Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Weeklikse Nuusbrief banner
Liewe Ouers

DATUMS

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)




>> SIEN DIE VOLLEDIGE DAGBOEK <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 14 Junie 2024

So breek die einde van ‘n lang en besige, maar ‘n opwindende kwartaal aan. Vandag ontvang elke leerder sy/haar rapport om erkenning te ontvang vir hul harde werk, toewyding en deursettingsvermoë die afgelope kwartaal. Ek wil graag die leerders hartlik gelukwens en komplimenteer met hul spograpporte. Ons is saam met julle as ouers/voogde baie trots op jul kinders se akademiese vordering en –prestasies. Geniet ‘n welverdiende wintervakansie om sommer alles te doen wat julle die afgelope tyd as gevolg van die eksamen en/of assesserings nie voor tyd gehad het nie.

Op Vrydag, 07 Junie, het die oorhandiging van die sporttoerklere vir die Suid-Kaaptoer vroeg die oggend in die saal plaasgevind. Ons was so bevoorreg om ‘n legende in die netbalwêreld, Pumza Maweni, tydens hierdie spesiale geleentheid by ons skool te verwelkom. Sy was so gaaf om die sporttoerklere aan die toerlede te oorhandig. Pumza is ‘n voormalige Protea-netbalspeler en het ‘n ongelooflike 121 wedstryde vir Suid-Afrika gespeel. Sy is ‘n ware rolmodel vir ons dogters en dit was ‘n besondere voorreg om haar te kon ontmoet. Die netbaldogters en -afrigters het dit vreeslik geniet om foto’s saam met haar te neem. Baie dankie aan juf. Sharon wat met Pumza reëlings getref het om haar besoek aan ons skool moontlik te maak.
Ons sporttoerspanne het op Maandag, 10 Junie, so net na 08:00 op ‘n luukse bus na die Suid-Kaap vir ‘n weeklange sporttoer vertrek. Die eerste stop en wedstryde het op dieselfde dag teen LS Volschenck te Riversdal plaasgevind waar die hokkiespanne hul eerste toerwedstryde gespeel het. Die o.13A-seunshokkiespan het ongelukkig 1 – 2 verloor, maar die o.13A-dogterspan het 1 elk gelykop gespeel. Daarna het hulle na Hartenbos vertrek waar hulle die res van die week in rondawels oornag het. Deel van die sporttoer sluit onder andere uitstappies na bekende toeristebestemmings (Redberry farm, Highgate Volstruisplaas, "Dune Sandboarding", "Let’ s Go Bowling", ens.) in wat die leerders terdeë geniet het. Verder word smaaklike etes by restaurante geniet wat altyd ‘n hoogtepunte vir beide die leerders en personeel is. Geen selfone is vir leerders op die sporttoer toegelaat nie. Mnr. Leon (toerbestuurder) het daagliks op die WhatsApp Community-groep terugvoer oor elke aktiwiteit gegee sodat ouers presies ingelig is van al die gebeure. Ek glo dat dit goed vir leerders is om ‘n week sonder ‘n selfoon te gaan. Leerders het meer sosiaal verkeer en in die proses mekaar beter leer ken terwyl daar saans heerlik bordspeletjies gespeel is wat tot groot vermaak en samesyn gelei het. Ons wens die sporttoergroep vandag ‘n veilige rit terug na Kaapstad.

Op Donderdag, 13 Junie, het die koor en jazz-orkes van Hoërskool Pearson al die pad vanaf Gqeberha ons besoek. Hul puik koor het drie pragtige liedere gesing en die optrede van die jazz-orkes was beslis die hoogtepunt. Ons leerders het dit baie geniet en graag wil ons die musiekhoof van HS Pearson, naamlik mev. Lynn Gouws hartlik bedank vir hul puik optrede en tyd om net na hul optrede by die Hoërskool JvR ook by ons op te tree. Dit was baie spesiaal en inspirerend vir ons leerders en personeel.
Laat my asseblief toe om ons personeel hartlik te bedank vir hul harde werk, toewyding en omgee die afgelope kwartaal om daagliks ‘n positiewe skoolervaring vir ons Jannies te verseker. Dit was ‘n besige kwartaal vol sport- en kultuuraktiwiteite asook lekker sosiale geleenthede soos die kleiduifskiet, kaperjolle en die suksesvolle veiling. Indien ek refleksie rakende die afgelope kwartaal sou wou neem, staan daar een ding soos ‘n paal bo water uit en dit is UITNEMENDHEID. Ons streef daarna om in alles wat ons by die skool beplan en doen dit onder die uitnemendheidsvaandel te laat geskied om ons leerders te leer dat alhoewel middelmatigheid in veral Suid-Afrika aan die orde van die dag is dit nie vir ons aanvaarbaar is nie, want ons wil elke dag verbeter op die vorige dag. Kinders is ons toekoms en ‘n blink toekoms kan net gegrond wees indien skole uitnemende onderrig aan sy leerders bied. Alhoewel ons die laaste jaar of twee tegnologie meer in die klas betrek het, is dit vir seker alleen nie genoeg nie. Daarom is ons besig om ‘n kultuur van voortdurende verbetering in die skool te vestig waar die skoolhoof, bestuurspan, beheerraad en die onderwysers altyd op soek sal bly na maniere om die opvoedkundige ervaring van ons leerders te verbeter.

Verder is ek baie dankbaar vir ons dinamiese Beheerraad en wil ek graag hulle ook hartlik bedank vir hul waardevolle insette en kosbare tyd om saam met die EXCO (bestuurspan) Laerskool Jan van Riebeeck se reis na uitnemendheid aan te pak en ons skool na nog hoër hoogtes te lei sodat ons trotse skool homself as een van die voortreflikste skole in die land kan vestig. ‘n Skool kan slegs suksesvol wees indien sy ouers/voogde aktief betrokke is, en dit is waarvoor ons skool staan – betrokke ouers/voogde wat net die beste vir hul kinders en die skoolgemeenskap wil hê. Mag ons die spesiale etos by die skool asook die unieke band tussen leerders, ouers/voogde en personeel vir nog baie lank koester! Solank ons onsself kan wees, sal die Laerskool Jan van Riebeeck van krag-tot-krag gaan. Laaste, maar nie die minste nie, baie dankie aan Louise en haar wonderlike span by Huppelland wat ongelooflike werk doen om die Huppellanders so mooi vir die laerskool voor te berei.

Graag sluit ek dan die kwartaal af met die volgende stelling van Charles Dickens rakende dankbaarheid en wens vir julle ‘n wonderlike en welverdiende vakansie toe. Wees asseblief veilig. Ons kan nie wag om al die Jannies op 09 Julie terug by die skool te verwelkom nie:

“Reflect on your present blessings,
of which every man has plenty;
not on your past misfortunes,
of which all men have some!’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF

VIR AANDAG

Ouerbesoeke: 15 en 16 Julie 2024

Op 15 en 16 Julie vind daar ouerbesoeke plaas. 15 Minuut-afsprake sal met onderwysers gemaak kan word om oor jou kind(ers) se akademiese vordering of emosionele welstand te gesels.

Volg hierdie stappe om ‘n afspraak te maak:
  1. Volg die skakel vir die Besprekingsbladsy.
  2. Kies die graad waarin jou kind is.
  3. Onder “Select Staff”, kies die onderwyser met wie jy ‘n afspraak wil maak.
  4. Op die kalender, gaan na Julie en kliek op 15 / 16 Julie.
  5. Kies die tydgleuf wat jou sal pas. Indien daar geen tydgleuwe meer beskikbaar is nie, stuur gerus ‘n boodskap op WhatsApp of per e-pos aan die betrokke onderwyser om ‘n alternatiewe tyd te reël.
  6. Rol af op die bladsy en vul jou naam, e-posadres, kind se naam en enige addisionele kommentaar in.
  7. Jy sal ‘n bevestiging van jou afspraak per e-pos ontvang.
  8. Indien jy die afspraak wil skuif of kanselleer, volg die stappe in die e-pos.
  9. Jy kan tot en met 24 uur voor ‘n afspraak nog bespreek, verander of kanselleer.
  10. Om te sien watter onderwyser bied watter vak aan, sien gerus die personeelblad op die webtuiste.
Die skool verdaag op 15 en 16 Julie vroeër: 12:45 (gr. 1-3) en 13:00 (gr. 4-7)

KULTUUR

Kunstefees: Hoërskool Jan van Riebeeck

Hier is nog ’n fantastiese kultuurgeleentheid vir ons leerders om na uit te sien! Hoērskool Jan van Riebeeck bied in Kwartaal 3 ’n Kunstefees aan, wat tussen 22-26 Julie op hul skoolgronde plaasvind. Ons gaan sommer lekker baie Jannies inskryf sodra almal weer terug is by die skool na die vakansie. Ons heg solank die inligtingstuk rakende die Kunstefees hier aan.

Intussen hoop ons dat die musiekinstrumente nie té veel stof opgaar gedurende die vakansie nie, want ons spring in Julie flink met ’n propvol kultuurkwartaal weg! Ons leerders neem aan die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod deel in Augustus, die Unisa-musiekeksamens is aan die beurt, én ons eie skoolkonsert is in September op die planke. Ons Junior- en Senior koor tree ook by die Tafelberg Koorfees, wat die 22ste Julie by die Grootte Kerk plaasvind, op.

Maak gerus kontak met juf Rolene indien daar enige vrae is.
071 877 6720 | rolene@jvrprim.co.za

ALGEMEEN

Jan Kas heropen op 8 Julie 2024

Die Jan Kas aanlyn en fisiese winkel sal op Maandag, 8 Julie, heropen.

Aanlyn winkel: Heropen: 8 Julie om 07:00

Fisiese winkel: Heropen: 8 Julie (08:00 - 10:00)

Welwillendheidsprojek Kwartaal 3 2024: DBV's

  • Ons reik gedurende die 3de kwartaal uit na verskillende DBV's.
  • Julle is welkom om kos, komberse, speelgoed of halsbande skool toe te stuur.
  • Volg die skakel of kliek op die foto vir 'n resep om hondebeskuitjies te maak.
  • Stuur die bogenoemde voor of op 30 Augustus 2024.

TERUGVOER

Frank presteer in rugby: Junie 2024

Hiermee wil ons graag vir Frank van der Walt wat op Donderdagaand, 13 Junie, sy WP-Kleure vir rugby ontvang het, hartlik gelukwens en vir hom sterkte toewens vir sy deelname aan die Cravenweek wat vanaf 17 - 20 Junie op Loftus Versfeld in Pretoria plaasvind. Baie geluk ook aan sy ouers Franci en Nel wat hom so getrou langs die rugbyveld ondersteun. Ons is saam met julle baie trots op Frank se puik prestasie. Hy is 'n ware ambassadeur vir ons skool. Ons wens Frank die beste toe! Mag hy baie ervaring opdoen, maar dit in die proses ook geniet.

Emma Snijders presteer in skaak: Mei 2024

​Emma Snijders het op 4-5 Mei 2024 aan die o.13-dogters finale WP-skaaktoernooi deelgeneem. Hierdie toernooi het by Curro Langebaan plaasgevind. Ons kan met trots sê dat sy haar WP-skaakkleure verwerf het. Baie geluk, Emma!

WP-Gimnastiek Kampioenskappe

'n Hele paar van ons Jannies het verlede naweek in Saldanha aan die WP-Gimnastiek Kampioenskappe deelgeneem. Hulle is almal deel van die Ignite Gimnastiekklub en het baie goed gevaar. Hier is hulle uitslae:

Vlak 1
Nina De Villiers - goud
Elisa van den Berg - goud
Lua Groenewald - silwer
Amelie Mouton - goud
Gia Kruger - silwer
Hanna Louw - silwer

Vlak 2
Elizabeth Snyders - silwer
Olivia Blackmore - brons
Noa Rademan - brons

Vlak 3
Bella Naylor - silwer
Klara Jansen van Vuuren - silwer
Bella Malan - brons

Ons is baie trots op julle!!

Jannies ontvang Kyokushin Karate kleur belt

Ruby Tyler, Peter Wickwar en Susie Samuel het Saterdag, 8 Junie 2024, hul Karate beltgradering bygewoon. Baie geluk!

Kliek HIER vir die nuutste foto's en video's op JvR-Kiek

Kliek HIER vir advertensies van die week