Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Weeklikse Nuusbrief banner
Liewe Ouers

DATUMS

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)




>> SIEN DIE VOLLEDIGE DAGBOEK <<

VIR AANDAG

Markdag: 13 Junie 2024

Markdag vind Donderdag, 13 Junie, vanaf 09:30 tot 10:30 plaas.
  • Dit is die senior fase se beurt om Markdag aan te bied.
  • Leerders word herinner dat hulle nie klappers of lewende hawe mag verkoop nie.
  • Karri sal vanaf Vrydag, 7 Junie, tot Woensdag, 12 Junie, oop wees om 'n tafel te bespreek indien jou kind(ers) in graad 4-7 iets by die markdag wil verkoop.

Skooltye: 10 - 14 Junie 2024

Maandag, 10 Junie, tot Donderdag, 13 Junie
  • 13:00 (gr. 1-3)
  • 13:15 (gr. 4-7)
Vrydag, 14 Junie
  • 10:30 (gr. 1-3)
  • 10:45 (gr. 4-7)

Ouerbesoeke: 15 en 16 Julie 2024

Op 15 en 16 Julie vind daar ouerbesoeke plaas. 15 Minuut-afsprake sal met onderwysers gemaak kan word om oor jou kind(ers) se akademiese vordering of emosionele welstand te gesels.

Volg hierdie stappe om ‘n afspraak te maak:
  1. Volg die skakel vir die Besprekingsbladsy.
  2. Kies die graad waarin jou kind is.
  3. Onder “Select Staff”, kies die onderwyser met wie jy ‘n afspraak wil maak.
  4. Op die kalender, gaan na Julie en kliek op 15 / 16 Julie.
  5. Kies die tydgleuf wat jou sal pas. Indien daar geen tydgleuwe meer beskikbaar is nie, stuur gerus ‘n boodskap op WhatsApp of per e-pos aan die betrokke onderwyser om ‘n alternatiewe tyd te reël.
  6. Rol af op die bladsy en vul jou naam, e-posadres, kind se naam en enige addisionele kommentaar in.
  7. Jy sal ‘n bevestiging van jou afspraak per e-pos ontvang.
  8. Indien jy die afspraak wil skuif of kanselleer, volg die stappe in die e-pos.
  9. Jy kan tot en met 24 uur voor ‘n afspraak nog bespreek, verander of kanselleer.
  10. Om te sien watter onderwyser bied watter vak aan, sien gerus die personeelblad op die webtuiste.
Die skool verdaag op 15 en 16 Julie vroeër: 12:45 (gr. 1-3) en 13:00 (gr. 4-7)

Strategiese Vraelys 2024

Die skoolbestuur en Beheerraad wil graag weer soos in 2021 ons ouergemeenskap se mening oor allerlei sake inwin. Dus wil ek julle vriendelike versoek om aan ons meningspeiling deel te neem. Dit is maklik en gou om in te vul. Die sperdatum is vandag, 7 Junie 2024, en die vorm is anoniem.

Dankie!
Naas Beets

AKADEMIE

WOW-spelfees 2024

Dit is weer daardie tyd van die jaar waar die Jannies hul goeie spelvermoëns tydens die WOW-spelfees kan toets. Leerders (graad 1-7) wat belangstel om deel te neem, sal woordelyste by hul onderwysers ontvang. Die woordelyste is ook hier beskikbaar.

Leerders wat belangstel om deel te neem, word aangemoedig om so gou moontlik die woorde te begin leer. Hierdie leerders sal dan volgende kwartaal deur hul Afrikaanse onderwysers getoets word en inligting rakende registrasie sal daarna volg.

Belangrike datums wat al beskikbaar is (onderhewig aan veranderinge):
Distrikskompetisie: 28 Augustus 2024
Provinsiale rondte: 14 September 2024
Nasionale rondte: 28 September 2024

Vir enige navrae, kontak gerus vir Ilse-Marié Holtzhausen (ilsemarie@jvrprim.co.za).

Graad 4-7-aktiwiteitrooster: 10 - 12 Junie 2024

Graad 4 - 7-leerders gaan volgende week drie dae propvol verrykende aktiwteite geniet. Kliek op die foto of volg die skakel om die PDF af te laai.

ALGEMEEN

Uitstappie Gr. 1-3: Fynbos Rehabilitasieprojek

Op Woensdag, 12 Junie, sal die gr. 1-3-leerders van Laerskool Jan van Riebeek die geleentheid hê om 'n bedreigde spesie Fynbos-saailinge te plant en eerstehands te leer oor konsepte soos bewaring, endemies en bedreigde plantspesies en 'n praktiese geleentheid hê om by te dra.

Meer inligting:

Kaapstad se flora-koninkryk (Cape Floral Kingdom) is een van ses flora 'koninkryke' in die wêreld. Ons koninkryk spog met die grootste verskeidenheid plante in die wêreld! Daar is ongeveer 9000 plantspesies waarvan amper 70% endemies is!
Ongelukkig kom die koninkryk onder vreeslike druk a.g.v. menslike teenwoordigheid, stadsuitbreiding en -ontwikkeling. Amper een derde van die spesies is op die bedreigde spesies lys.

As deel van 'n gemeenskap en bewaringsprojek het ons 'n rehabilitasieprogram gestig om van die mees bedreigde spesies terug in hulle natuurlike omgewing te plant. Ons Kloofstraat Park is so geleë dat ons 'n baie spesifieke groep Fynbos-/Renosterveld-spesies kan plant. Dit is op die rooilys van krities bedreigde spesies. 1500 Saailinge is klaar geoes en word in 'n kwekery gekweek ter voorbereiding vir oorplanting. Ons beoog om 300m2 van die park te omskep in 'n inheemse, endemiese Fynbos-Renosterveld publieke spasie.

Vakansiesorg: 18 Junie - 8 Julie 2024

Daar is vakansiesorg beskikbaar vanaf 18 Junie tot 8 Julie. Volg die skakel vir die inskrywingsvorm of kliek op die foto hier onder.

Bring-en-Raai: 2 Augustus 2024

TERUGVOER

Kaapse Afrikaanse Eisteddfod: Uitslae 24 & 25 Mei 2024

Ons leeders het puik by die solosang afdeling van die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod die afgelope naweek presteer. Baie geluk aan elke leerder wat deelgeneem het. ’n Spesiale woord van dank aan mnr Ben, juf Regina (Hoërskool Jan van Riebeeck) en juf Antoinette (Privaat) vir al hul moeite om die leerders voor te berei en te begelei vir hierdie geleentheid!

Deelname : Geen %
Vermelding: 60 - 69%
Eervolle Vermelding: 70 - 74%
Eervolle Vermelding +: 75 - 76%
Eervolle Vermelding ++: 77 - 79%
Lof: 80 - 84%
Lof +: 85 - 86%
Lof ++: 87 - 89%
Hoogste Lof: 90 - 94%
Diploma: 95% en hoër

Graad 2:
Jean-Jacques Rossouw Afrikaanse Lirieke: Diploma
Jean-Jacques Rossouw Eie Keuse: Lof

Graad 3:
Noa Rademan Afrikaanse Lirieke: Hoogste Lof
Noa Rademan Eie Keuse: Lof
Kitty Partner Afrikaanse Lirieke: Hoogste Lof
Kitty Partner Eie Keuse: Diploma
Christina du Toit Eie Keuse: Hoogste Lof
Christina du Toit Afrikaanse Lirieke: Hoogste Lof

Graad 4:
Coreen Scholtz Musiekblyspel: Diploma
Coreen Scholtz Eie Keuse: Diploma
Antjie Samuel Afrikaanse Lirieke: Lof
Antjie Samuel Eie Keuse: Lof
Antjie Samuel Musiekblyspel: Hoogste Lof

Graad 5:
Ella van der Walt Afrikaanse Lirieke: Eervolle Vermelding
Rupert Janse van Rensburg Eie Keuse: Eervolle Vermelding
Rupert Janse van Rensburg Afrikaanse Lirieke: Eervolle Vermelding
Pieter Rademeyer Musiekblyspel: Eervolle Vermelding
Pieter Rademeyer Eie Keuse: Hoogste Lof
Pieter Rademeyer Afrikaanse Lirieke: Lof

Graad 6:
Zani Scholtz Musiekblyspel: Lof
Zani Scholtz Eie Keuse: Lof
Abigail Fourie Musiekblyspel: Lof
Abigail Fourie Eie Keuse: Lof
Abigail Fourie Afrikaanse Lirieke: Lof

Graad 7:
Michaan Naylor Eie Keuse: Lof
Karu Rademeyer Musiekblyspel: Hoogste Lof
Karu Rademeyer Eie Keuse: Hoogste Lof
Karu Rademeyer Volksliedjie: Lof
Karu Rademeyer Afrikaanse Lirieke: Lof
Daniella Boshoff Afrikaanse Lirieke: Lof
Daniella Boshoff Volksliedjie: Lof
Daniella Boshoff Eie Keuse: Hoogste Lof
Daniella Boshoff Musiekblyspel: Lof
Karu en Daniella Duet: Hoogste Lof

Landloopuitslae: 31 Mei 2024

Ons het die kwartaal se landloop afgesluit met 'n wedloop in Vishoek. Dit was baie opwindend om die oranje hempies van ver af te sien aankom en hulle aan te moedig tot by die eindstreep. Baie geluk aan al die deelnemers, almal het verbeter van die vorige wedloop.

Isla Jooste, Lukas Loubser en James Steyn het in die top 20 in hul ouderdomsgroep geëindig en 'n spesiale geluk aan Delmar Benecke wat in die vorige wedloop in Rondebosch 7de geëindig en verlede Vrydag in Vishoek 5de geëindig het. Ons is baie trots op julle!

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 7 Junie 2024

So kom die 2de laaste week van kwartaal twee asook die eksamen tot ‘n einde terwyl Moeder Natuur se winterreën salig oor die stad uitsak. Ek glo dat heelwat ouers/voogde saam met hul kinders ‘n groot sug van verligting gegee het toe die laaste vak op Woensdag, 05 Junie, geskryf is. Die antwoordstelle is amper klaar gemerk, ‘n deeglike modereringsproses word gevolg en punte word verwerk sodat ons op Vrydag, 14 Junie, die dag wat die skole sluit, vir elke leerder sy/haar rapport kan gee.

Graag wil ek spesifiek die leerders bedank en gelukwens met hul deeglike voorbereiding vir die eksamen asook die besonderse werketiek wat hulle dwarsdeur die kwartaal gehandhaaf het. Hartlike dank ook aan ons ouers/voogde wat hul kinders so mooi en lojaal die afgelope twee weke tydens die eksamen/assessering ondersteun het om net hul beste te doen. Laaste, maar nie die minste nie, ‘n hartlike dank aan ons opvoeders en leerontwikkelingspersoneel wat met soveel deernis en toewyding ons leerders vir die eksamen en assesserings voorberei het.

Vanaf Maandag, 27 Mei, het die interim buitemuurse sportprogram in skooltyd, net na die aflê van die daaglikse eksamens plaasgevind. Die doel om nog steeds met sportoefeninge tydens die eksamentyd voort te gaan, was tweeledig: eerstens, die leerders geniet dit terdeë om direk na ‘n lang eksamensessie uit die klas te kom, die vars lug te geniet en aktief te wees wat sommer ook met hul algemene geestelike welsyn tydens eksamen help. Tweedens, help die program om hulle fiks te hou asook om hul spelpeil langer te handhaaf veral met ‘n welverdiende drie weke vakansie wat voorlê. Daar is die afgelope kwartaal so hard gewerk om fiksheidsvlakke te verbeter, effektiewe spelpatrone te implementeer en indien ons sportoefeninge vanaf die begin van die eksamen sou stop plus die vakansie wat voorlê, beteken dit dat daar amper sewe weke van geen oefeninge en afrigting sou plaasvind nie.

Saterdagaand, 01 Junie, het ons jaarlikse veilingsdinee by die ikoniese Pienk Dame, naamlik die Mt. Nelson Hotel plaasgevind. Al die kaartjies was vir die glans- en fondsinsamelingsgeleentheid uitverkoop. Die tema vir die aand was ‘Glansryk in Wit’ en die gaste was elegant en deftig vir die spesiale geleentheid getooi. MC du Toit, een van ons ouers het soos in die verlede as afslaer opgetree. Hy het die ongelooflike 41 lotte binne ‘n kort tydjie onder groot geesdrif van die gaste verkoop. Ons is hom uiters dankbaar vir die puik taak wat hy verrig het. Dit is dan my eer en voorreg om bekend te maak dat daar tydens die veiling ‘n enorme R1,5m ingesamel is. Dit het al ons verwagtinge oortref veral met die huidige ekonomiese toestande in ag geneem. Graag wil ek ook die geleentheid gebruik om al ons gaste en veral ons ouers wat op die aand ‘n finansiële bydrae gemaak het, hartlik te bedank vir hul finansiële bydrae om LS Jan van Riebeeck na nog hoër hoogtes te neem. Daar is darem nie net ‘n spogveiling gehou nie, maar ook lekker saam gekuier en gedans. Die onthaalsaal van die Mt. Nelson was uiters stylvol voorberei en verfraai. Die samesyn was kosbaar en die goeie gevoel van die skoolgemeenskap was feitlik tasbaar. Baie dankie aan ons Voorsitter van die Opvoedingstrust en die Beheerraad, naamlik Merwe Scholtz vir sy dinamiese leiding en puik toespraak wat die doel van die spesiale aand mooi in konteks geplaas het. Laat my ook toe om die reëlingskomitee bestaande uit Anna Blackmore en Michelle Forsyth weereens hartlik te bedank en geluk te wens met ‘n onvergeetlike glansaand.
Op Vrydag, 31 Mei, het ons skool ‘n pantoffeldag aangebied en kon die leerders vir R20 met hul gunsteling-pantoffels skool toe kom. Leerders en personeel het met hul gunsteling-pantoffels by die skool opgedaag en ‘n allemintige R6 700 is op die dag vir die Monte Rosa ouetehuis ingesamel wat die gr. 3’s volgende week aan hulle gaan oorhandig. Baie dankie juf. Michelle vir die reëlings asook vir almal se bydrae. Dit word opreg waardeer.

Dit is dan my eer en voorreg om die 2024 Hoofseun en Hoofdogter wat op 05 Junie verkies is, naamlik Frank van der Walt en Karu Rademeyer bekend te maak. My beste wense vergesel hulle met hul nuwe rol as hoofleiers by ons skool. Mag dit vir hulle baie vervulling bring. Ons is baie trots op Frank en Karu!
Op Woensdag, 05 Junie, het Marié Cruywagen (BR-lid) vir die onderwysers IKT-opleiding gegee om MineCraft Education in hul leer en onderrig te inkorporeer. MineCraft Education is 'n samewerkende en veelsydige toepassing wat opvoeders 'n transformerende manier bied om leerders te betrek en hul passie vir leer aan te wakker. MineCraft Education hou die volgende voordele vir leerders in:
  • Verhoog kreatiwiteit
  • Verbeter probleemoplossingsvaardighede
  • Moedig lees en skryf aan
  • Ontwikkel navorsingsvaardighede
  • Verskerp wiskundige vaardighede
  • Stimuleer verbeelding en inspireer kreatiwiteit
  • Help om koderingsvaardighede te ontwikkel
Baie dankie, Marié! Ons het groot waardering vir al jou kosbare tyd en toegewydheid om IKT by Laerskool Jan van Riebeeck na nog hoër hoogtes te neem.
Hiermee sluit ek dan af met ‘n treffende aanhaling van Arthur Ashe en wens ek vir elkeen ‘n wonderlike naweek sonder eksamenstres saam met jul gesin toe:

“Success is a Journey,
not a Destination.
The Doing is often more important than the Outcome!’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF

Kliek HIER vir die nuutste foto's en video's op JvR-Kiek

Kliek HIER vir advertensies van die week