Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 03 Oktober 2025

’n Opwindende Kwartaal 3 propvol skoolaktiwiteite kom vandag amptelik tot ’n einde met die sluit van die skole vir ’n kort vakansie voordat ons die finale pylvak van die jaar aanpak. Ek hoop en vertrou dat julle ook kwartaal 3 saam met jul kind/ers en ons terdeë geniet het. Dit is vir my ’n riem onder die hart dat julle jul kinders en ons skoolaktiwiteite so lojaal ondersteun. Ek glo jul kinders is gelukkig by die skool en daardeur sê ek nie dat ons alles wat ons by die skool doen perfek doen nie, maar eerder dat die bestuurspan en personeel saam met die Beheerraad alles in hul vermoë doen om die skool net na nog hoër hoogte te lei. Die leerders se vrymoedigheid om daagliks by my kantoor te kom inloer om te groet of net om seker te maak dat ek, soos hulle dit stel: ‘’okay’ is’, is seker die beste byvoordeel wat ek, as skoolhoof, voor kon vra. Ek is saam met julle ongelooflik trots op jul kinders se prestasies, maar veral oor hul goeie maniere!

Oktobermaand het haar verskyning te vinnig gemaak. Vir my is dit ’n idilliese maand en kan ek nie anders as om aan die bekende digter, C. Louis Leipoldt, se pragtige gedig oor Oktober te dink nie.

‘Dit is die maand Oktober, die mooiste, mooiste maand!
Dan is die dag so helder, so groen is elke aand,
so blou en sonder wolke die hemel heerlik bo,
so blomtuin-vol van kleure
die asvaal ou Karoo.’

So pragtig beskryf die tweede strofe van sy bekende gedig die mooiste en magiese maand van die jaar. Oktobermaand bring beslis nuwe hoop vir plant, dier en mens. Dit is die tydperk wanneer blomme in volle prag blom en die landskap omskep word in die pragtigste kleure en geure – ’n teken van nuwe lewe en ’n nuwe begin – geniet die heerlike warm weer!

Ons jaarlikse Jannies Talent-aand het op Donderdag, 25 September, in die saal plaasgevind. Die saal en voorportaal was uiters stylvol voorberei om die aand baie spesiaal te maak. Uitnemendheid het weer soos ’n paal bo water uitgestaan en al die kaartjies is vir die gewilde aand uitverkoop. Drie-en-dertig talentvolle Jannies wat na afloop van ’n behoorlike proses van oudisies gekwalifiseer het, het die aand deelgeneem. Die gehoor was verstom met die manjifieke optredes wat gewissel het tussen sang, musiekgroepe, ballet, dans, speel van moeilike musiekinstrumente, Rubik’s ‘’cube’’ en diabola. Die selfvertroue van die deelnemers was indrukwekkend en ongelooflik om te sien hoe hulle hul verhoogpersoonlikheid voor ’n groot gehoor uitgeleef het – Bravo aan al die deelnemers! Wat my betref, was al die deelnemers wenners. Baie geluk aan die volgende Jannies wat medaljes vir hul puik optredes ontvang het:
  • Die Botha-broers (Dane, Sion en Elim) vir musiekgroep.
  • Jean-Jacques Rossouw vir sang en drama.
  • Mia Bothma vir sang.
  • Ella van der Walt vir marimba.
  • Aiyana Alfredo vir dans.
  • Jacques du Toit vir diabola.
  • Pieter Rademeyer, Daniel Opperman, Dane Botha en John Bremridge, bekend as die ‘Nat Tamaties’, vir musiekgroep.
Baie dankie aan die twee graad 4-leerders, Emilie Theron en Lucy le Roux, wat as seremoniemeesters opgetree het, asook die beoordeelaars Jana Claase en Lestie Hughes wat hulle puik van hul taak gekwyt het. Baie geluk aan juf. Rolene, mnr. Ben asook al die personeel wat so hard gewerk het om die sukses van die aand te verseker. Baie dankie aan ons OOV-voorsitter, Susan Derksen, en haar span wat die verkope van heerlike eet- en drinkgoed hanteer het. Dit was ’n spogaand wat ons vir nog lank sal onthou.
Op Vrydag, 26 September, het ons die opwindende akademiese en kultuurweek op ’n hoë noot afgesluit met die aanbied van ’n interne kodering- en robotika-kompetisie. Dit is die eerste keer in die skool se geskiedenis dat ’n kompetisie van dié aard by die skool aangebied word om vir leerders geleentheid te gee om hul kreatiewe- en probleemoplossingsvaardighede nog verder te ontwikkel. Baie dankie aan juf. Suné wat die interne kompetisie beplan en gereël het. Dit was uiters suksesvol en die leerders het die gesonde, kompeterende geleentheid terdeë geniet. Ouers was ook welkom om dit by te woon, en graag wil ek die ouers wat kom inloer het, hartlik bedank vir hul ondersteuning. Dit het ook vir hulle die geleentheid gegee om te sien wat kodering en robotika by ons skool behels. Hierdie kompetisie is juis vanjaar begin aangesien ons vanaf 2026 meer formeel aan soortgelyke eksterne kompetisies wil deelneem. Ons besef dat die onderrig en blootstelling van kodering en robotika aan ons leerders belangrik is, omdat dit hulle help voorberei op die toekoms deur noodsaaklike 21ste eeu vaardighede aan te leer wat in die moderne arbeidsmark in groot aanvraag is. Hierdie leerarea bevorder verder ook kritiese denke, probleemoplossing, samewerking (‘collaboration’) en kreatiwiteit.
Graag deel ek dat ons trotse skool vanjaar weer wegstap met ons 8ste wen vir die algehele beste skool, asook die beste span, tydens die jaarlikse De Kock-Wiskunde-olimpiade wat op Donderdag, 25 September, te Laerskool Van Riebeeckstrand plaasgevind het. Daar het vanjaar 9 skole deelgeneem.

Al vier ons spanne het die top-10 plekke behaal met ’n 10de plek, 6de plek, 3de plek en 1ste plek! Katryn Silvis, Ruben de Ridder, Annalene Viljoen en Jamie Jordaan het ons eerstespan verteenwoordig.

Die ander deelnemers sluit in: Gusto Hoogendyk, Abigail Theron, Andries Gouws, Johannes Mouton, Joshua van den Berg, Susie Samuel, Amelie van der Walt, Stella Pansegrouw, Ben Schoeman, Juan Cruywagen, Vincent Oosthuizen en Zani Scholtz.

Al vier spanne se punte het bygedra tot ons skool se wenprestasie! Hierdie toegewyde leerders woon al van kwartaal 2 af ekstra lesse in die oggend voor skool by. Ons is baie trots op hul harde werk!

Baie dankie en baie geluk aan juf. Andri en mnr. Leon met die merkwaardige prestasie! Dit verdiskonteer beslis weer die hoë standaard van akademie by ons skool.
Ons o.13A-krieketspan het ook Vrydagoggend, 26 September, om 05:30 na Knysna op ’n kriekettoer vertrek om aan die Knysna-krieketfees vanaf 26 – 29 September deel te neem. Hulle het ’n baie suksesvolle toer geniet en 3 van hul 4 wedstryde gewen. Baie geluk, seuns, en baie dankie aan mnre. Rashard en Keenen wat die span vergesel het en so mooi na die seuns omgesien het.
Laat my ook toe om juf. Anika hartlik te bedank vir al die Dapper Stapper-geleenthede vanjaar, asook vir die reël van die Jan Trap-bergfietsdeelname te Meerendal-wynlandgoed op Saterdag, 27 September, om ons akademiese- en kultuurweek op ’n hoë noot te eindig. Baie dankie aan ons ouers wat al die Dapper Stapper-geleenthede so lojaal ondersteun en dit saam met hul kinders geniet.
Die akademiese- en kultuurweek was weereens ’n reuse sukses en ons Jannies het al die opwindende aktiwiteite en ‘buite-die-klaskamer’-geleenthede terdeë geniet. Ek wil graag vir juf. Marinda, wat dit gereël het, en haar dinamiese span hartlik bedank vir ’n ongelooflike week van akademiese en kulturele blootstelling wat nie altyd in klastyd kan geskied nie.

Op Dinsdagmiddag, 01 Oktober, vanaf 14:15 het ek en juf. Marinda ’n opleidingsessie rakende Kunsmatige Intelligensie (KI) aan al ons onderwysers gebied. Ons het die volgende aspekte met hulle bespreek:
  • Die toepassing van interaktiewe leer in die klaskamer;
  • Wat KI is en hoe dit die breinontwikkeling van ’n laerskoolkind beïnvloed, m.a.w. watter gevare dit potensieel vir jong kinders inhou.
  • Wat ons ons Jannies oor KI moet leer;
  • Die aanpassing van assesseringsmetodes en matrikse indien KI betrokke is; en die
  • KI-beleid en strategie wat onlangs deur die Beheerraad goedgekeur is.
Baie dankie aan Marié Cruywagen en die IKT-komitee met hul proaktiewe aksie om vir ons skool ons eie, unieke KI-beleid saam te stel na maande se behoorlike navorsing.

Ons IKT-komitee het verder op Woensdag, 01 Oktober, na Hoërskool Jan van Riebeeck uitgereik deur hul bestuurspan te nooi om vanaf 07:15 – 09:00 ons skool te besoek. Ons het in die kodering en robotika-klas ’n professionele aanbieding gedoen rakende ons laerskool se interaktiewe strategie, asook hoe ons van tegnologie gebruik maak om die leer en onderrig by ons skool te komplimenteer. Graag wil ek vir mnr. Pieter Rademeyer en sy bestuurspan hartlik bedank dat hulle tyd gemaak het om ons akademiese prosesse by die skool te kom sien en te ervaar, sodat hulle in die toekoms ons leerders beter sal verstaan.

Dit is dan ook my voorreg om die Top 10 Akademiese gr.7-leerders vir Kwartaal 3 bekend te maak. Hulle ontvang ook vandag hul spesiale Top 10 Akademiese sertifikate tydens die saalperiode. Baie geluk aan die volgende gr.7-leerders (alfabeties) met jul harde werk en toewyding:
  • Nell du Toit
  • Abigail Fourie
  • Andries Gouws
  • Dané Olivier
  • Stella Pansegrouw
  • Zani Scholtz
  • Katryn Silvis
  • Amelie van der Walt
  • Chanelle van Wyk
  • Annalene Viljoen
Vandag ontvang jul as ouers slegs ’n elektroniese rapport van jou kind/ers se Kwartaal 3-punte, dus geen harde kopie nie. Baie geluk met hul puik uitslae.

Baie geluk aan juf. Mardry (Gr.5) en haar man Kyle met die geboorte op 26 September van baba Bailey. Mag sy vir hulle baie vreugde bring!
Laat my asseblief toe om ons toegewyde personeel hartlik te bedank vir hul harde werk en toegewydheid, maar veral vir hul omgee-harte om seker te maak ons leerders kry voldoende geleenthede om hul volle potensiaal te bereik. Graag wil ek my Bestuurspan (EXCO) hartlik bedank vir hul harde werk en toegewydheid die afgelope kwartaal om die skool operasioneel uiters effektief te help bestuur. Hartlike dank aan ons dinamiese Beheerraad vir hul kosbare tyd en puik insette om te verseker dat Laerskool Jan van Riebeeck van krag-tot-krag sal gaan.

Laaste, maar nie die minste nie, baie dankie aan ons ouers/voogde vir julle lojale ondersteuning – dit word opreg waardeer!

Dit is dan my voorreg om voort te gaan om ons pragtige moedertaal te ondersteun en uit te bou deur met nog ’n bekende Afrikaanse uitdrukking af te sluit:

‘Elke voël sing soos hy gebek is’

Die uitdrukking verwys dat elkeen na sy eie aard en volgens sy/haar eie insigte handel.

Geniet ’n wonderlike vakansie saam met vriende en familie, en wees veilig! Sien uit om almal op Maandag, 13 Oktober, vir die laaste kwartaal van die jaar terug te verwelkom.

Vriendelike groete,
Naas Beets
SKOOLHOOF

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

SPORT

Buitemuursprogram Kwartaal 4

Sien die buitemuursprogram vir kwartaal 4 hier onder:

ALGEMEEN

Begrotingsvergadering: Maandag, 03 November 2025

Beste Ouers,

Sien asseblief baie belangrike inligting hier onder rakende ons jaarlikse begrotingsvergadering op 3 November 2025:

Belangrike kennisgewing: KI-beleid

Ons wil ouers vriendelik versoek om vroegtydig kennis te neem dat daar ’n belangrike skrywe oor die skool se Kunsmatige Intelligensiebeleid in hierdie week se nuusbrief onder Jannies Gesprekke ingesluit is. Dit is van groot belang dat alle ouers die dokument aandagtig deurlees, aangesien dit riglyne bevat wat ons skoolgemeenskap direk raak.

Kyk sommer ook na die kort video opname in die artikel, waar Jannies vertel waarom hulle skool toe kom, verstaan die potensieel negatiewe impak van KI op leer en vergewis jouself van die skool se KI-beleid.

Skakel na artikel:

In die land van KI is jou brein koning

Sport- en Kultuurfoto’s is nou aanlyn beskikbaar

Bestellings kan direk via die volgende skakel gemaak word:
KLIEK HIER

Die afsnydatum vir bestellings is Saterdag, 12 Oktober. Ongelukkig sal geen bestellings meer na hierdie datum gemaak kan word nie.
Wagwoord - JVR2020

Belangrike Kennisgewing oor Jan Kas Omruilings

Neem asseblief kennis dat alle omruilings binne 7 dae vanaf die datum van aankoop gedoen moet word.
Ons kan ongelukkig nie klere omruil wat maande later, of selfs eers ’n jaar ná aankoop, na ons teruggebring word nie.
Dankie vir julle begrip en samewerking.

Vakansiesorg: 6– 10 Oktober 2025

Sien meer besonderhede oor vakansiesorg hier onder:

Ouersportdag 2025 – Kry jou spanne reg!

Maak reg vir pret, spanpoging en sportgees!

Saterdag, 29 November 2025, van 08:30 tot 17:30 bied ons die opwindende Ouersportdag aan.

Kom wys jou vaardighede in:

  • Netbal
  • 7’s Raakrugby
  • 8’s Hokkie
  • Aflosswem
  • Tennis
  • Skaak
Daar is slegs plek vir 8 spanne, elk bestaande uit 16–20 lede. Moenie uitmis nie – dit beloof ’n dag vol lag, kompetisie en lekker saamwees.

???? Skakel of WhatsApp Danielle le Clus-Rossouw by 082 923 5903 om meer inligting te kry en jou span se plek te bevestig.

JANNIES GESPREKKE

Insigte, wenke en kundige leiding vir ouers wat hul kinders se groei en welstand wil bevorder.

In die land van KI is jou brein koning!

In die land van KI is jou brein koning en dit is hoe dit hoort.

Laerskool Jan van Riebeeck se KI-beleid word tans geïmplementeer. Die doel van die beleid is om te verseker dat KI-hulpmiddels op ‘n verantwoordelike, etiese en veilige manier gebruik word om onderrig te ondersteun, maar ook om te voorkom dat leerders se kognitiewe funksies, leerprosesse en ontwikkeling bloot na KI gedelegeer word en sodoende ondermyn word.

Met hierdie konteks in gedagte, het ons in 'n kort video opname vir ‘n paar Jannies, onvoorbereid, gevra waarom hulle skool toe kom, en vir ‘n paar ouers, waarom hulle hul kinders skool toe stuur.

Kom luister wat die Jannies sê, verstaan die potensieel negatiewe impak van KI op leer en vergewis jouself van die skool se KI-beleid.

Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad