Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Weeklikse Nuusbrief banner
Liewe Ouers

DATUMS

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)




>> SIEN DIE VOLLEDIGE DAGBOEK <<

VIR AANDAG

Strategiese Vraelys 2024

Die skoolbestuur en Beheerraad wil graag weer soos in 2021 ons ouergemeenskap se mening oor allerlei sake inwin. Dus wil ek julle vriendelike versoek om aan ons meningspeiling deel te neem. Dit is maklik en gou om in te vul. Die sperdatum is Vrydag, 7 Junie 2024, en die vorm is anoniem.

Dankie!
Naas Beets

Jan Kas sluit vroeƫr vir voorraadopname

Die Jan Kas aanlyn klerewinkel sal op Donderdag, 6 Junie, om 21:00 sluit. Die winkel self sal vir die laaste keer die kwartaal op Donderdag, 6 Junie, van 12:30 - 13:45 oop wees.

Sien die tye uiteengesit hier onder.

Aanlyn winkel:
  • Sluit: 6 Junie om 21:00
  • Heropen: 8 Julie om 07:00
Fisiese winkel:
  • Sluit: 6 Junie (12:30 - 14:45)
  • Heropen: 8 Julie (08:00 - 10:00)

AKADEMIE

Eksamenrooster: Mei / Junie 2024

Volg die skakel of kliek op die foto hier onder om die eksamenrooster in PDF oop te maak.

SPORT

Interne Sportprogram: 27 Mei - 5 Junie 2024

Volg hierdie skakel of kliek op die foto vir die interne sportprogram in PDF.

ALGEMEEN

Nuwe kommunikasie en IKT-beampte

Dit spyt ons om julle mee te deel dat Suzaan Coetzee vroeër die kwartaal haar bedanking ingedien het. Sy verlaat ons aan die einde van die kwartaal. Ons beste wense vergesel Suzaan op haar nuwe reis en mag sy haar nuwe werk terdeë geniet.

Megan Zondagh gaan haar pos oorneem en sal van volgende kwartaal af die kontakpersoon wees vir navrae i.v.m. kommunikasie, inteken-probleme en Jan Kas.
Ons is verder in die proses om onderhoude te voer om 'n nuwe persoon in Megan se plek vir die biblioteek- en digitale geletterdheid-vak aan te stel.

Bring-en-Raai: 2 Augustus 2024

Verlore Goedere-uitstalling: 31 Mei 2024

  • Hierdie is jou laaste kans vir die kwartaal om kinders se verlore goedere tot op hede te kom haal.
  • Wanneer: 31 Mei 2024
  • Tyd: 07:15 - 13:30
  • Waar: Parkeerarea (agter) langs koffietjiestalletjie
  • Neem asb. kennis dat alle items wat nie opgeëis word nie, nie meer na die uitstalling by die verlore goedere-tafel beskikbaar sal wees nie.

TERUGVOER

Skaakuitslae: 24 Mei 2024

Ons skaakspelers het hul laaste skaakwedstryd op Vrydag, 24 Mei, teen St. Cyprians gespeel. Ons Jannies het ons baie trots gemaak. Die finale punt was 4-2 vir St. Cyprians. Baie geluk!

Delmar Benecke presteer in Swem

Delmar het Saterdag, 25 Mei, aan Cape Town Aquatics se eerste gala van die nuwe swemseisoen deelgeneem.

Hy het baie goed presteer met persoonlike beste tye in beide sy items waaraan hy deelgeneem het.

200m individuele wisselslag: 1ste plek
100m rugslag: 1ste plek

‘n Baie goeie begin van ‘n nuwe seisoen. Baie geluk, Delmar!

Barbara Schreuder Dansskool

Die volgende gr. 2 en ouer dansers het hierdie jaar ingeskryf en neem deel aan die 2024 CapeTown Eisteddfod. Hulle dans een of twee voorgeskrewe solos vanaf 8 tot 11 Junie 2024. Dankie, dansers, vir jul harde werk en aan ouers vir jul ondersteuning.

Anya Greeff
Ciera February
Mika vd Walt
Christa-Bella Swart
Lucy le Roux
Heidi v Heerden x2
Natalie Lawson x2
Solange Stevens
Jana v Gijsen
Ella Grey
Gabriella Buckenham
Daniella Boshoff
Larah Opperman
Jessica Schincariol
Karlien vd Walt x2
Kerala Allewell x2
Lara Basson
Emma Liebenberg

Lekker dans en geniet die ondervinding en geleentheid!

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 31 Mei 2024

Die tweede week van die eksamen het klopdisselboom verloop. Soggens tydens eksamen is dit vir die eerste uur of twee doodstil in die skool soos die leerders besig is om hul kennis op skrif te stel. Vanaf 10:00 met die aanbreek van pouse wat dan gevolg word deur die interne sportprogram kom die hele skool skielik tot lewe met al die vrolike stemme wat die heerlike winterweer buite geniet. Gelukkig kom die eksamen op Woensdag, 05 Junie, tot ‘n einde en keer ons huishoudings terug na normaal met ‘n welverdiende vakansie wat voorlê.

Môreaand, 01 Junie, vind ons jaarlikse veilingsdinee by die ikoniese Pienk Dame, naamlik die Mount Nelson Hotel, plaas. Hierdie geskiedkundige hotel boei al gaste sedert 1899 en sodra jy die perseel betree, ervaar jy die gevoel van glans en ontspanning wat dit die perfekte venue vir ons gewilde veilingsdinee maak. Vanjaar se tema is ‘Glansryk in Wit’ en ek wil al die gaste by voorbaat hartlik bedank wat die glansgeleentheid gaan bywoon asook hul bereidwilligheid om hul hande diep in hul sakke te steek om ons skool finansieel te ondersteun. Fondse geïn word direk in projekte geploeg om onder andere die infrastruktuur by die skool asook die IKT-leer en -onderrig aan te spreek. Laat my ook toe om die reëlingskomitee bestaande uit Anna Blackmore en Michelle Forsyth hartlik te bedank vir hul deeglike beplanning en harde werk agter die skerms om die sukses van die veilingsdinee te verseker. Daar is 40 lotte plus ‘n spesiale verrassingslot wat opgeveil gaan word. Gelukkig is ons baie bevoorreg om MC du Toit as ‘n bedrewe afslaer aan die stuur van sake te hê.

Laat my toe om die volgende twee leerders hartlik geluk te wens met hul puik prestasie tydens die ATKV se semi-finale rondte op 15 Mei te Hoërskool Bellville:
  • Pieter Rademeyer – 6de plek in die Wes-Kaap
  • Dané Olivier - 6de plek in die Wes-Kaap
Welgedaan julle twee, julle maak ons baie trots. Baie dankie ook aan juf. Andri vir haar puik leiding in die verband en baie geluk met jou aanwysing as ‘n ATKV-beoordelaar.

Graag wil ek met ons ouers/voogde ‘n bekommernis rakende die taalgebruik van veral ons gr. 5 – 7-seuns tydens skool- en sporttyd, deel. Ek glo dat die meeste ouers/voogde salig onbewus van die onaanvarebare kru- en vloektaal is wat deur sommige seuns tydens pouses, voor en na skool gebesig word. Ek het alreeds met die onderskeie grade se seuns ‘n ernstige gesprek gevoer oor die gebruik van kru- en vloektaal. Ek het mooi aan hulle verduidelik dat ‘n mens se woorde toon wie jy werklik is en as jy kru- en/of vloektaal gebruik dit wys dat jy nie baie vir ander mense omgee nie. Hierdie gedrag weerspreek in totaliteit ons waardes en Jannies behoort van beter te weet. Leerders op ‘n jong ouderdom mag dalk dink dat dit “cool” is om vloek-/krutaal te gebruik en om die een of ander rede dink hulle dat dit hulle volwasse laat klink. Ons weet almal dat vloektaal maklik ‘n gewoonte kan raak daarom wil ek dit onmiddellik in die kiem smoor. Hiermee insinueer ek nie dat ek dink die seuns se taalgebruik by die huis te hore kom nie, maar eerder om julle hulp te vra om met jul kinders te praat dat vloek- en krutaal onaanvaarbaar is en niks met volwassenheid te doen het nie. Baie dankie vir julle ondersteuning in die verband.

Op Woensdag, 31 Mei, het stemgeregtigde Suid-Afrikaners die geleentheid gekry om hul stemme tydens die nasionale verkiesing te laat geld. Ek hoop en vertrou dat alle stemgeregtigde burgers hulle na die stemlokale gehaas het om hul kruise te trek om die nuwe nasionale vergadering sowel as die provinsiale wetgewer in elke provinsie te verkies. Vanjaar was die meeste kiesers ooit geregistreer, naamlik 27,7 miljoen met ‘n allemintige 52 partye op die nasionale stembrief om voor te stem. Kom ons hoop en bid dat al die politieke beloftes nagekom sal word en die morele gesag in die samelewing herwin sal word. Baie dankie dat jy jou kruisie in jou kind/ers se belang gemaak het in die poging om Suid-Afrika ‘n beter plek vir almal te maak!

Hiermee sluit ek dan af met ‘n treffende aanhaling oor die eksamen van die lewe en wens ek vir elkeen ‘n wonderlike naweek saam met jul gesin toe:

“Life is the most difficult exam.
Many people fail
because they try to copy others,
not realizing that everyone has a different question paper!’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF

Kliek HIER vir die nuutste foto's en video's op JvR-Kiek

Kliek HIER vir advertensies van die week