Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 14 November 2025

Die eerste week van die eksamen vir die graad 7’s is agter die rug, terwyl die graad 4 – 6-leerders gister, 13 November, met hulle eksamens afgeskop het. Die grondslagfase se finale assesserings vir die jaar het ook die week tot ’n einde gekom.

Baie dankie dat julle jul kind/ers tydens die finale eksamens ondersteun sodat hulle nie voel dat hulle die eksamenpad alleen stap nie. Baie dankie dat julle ook sal help dat jul eie vrese en angs vir die komende eksamens nie in jul kind/ers manifesteer nie. Ek weet ook dat julle bekommerd is dat hulle goed in die komende eksamens sal vaar. Indien jou kind/ers spogpunte behaal, is dit wonderlik en julle as ouer/ouers is geseënd, maar dit is ongelukkig nie vir almal beskore nie. Ons leerders doen die beste wat hulle kan op die bepaalde tyd. Daar is nog hope tyd vir ontwikkeling wat met genoegsame ondersteuning in plek sal val. Ons verloor daarom nie hoop nie, maar is trots op dit wat ons leerders vermag.

Dit het verder onder my aandag gekom dat sommige ouers ons onderwysers die afgelope tyd onder geweldige druk oor die eksamens plaas, laat saans boodskappe stuur en onmiddellike terugvoer verwag, en in die proses baie krities is oor die komende eksamens, die eksamenrooster en hoe ons dit bestuur. Ek het dus besluit om my nuusbriefgedeelte vir week 5 slegs aan dié onderwerp te wei en vir julle bietjie meer agtergrond te gee, veral oor die eksamenrooster en die finalisering van punte.

Moet asseblief nie vergeet dat ons ’n openbare skool is wat WKOD se voorskrifte moet eerbiedig nie. Dus bepaal die distrikskantoor (MCED), onder leiding van die kringbestuurder, wanneer ons die finale eksamens mag begin skryf asook wanneer dit moet eindig, met ongelukkig geen blokdae tussenin nie. Antwoordstelle per vak moet binne ’n sekere tydperk gemerk en gemodereer word, en dan word die punte so spoedig moontlik op die departementele skedules ingevoer wat dan die finale punte verwerk (daar is gewigte in die formules ingebou om die finale punte te bepaal – ons het ook nie daaroor beheer nie). Punte moet ook teen ’n sekere sperdatum ingevoer wees, en dan geskied promosie en progressie deur die departement op ’n dag en tyd wat hulle bepaal.

Wat presies is promosie en progressie? Indien ’n leerder aan die minimum promosievereistes voldoen, vind promosie van die leerder na die volgende graad plaas, m.a.w. ’n leerder slaag al die vakke en word promoveer na die volgende graad. Indien die leerder nie aan die promosievereistes voldoen nie en die leerder het reeds die spesifieke jaar in hierdie fase herhaal, word progressie toegepas. Progressie beteken dat die leerder na die volgende graad oorgeplaas word met die onderneming dat daar ondersteuning aan die leerder gebied sal word om die nodige vereistes te bereik. Progressie gaan gepaard met voorlegging van bewyse van ondersteuning (IOP – individuele ondersteuningsplan) wat in die daaropvolgende jaar moet geskied, asook wie daarvoor verantwoordelik gaan wees.

Promosie en progressie vir Gr. R–3 en 4–7 vind vanaf 26 November op verskillende dae plaas, aangesien ons dan elke leerder se gerekordeerde bewyse van assessering, m.a.w. alle punte vir kwartaal 1–4, aan hulle voorlê om afgeteken te word. Ek glo dat julle ook kan insien dat dit deeglike voorbereiding vereis en baie tyd neem om promosie en progressie af te handel voor skole aan die einde van die jaar sluit. Dit is ook een van die redes dat ons nie oor ’n langer tydperk of later in die jaar kan eksamen skryf nie.

Ek wil net graag uitwys dat hierdie net ’n eksamen is en nie ’n kompetisie nie! Ons is net ’n laerskool – maak gerus seker dat jou kind/ers verstaan dat dit belangrik is om vir die eksamen voor te berei, maar ook dat die uitslae nie hul as leerder definieer of bepaal watter tipe persoon hy/sy is nie. Nie almal kan goed in Wiskunde presteer nie; dalk is jou kind eendag ’n kunstenaar of akteur en maak Wiskunde dalk nie saak nie, of dalk word hy/sy eendag ’n entrepreneur en maak Geografie- en Taalpunte dalk nie eers saak nie. As eksamenpunte so belangrik is, dan sal onder andere alle dokters, ingenieurs, geëktrooieerde rekenmeesters en aktuarisse mos die enigste gelukkige mense in die wêreld wees.

Ek het ook voorheen genoem dat eksamenpunte vir seker nie karakter, omgee, empatie en kreatiwiteit meet nie. Elke kind ontwikkel teen sy eie tempo – ons het vanjaar weer gesien hoe oud-Jannies wat in hul graad 7-jaar by ons nie die Top 10-akademiese posisies beklee het nie, vanaf graad 8 begin uitskiet het en teen matriek as akademiese uitblinkers uitstaan. Moet dus asseblief nie jou kind/ers op laerskoolvlak onnodig druk vir uitmuntende punte nie, net omdat jy dit op laerskoolvlak behaal het nie.

Ons onderwysers het die hele jaar uit hul pad gegaan om die leerders so goed moontlik vir eksamens voor te berei. Ons het die eksamenrooster betyds aan ouers/voogde versprei om genoeg tyd vir voorbereiding te gee. Ek, as skoolhoof, sien dat eksamen ’n belangrike tydperk van groei en ontwikkeling (aanleer van vaardighede) vir leerders bied, en nie ’n tydperk van prestasie en angs nie – daarvoor het ek julle as ouers se begrip nodig. Ons moet nooit uit die oog verloor dat dit moontlik ’n groter prestasie is as jou kind/ers ’n hoë emosionele intelligensie (EI) het as net ’n hoë intelligensiekwosiënt (IK) nie.

’n Kind se IK word dikwels as deurslaggewend vir prestasie beskou, maar emosionele intelligensie (EI) word al hoe meer as die belangrikste bepaler van sukses beskou. Kinders word nie met EI gebore nie, maar dit word oor tyd aangeleer, en ek glo ons skool help om dit oor tyd te ontwikkel. ’n Hoë EI beteken, in ’n neutedop, dat ’n mens jou sterk- en swakpunte verstaan, goeie menseverhoudinge handhaaf en enige situasie met selfvertroue kan hanteer en aanpak. Dus, moedig asseblief jou kind/ers net aan om hul beste te doen, vir ander om te gee en dat julle nog steeds vir hulle lief is, ongeag die uitslae.

Dit is dan, soos die vorige weke, my voorreg om verder voort te gaan om ons pragtige moedertaal te promoveer, en ek sluit af met nog ’n bekende Afrikaanse uitdrukking:

“Is daar ’n voëltjie onder jou hoed?”

Die uitdrukking word gebruik as iemand ’n huis instap met ’n hoed of ’n mus op sy kop en hy (gewoonlik ’n man of ’n seun) vergeet het om dit af te haal voordat hy die huis binnegaan.

Geniet ’n wonderlike naweek saam met jul gesinne, en mag die Bokke die naweek weer wen – en dié keer teen Italië, ook bekend as die Azzurri.

Naas Beets
SKOOLHOOF

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

AKADEMIE

Eksamenrooster: November 2025

Sien die eksamenrooster vir November 2025 hier onder:

Gr.4-7 Prysuitdeling: Aansoek vir spesiale toekennings

Alle gr.4-7 leerders wat tydens hierdie jaar besonderse prestasies behaal het óf veelsydigheid getoon het op sport- en kulturele gebied kan in aanmerking kom vir 'n spesiale prys by die prysuitdeling.
Voltooi asb. die aangehegte vorm deur op die knoppie hier onder te kliek en handig die vorm en afskrifte van bewyse van die prestasie(s) teen Vrydag, 21 November by juf. Lucia de Jager in. 'n Hardekopie van die vorm kan ook afgehaal word.

Interne sport- en kultuurprogram tydens eksamentyd: 17 - 27 November 2025

Neem asseblief kennis dat sport en kultuur binne skooltyd plaasvind aangesien die skool daagliks om 13:15 verdaag. Leerders kom met korrekte sportdrag vir die bepaalde sportoefening op die dag skool toe. Maak asseblief ook seker dat musiekleerders die korrekte instrumente saambring.

Sien hier onder die rooster vir die program:

KULTUUR

Kerskonsert - Donderdag, 27 November 2025

Kom geniet ’n betowerende aand vol musiek en feesvreugde tydens ons jaarlikse LsJvR Kerskonsert!

???? Datum: Donderdag, 27 November
???? Tyd: 19:00
???? Kaartjies: R50 (beskikbaar op Karri)

ALGEMEEN

Ouersportdag: 29 November 2025

Kom geniet 'n dag vol pret saam met ons eie sportsterre!

Sien die insetsel hier onder vir meer inligting:

JvR-Ondersteunersdrag is hier!

Bestellings vir ons splinternuwe ondersteunersdrag deur Old School is nou oop!

As jy nie seker is watter grootte om te kies nie, is jy welkom om by Jan Kas gedurende winkeltye aan te pas.

???? Volg die skakel om jou bestelling te plaas en wys jou Ls JvR-trots!
PLAAS BESTELLING HIER

BESTELLINGS SLUIT : 28 November 2025

Jan Kas ure tydens eksamen

Neem asseblief kennis dat Jan Kas aangepaste tye sal hê gedurende die eksamen.

Hierdie tye sal vanaf Donderdag, 13 November gevolg word.

Maandag & Woensdag - 7:00 - 8:00
Dinsdag en Donderdag - 12:30 - 13:30

Jan Kas sluit: 27 November 2025

Ons skoolklerebank, Jan Kas, sal op Donderdag, 27 November 2025, om 10:00 vir die jaar sluit vir voorraadopname.

Ons vra vriendelik dat ouers en leerders asseblief alle nodige skoolklere voor hierdie tyd aankoop, aangesien geen verkope ná hierdie datum hanteer kan word nie.

Baie dankie vir julle begrip en samewerking.

Koop ’n kookboek – ’n geskenk wat aanhou gee!

Kersfees is om die draai! Koop kookboeke as geskenke vir oumas, onderwysers, vriende en familie – en laat die skool daarby baat!

Vir elke kookboek wat teen R200 gekoop word, ontvang die skool R50.

Dis die perfekte manier om iets besonders vir Kersfees of verjaardae te gee, terwyl jy terselfdertyd ons skool ondersteun.

Kies uit vier pragtige kookboeke:

Geure deur Lientjie Wessels – eenvoudige resepte met jou gunstelingbestanddele soos asyn, sout en olyfolie. Heerlik en stylvol!
Cake It Till You Make It deur Anmar Wilding – stap-vir-stap riglyne om die perfekte koek te bak, met al die geheime vir goeie bakwerk.
Going Home deur Sophia Lindop – ’n Lebanese kookboek vol bekende Mediterreense disse soos hummus, laban en kofta. Gesond én smaaklik!
The Lockdown Recipe Storytelling Book saamgestel deur Ingrid Jones – ’n nostalgiese versameling resepte vir klassieke gunstelinge soos hertzoggies en sagopoeding.
Sien die volgende skakel vir meer besonderhede oor hoe om te bestel: BESTEL JOU KOOKBOEK

Mediasentrum Kennisgewing

Leerders sal ongelukkig vanaf 7 November 2025 nie meer boeke mag uitneem nie, maar is meer as welkom om tydens tweede pouse op Dinsdae en Donderdae in die mediasentrum te kom lees of ontspan met ’n boek.
Kom geniet steeds ’n bietjie leespret!

Kersdonasies vir JvR-personeel

Indien jy graag ’n kersdonasie deur Karri vir die terrein-, nasorg- en/of snoepiepersoneel by die laerskool te maak, is jy baie welkom om 'n bydrae te lewer.

Die Karri-insameling maak binnekort oop — hou asseblief die toep vir meer besonderhede dop.

Baie dankie vir julle ondersteuning en ruim harte!

Jannies gee om!

Kyk hoe ons hierdie kwartaal 'n verskil in ons gemaak gemeenskap wil maak, hier onder:

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

SPORT

Krieketuitslae: 6-12 November 2025

Hier volg die week se krieketuitslae:

INDIVIDUEEL

Christiaan verower silwer trofee vir stoei

Christiaan Cronje het op 9 Oktober 2025 besonder goed presteer by die SAWF National Youth & Presidents Championship. Hy het 2de plek in die FS U/10-afdeling behaal en is bekroon met ’n silwer trofee, asook Deelname- en Uitnemendheid-sertifikate.

Baie geluk, Christiaan — ’n uitstekende prestasie!

Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad