Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 10 Desember 2025

Vandag sluit al die openbare skole in die land vir ‘n welverdiende vakansie vir die leerders, personeel en ouers na ‘n besige en suksesvolle skooljaar.

Verlede week is die onderskeie prysuitdelings vir elke graad suksesvol afgehandel om erkenning aan ons leerders vir hul harde werk en toewyding te gee. Ons unieke wyse van erkenning gee, veral vir die akademie, maak my gerus dat ons die regte aanslag het en dat daar ‘n plek vir akademiese erkenning en uitnemendheid is. Ons poog as personeel om vir ons leerders altyd ‘n voorbeeld te stel deur alles wat ons as skool aanpak met uitnemendheid en passie te doen.

Baie geluk aan die volgende graad 7-leerders vir hulle harde werk en wat as 2025 se Top 10-akademiese presteerders aangewys is:
  1. Katryn Silvis (Dux-leerder 2025)
  2. Dané Olivier
  3. Annalene Viljoen
  4. Andries Gouws
  5. Stella Pansegrouw
  6. Amelie van der Walt
  7. Zani Scholtz
  8. Abi Fourie
  9. Johannes Mouton
  10. Gusto Hoogendyk
Weereens groot dankie aan ons Graad 7-ouers wat vir ons BRUL-JANt, die menslike skelet en anatomie van die mens (vir die NW-klas) geskenk het as deel van die 2025 Graad 7-geskenk – dit is kosbaar! Ons is ook baie dankbaar vir die leesboeke wat hulle ook as geskenk aan die skool gegee het.
Graag wil ek ook vir mnr. Leon en sy span hartlik gelukwens met vanjaar se puik kleure-atletiekbyeenkoms wat op Woensdag, 03 Desember (velditems), en Vrydag, 05 Desember (baanitems), plaasgevind het. Die atletiekdag (baanitems) het Vrydagoggend vroeg om 07:15 met die tradisionele optogte om die baan begin. Die onderskeie kleurhuise se areas op die pawiljoen was indrukwekkend versier en dit alles te danke aan ons graad 7-ouers wat reeds dou voor dag daarmee begin het. Opvallend was die opwindende gees wat reeds met die aanvang van die ongelooflike dag teenwoordig was en die hele dag geheers het. Ons leerders se stemme was behoorlik hees gesing en later het ons lekker musiek gespeel waarop hulle saam met personeel en ouers/voogde gedans het. Ek is vanjaar 5 jaar by ons merkwaardige skool betrokke en dit was volgens my die beste atletiekdag sedert ek by die skool aangesluit het. Die meerderheid van leerders en hul ouers/voogde het tot 15:45 na afloop van die prysuitdeling gebly. Baie geluk aan die Huis van Oranje wat die geesbeker verower het en Huis Blou wat vanjaar naelskraap die atletiekbeker met slegs 7 punte gewen het.

Baie geluk aan die volgende atlete wat met hul uitsonderlike prestasie tydens die prysuitdeling aangewys is:
  • Victrix Ludorum jnr (o.10 – o.11 junior dogtersatleet vir 2025): Elize Theron
  • Victor Ludorum jnr (o.10 – o.11 junior seunsatleet vir 2025): Ilan van der Berg
  • Victrix Ludorum jnr (o.12 – o.13 senior dogtersatleet vir 2025): Cato Terblanche
  • Victor Ludorum jnr (o.12 – o.13 senior seunsatleet vir 2025): Rafa Lamprecht
Baie geluk aan die volgende Graad 6-leerders wat op Dinsdagoggend, 09 Desember, tydens die saalbyeenkoms as die 2026-leerderraad bekend gemaak is:

Anabella Boshoff
Dane Botha
Chris Derksen
Jacques du Toit
Jamie Jordaan
Bella Naylor
Jana Nel
Mila Malan
Ghia Pereira
Pieter Rademeyer
Cato Terblanche
Lily van Zyl

Ons neem oor die laaste week stelselmatig afskeid van die gr. 7-leerders. Ons het vandag (10 Desember) ’n spesiale afskeidsaal vir die gr. 7’s saam met hul ouers/voogde gehou. Daarna het hulle tradisioneel met hul skoolklere in die swembad gespring. Hulle finale sokkie by ons skool het dan ook op Maandagaand om 18:00 plaasgevind. Baie geluk aan die Gr. 7’s met jul pragtige 2025-jaarboek. Dit sluit ’n spesiale bladsy in van elke gr. 7-leerder met iets spesiaal oor haar- of homself.

Ons beste wense vergesel die gr. 7’s met hul nuwe reis na die hoërskool, en mag hulle hul hoërskoolloopbaan net so geniet soos by ons. Onthou my boodskap: “Moenie vergeet om elke dag eerste ding jou bed op te maak nie – dit is dikwels bepalend hoe ’n mens die dag se take sal aanpak en suksesvol sal uitvoer. Dit skep dissipline en gee ’n sin van trots. Daarmee bereik jy sommer jou eerste doelwit van die dag!” Hulle is ’n merkwaardige groep leerders met ’n blink toekoms wat voorlê. Ons gaan hulle baie mis. Ek is seker hulle sal aanhou om ’n positiewe verskil in mense se lewens te maak deur net hulself (jouself) te wees.

Graag wil ek vir Susan Derksen, ons OOV-voorsitter, en haar span hartlik bedank vir hul harde werk die afgelope jaar – sterkte ook vir die belangrike rol wat hulle in 2026 gaan speel.

2025 was weer ’n ongelooflike suksesvolle jaar! Vir ’n skool om op verskeie areas so merkwaardig te presteer, kan slegs gebeur waar leerders veilig voel en skool terdeë geniet terwyl hulle leer; toegewyde personeel met soveel omgee werksaam is; asook ’n effektiewe skoolbestuur, ondersteunende ouers/voogde en ’n dinamiese beheerraad wat betrokke is. Sukses beteken nie noodwendig net prestasies nie, maar ook die karakter en omgeehart van ons skoolgemeenskap wat so prysenswaardig en uniek is. Ek is so trots op ons personeel wat jaar-in en jaar-uit die spreekwoordelike ekstra myl tot voordeel van ons leerders loop. Baie dankie aan die EXCO (skoolbestuur) vir jul leeue-aandeel in die effektiewe bestuur van ons puik skool. Laat my ook toe om my regterhand, naamlik Marinda (adjunkhoof), te bedank vir haar harde werk en lojale ondersteuning die afgelope jaar. Hartlike dank aan die voorsitter van ons beheerraad, naamlik Merwe Scholtz, vir sy puik leiding, asook die res van die beheerraad wat my so lojaal ondersteun en help om ons skool na nog hoër hoogtes te lei.

Ons neem dan ook aan die einde van die jaar afskeid van Marié Cruywagen en Susan van der Walt as BR-lede. Hulle twee het diep spore by Laerskool Jan van Riebeeck getrap. Marié was instrumenteel tot die implementering van verskeie IKT-praktyke by ons skool, onder andere die omskakeling vanaf die Google-platform na ’n Microsoft-omgewing waar leerders binne ’n veilige en beheerde leeromgewing aan die nuutste tegnologie blootgestel kon word; asook ’n baie effektiewe administratiewe stelsel; ons indrukwekkende webtuiste en die Jan Kas-aanlyn diens. Susan het as tesourier haar taak puik vervul en effektiewe finansiële stelsels, beleid en praktyke geïmplementeer. Beide van hulle gaan vanaf 2026 hul gewig by Hoërskool Jan van Riebeeck ingooi. Ons beste wense vergesel hulle.

Lees gerus my jaarverslag vir 2025 wat kortliks reflekteer wat ons as skool oor die afgelope jaar vermag het. My beker van dankbaarheid loop behoorlik oor!

Baie dankie aan al ons ouers vir jul ruim bydrae tot die Kersfeesfonds wat ons vir ons terrein- en nasorgpersoneel gaan aanwend deur vir elkeen ’n koopbewys te gee. Dit gaan beslis hul dag en vakansie maak – ek het groot waardering vir jul omgeeharte.

Indien iemand dalk sou belangstel om vanaf 2026 ’n behoeftige leerder van ons skool se 2026-skoolfooie te borg, is julle welkom om my te kontak.

Hiermee dan my laaste bekende Afrikaanse uitdrukking vir die jaar:

“Aan die vrugte ken ’n mens die boom.”

Die uitdrukking word gebruik om aan te dui dat ’n mens aan jou dade geken word.

Graag sluit ek dan die jaar af en wens vir julle ’n welverdiende vakansie toe van lekker rus en ontspan saam met vriende en familie. Mag elkeen van julle ’n Christusfees vol vreugde, vrede en liefde ervaar saam met al die spesiale mense in jou lewe. Ek wens verder vir ons skoolgemeenskap ’n voorspoedige 2026 toe vol liefde, vrede, omgee en dankbaarheid!

Reis asseblief veilig, groete vir die kinders en sien julle D.V. Woensdag, 14 Januarie 2026, wanneer die skool weer sy deure vir 2026 oopmaak.

Groetnis
Naas Beets
SKOOLHOOF

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

AKADEMIE

Skryfbehoeftes vir 2026

Sien asseblief die skryfbehoeftes wat jou kind in 2026 gaan nodig hê hier onder:

KULTUUR

REDENAARS 2026

Raak deel van die Redenaars WhatsApp-groep om alle inligting rakende volgende jaar se redenaars te ontvang. Alle kommunikasie sal daar plaasvind. Gaan na ons LsJvR Community en soek die groep Redenaars (Ls JvR)

Vul asseblief die vorm in indien jou kind in Redenaars 2026 belangstel:

REDENAARS 2026 – Fill out form

Hier is die kompetisiedatums asook inligtingsessie se datum wat in die eerste week van skool plaasvind. Dagboek asseblief hierdie datum!

Musiekinskrywings vir 2026

Musiekaansoeke vir 2026 is oop! Skryf gerus jou kind in vir musieklesse en kontak Juf Rolene vir enige navrae.

???? Vul asseblief hierdie vorm in indien jy belangstel: https://jvr.info/musiek2026

SPORT

Buitemuurseprogram: Kwartaal 1, 2026

Sien die Buitemuurseprogram vir kwartaal 1, 2026 hier onder:

ALGEMEEN

Jaarverslag 2025

Klik op die knoppie hier onder om die jaarverslag oop te maak:

WhatsApp-groepe vir die nuwe jaar

Namate ons voorbereiding vir die aanvang van die nuwe skooljaar, wil ons graag duidelikheid gee oor die opdatering van ons WhatsApp-groepe:

  • Graadgroepe se name word outomaties aangepas na die nuwe jaar se graadname. Ouers hoef nie die groep te verlaat nie — die nuwe graadonderwysers word eenvoudig bygevoeg.
  • Klasgroepe word gedurende die eerste week wanneer skole heropen, vervang met die nuwe jaar se klasgroepe.
  • Hoofgroepe (algemene inligtingsgroepe) wat nie jaarliks verander nie, bly onveranderd.
  • Sportgroepe wat volgens ouderdomsgroepe werk, word jaarliks vervang met die groepe vir die nuwe jaar.
Indien daar enige inligting of dokumente op van hierdie groepe is wat jy graag wil behou, stoor dit asseblief so spoedig moontlik, aangesien sommige groepe uitgevee of vervang gaan word.

Jan Kas Klerebank – Oopmaak vir 2026

Neem asseblief die volgende datums in ag wanneer julle vir die nuwe skooljaar voorberei.

Aanlynwinkel
Die Jan Kas klerebank se aanlynwinkel maak weer op Maandag, 5 Januarie 2026 om 08:00 oop.

Klerewinkel
Voor die nuwe skooljaar begin, sal die fisiese winkel op die volgende tye oop wees:

  • Vrydag, 9 Januarie 2026: 09:00 – 12:00
  • Maandag, 12 Januarie 2026: 07:00 – 10:00
  • Dinsdag, 13 Januarie 2026: 12:00 – 14:30
Skool heropen

Gewone winkelure hervat vanaf Woensdag, 14 Januarie 2026:

  • Maandag & Woensdag: 07:00 – 08:00
  • Dinsdag & Donderdag: 13:30 – 14:30

Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad