook tyd met ons onderwysers spandeer om die kunsmedium wat vanjaar gebruik moes word, te bespreek en hoe hulle die projek wou aanpak om dit vir die leerders te vereenvoudig. Hulle het ook tydens die maak van die kunswerke kom hulp verleen, en Jackie het selfs saam met die Gr. 0-leerders gesit.

Die drie kunstenaars het ook die kunsuitstalling bygewoon en was in vervoering oor die leerders se kreatiewe kunswerke. Ons is baie dankbaar vir hulle tyd, moeite en inspirasie om die sukses van die projek te verseker. Ons leerders is baie bevoorreg om hierdie tipe blootstelling te kon ervaar.

Ons ouers kon tydens die uitstalling smaaklike etes van Ardi’s food truck bestel, en daar was heerlike wyn van Opstal Estate Wines te koop. Baie dankie aan Tina le Cordeur (een van ons mammas wat Source Artistry besit) wat ons elke jaar help om hierdie talentvolle, plaaslike kunstenaars te identifiseer. Dit is ons derde jaar waarby hierdie plaaslike kunstenaars betrokke was, en ons kan nie wag vir volgende jaar se uitstalling nie!

Graag wil ek vir juf Louise en haar span hartlik bedank vir die puik reëlings en harde werk wat tot die sukses van die stylvolle kunsuitstalling gelei het.
Ons skool het die afgelope vyf jaar hard gewerk om ’n gesonde en kompeterende sportkultuur, met die regte kombinasie van aanmoediging, deelname, prestasie, dissipline en die kweek van liefde vir die sportkodes by die skool, te vestig. Dit het ons in staat gestel om kompeterend teen heelwat groter skole deel te neem, asook om aan groot toernooie deel te neem. Geborgde sportdrae het ’n integrale deel van die skoolsportbedryf geword, wat uitstekende handelsmerk- en bemarkingsgeleenthede vir borge/donateurs bied.

Dus neem ek graag die vrymoedigheid om julle as ouers/voogde te nader rakende moontlike borgskappe vir ons eerste sportspanne se wedstrydklere. Ek glo dat die eerste sportspanne hulle vanjaar weereens bewys het met hul puik uitslae, en ons skool word al hoe meer na top sportgeleenthede genooi as gevolg van die suksesvolle sportontwikkeling wat die afgelope vyf jaar by ons skool plaasgevind het.

Ek wil graag vir Meyer Lamprecht (’n ouer by ons), wat sy hand opgesteek het om volgende jaar die eerste rugbyspan te borg, hartlik bedank vir sy ruim bydrae – ons waardeer dit baie!

Dus, indien jy sou belangstel om een van die volgende eerste spanne te borg of ons in kontak met ’n potensiële borg te stel, kontak my asseblief:
  • Netbal
  • Hokkie – seuns
  • Hokkie – dogters
  • Tennis (seuns en dogters)
  • Krieket
  • Atletiekspan
  • Swemspan
  • Skaak
Graag herinner ek almal aan die belangrike begrotingsvergadering met ouers op Maandag, 3 November 2025, om 18:00 in die skoolsaal. Gedurende hierdie vergadering maak ons die verhoging van die 2026-skoolfooie bekend. Soos julle bewus is, vereis die BELA-wetgewing dat 10% van ons ouers (kworum) die begrotingsvergadering moet bywoon om die vergadering legitiem te maak.

Dit beteken dat daar ’n minimum van 85 ouers/voogde die vergadering moet bywoon! Dus doen ek ’n ernstige beroep dat julle die vergadering sal bywoon. As motivering om ’n kworum te verseker, sal elke ouer/voog wat die vergadering bywoon, se kind(ers) toestemming ontvang om die volgende dag (4 November) sivvies skool toe te dra, asook ’n smaaklike roomys te ontvang. By voorbaat dankie dat julle die belangrike begrotingsvergadering op Maandag, 3 November, om 18:00 sal bywoon om die effektiewe bestuur van die skool te verseker.

Dit is dan, soos die vorige weke, my voorreg om verder voort te gaan om ons pragtige moedertaal te promoveer, en ek sluit af met nog ’n bekende Afrikaanse uitdrukking:

"’n Lansie vir iemand breek"

Hierdie uitdrukking beteken om vir iemand ’n goeie woord te doen of in die bres te tree (met ander woorde, om iemand te verdedig of vir iemand op te kom).

Geniet ’n wonderlike naweek saam met jul gesinne.

Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

AKADEMIE

Eksamenrooster: November 2025

Sien die eksamenrooster vir November 2025 hier onder:

KULTUUR

Ouer koor optrede by LS JvR-Kerskonsert

Ons nooi graag die ouers van ons junior en senior koorlede uit, om deel van die ouer koor te wees wat tydens ons kerskonsert op 27 November gaan optree. Kom deel in die vreugde van samesang tydens Kerstyd!
 
Die repetisietye is as volg:
 
Dinsdag, 18 November, om 18h30 - 19h30
Vrydag, 21 November, om 18h30 - 19h30
Dinsdag, 25 November, om 18h30 - 19h30
 
Ons moedig almal aan om al drie oefeninge by te woon, maar verstaan heeltemal as jy slegs by twee kan wees. Kom sing steeds saam!
 
Indien jy graag deel wil wees van hierdie besonderse ervaring, gaan loer gerus op die junior en senior kore se WA-groepe vir die skakel wat jou na die vorm sal neem.
 
Kontak vir Rolene van Zyl by rolene@jvrprim.co.za indien daar enige verdere vrae is.

Kwartaal 4 Kooroptredes

Daar lê ’n opwindende kwartaal vir ons kore voor, met optredes by verskeie geleenthede. Maak ’n aantekening in jou dagboek, en hou ons WhatsApp-groep vir verdere inligting dop:
 
Woensdag, 22 Oktober (Junior en Senior Kore)
* Weskus Koorfees @ Laerskool Van Riebeeckstrand
 
Saturday, 25 Oktober (Junior Koor)
* Pleziermarkt @ Hoërkool Jan van Riebeeck
 
Donderdag, 27 November (Junior en Senior Kore)
* Laerskool Jan van Riebeeck Kerskonsert
 
Sondag, 30 November (Junior en Senior Kore)
* NGK Tamboerskloof Kerkdiens
 
Kontak gerus vir juf Rolene met enige vrae.

ALGEMEEN

Begrotingsvergadering: Maandag, 03 November 2025

Beste Ouers,

Sien asseblief baie belangrike inligting hier onder rakende ons jaarlikse begrotingsvergadering op 3 November 2025:

Belangrike vergaderings: 3 - 6 November 2025

Neem asseblief kennis van die volgende inligtingsvergaderings wat volgende week plaasvind:

Maandag, 3 November:  Goedkeuring van begroting 2026 om 18:00 in die skoolsaal (sien mnr. Beets se skrywe). Slegs vir ouers.

Dinsdag, 4 November: Oorgang van graad 3 na 4-ouerinligtingsgesprek om 18:00 in die skoolsaal. Voornemende graad 4-ouers van 2026. Slegs vir ouers/voogde.

Woensdag, 5 November: Voornemende graad 1-ouers van 2026 ontmoet mekaar om 18:00 in die skoolsaal. Slegs vir ouers/voogde.

Donderdag, 6 November: Oorgang van graad 6 na 7-ouerinligtingsgesprek om 18:00 in die skoolsaal. Voornemende graad 7-ouers van 2026. Slegs vir ouers/voogde.

Jan Kas sluit: 27 November 2025

Ons skoolklerebank, Jan Kas, sal op Donderdag, 27 November 2025, om 10:00 vir die jaar sluit vir voorraadopname.

Ons vra vriendelik dat ouers en leerders asseblief alle nodige skoolklere voor hierdie tyd aankoop, aangesien geen verkope ná hierdie datum hanteer kan word nie.

Baie dankie vir julle begrip en samewerking.

2026 Ondersteunersdrag: Hou die spasie dop

Hou die nuusbrief dop vir iets opwindends vir 2026!

Ouersportdag 2025 – Slegs 1 span oor!

Maak reg vir pret, spanpoging en sportgees!

Saterdag, 29 November 2025, van 08:30 tot 17:30 bied ons die opwindende Ouersportdag aan.

Kom wys jou vaardighede in:

  • Netbal
  • 7’s Raakrugby
  • 8’s Hokkie
  • Aflosswem
  • Tennis
  • Skaak
Daar is nog slegs plek vir 1 span, bestaande uit 16–20 lede. Moenie uitmis nie – dit beloof ’n dag vol lag, kompetisie en lekker saamwees.

???? Skakel of WhatsApp Danielle le Clus-Rossouw by 082 923 5903 om meer inligting te kry en jou span se plek te bevestig.

Jannies gee om!

Kyk hoe ons hierdie kwartaal 'n verskil in ons gemaak gemeenskap wil maak, hier onder:

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

SPORT

Tennisuitslae: 30 Oktober 2025

Sien die week se tennisuitslae hier onder:

Swemuitslae: 24 Oktober 2025

Sien die week se swemuitslae hier onder:

Krieketuitslae: 23-29 Oktober 2025

Sien die week se krieketuitslae hier onder:

De Hoop Atletiekbyeenkoms

Ons het Vrydag, 24 Oktober, vir die eerste keer deelgeneem aan die De Hoop-atletiekbyeenkoms. Dit was ’n koel middag, maar ons atlete het regtig baie mooi presteer.

Soos ons oor die laaste paar jaar gesien het, staan ons nie terug vir die groot skole nie.

Baie geluk aan die volgende atlete wat medaljes verower het:
Jack Dawes, 1ste 80m hekkies
Bella Malan, 2de 80m
Louis Hofmeyr, 2de 80m
Dylan Daniels, 2de verspring
Maia du Toit, 3de 70m hekkies
Rafa Lamprecht, 3de hoogspring
Lizzy Snyders, 3de verspring
Leah Jacobsz, 3de 600m
Vir die laaste item van die aand het Phumi Salamani, Dane Botha, Stef Nel en Louis Hofmeyr ’n 3de plek in die wisselaflos verower. ’n Briljante manier om die aand af te sluit.
Baie dankie aan elke atleet wat deelgeneem het en net hulle beste gegee het. Ons is baie trots op hulle.
Baie dankie aan almal wat kom ondersteun het; dit beteken soveel vir ons kinders.
Laastens wil ons vir mnre. Leon, André, Keenen en Dian bedank vir die mooi manier waarop hulle met ons atlete gewerk het.

OUD-JANNIES PRESTEER

Nuus oor ons oud-Jannies se prestasies.

Spog met oud-Jannies

Ons is opgewonde om met hierdie oud-Jannies te spog, aangesien die twee seuns tot die leerderraad van Rondebosch Boys’ High School vir 2026 verkies is. Baie geluk aan Taniel Webber, wat as hoofseun, en Alexander Benecke, as leerderraadslid verkies is. Ons wens hulle alle sterkte toe met die belangrike werk wat vir hulle voorlê.
Taniel en sy ouers, Thornley en Elbe Webber.
Alexander en sy ouers, Christo Benecke en Barbara Kemp.

Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad