|
|
|
|
|
Dagboek
Sa 6 Junie 2026
- Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
- Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
Ma 8 Junie 2026
Di 9 Junie 2026
- Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)
Do 11 Junie 2026
- Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)
Vr 12 Junie 2026
Ma 15 Junie 2026
Di 16 Junie 2026
Wo 17 Junie 2026
Do 18 Junie 2026
- Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
- Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)
Vr 19 Junie 2026
- Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Vandag sluit die skole landwyd vir ’n welverdiende vakansie vir leerders en personeel na ’n bedrywige eerste kwartaal. Vir my het die einde van die kwartaal net te vinnig sy opwagting gemaak, met elf opwindende weke agter die rug. Kwartaal een is gewoonlik besonders besig; bo en behalwe die akademie sluit dit verder ’n kombinasie van somersporte en voorseisoen-wintersportvoorbereiding, asook heelwat kultuuraktiwiteite, in. Ek glo ook dat dit vir julle as ouers deeglike logistieke beplanning geverg het om seker te maak jul kind(ers) kom betyds by al die opwindende aktiwiteite uit – daarvoor wil ek vir julle hartlik bedank!
|
Vandag ontvang julle jul kind(ers) se elektroniese rapport(e) om erkenning vir hul harde werk en toewyding die afgelope kwartaal te gee. Die doel van rapporte is beslis nie om ouers/voogde paniekerig te maak nie, maar eerder om terugvoering oor jou kind(ers) se vordering die afgelope kwartaal te gee. As skoolhoof kyk ek met trots terug na al die opwindende en suksesvolle aktiwiteite wat gedurende die afgelope kwartaal plaasgevind het. Graag wil ek ons personeel hartlik bedank vir hul harde werk, toewyding en omgee die afgelope kwartaal. Baie dankie dat julle die beginsel van uitnemendheid in alles wat ons gedoen en aangepak het, toegepas het. In my opinie is sukses nie permanent nie; dit is tydelik! Dit beteken dat ons nie net soms hard moet werk nie, maar tydens elke geleentheid wat hom voordoen. Mag ons nooit selfvoldaan raak nie, maar eerder aanhou hard werk om op ons huidige suksesse te verbeter – ek sien dit as ’n lekker uitdaging!
|
Graag gee ek kortliks terugvoering rakende die somersporte wat tydens die eerste kwartaal plaasgevind het en wil ek al ons onderwysers en afrigters betrokke, bedank vir hulle kosbare aandeel:
|
- Mini-krieket (o.7 - o.9): 57 wedstryde is gespeel, waarvan ons 45 gewen het.
- Krieket (o.11 & o.13): 23 wedstryde (20 beurte) is gespeel en ons het 12 gewen.
- Tennis: 47 wedstryde is gespeel, waarvan ons 23 gewen het.
- Swem: Ons het aan vier galas en twee interhuisgalas (senior & junior) deelgeneem.
- Atletiek: 62 van ons atlete kwalifiseer vir Interskole, 8 vir Sone en 1 WP-atleet.
Baie geluk aan ons leerders en afrigters met die ongelooflike groei in deelname aan die onderskeie sportsoorte. Saam met dit kom goeie uitslae soos bo gemeld.
|
Ons skool is werklik geseënd met ’n dinamiese personeel met omgee-harte wat nie skroom om die ekstra myl te loop nie. Laat my ook toe om die Beheerraad onder leiding van Merwe Scholtz te bedank vir al hul onbaatsugtige diens wat hulle verrig om ons trotse skool na nog hoër hoogtes te lei. Baie dankie ook aan Susan Derksen en die OOV-lede vir hulle leeue-aandeel in al die suksesvolle funksies wat aangebied is. Ons sien baie uit na die Kaperjolle wat op Saterdag, 11 April, by die skool plaasvind! ’n Hartlike dank aan my bestuurspan (EXCO) vir jul puik leierskap en harde werk om seker te maak ons neem die beste besluite tot voordeel van ons leerders! Laaste, maar nie die minste nie, ’n opregte dank aan ons wonderlike ouers/voogde wat ons week-in en week-uit die afgelope kwartaal so lojaal ondersteun het. Julle omgee, aktiewe betrokkenheid, asook insiggewende insette by die skool, is instrumenteel in ons skool se algehele sukses en vooruitgang. Ek glo dat ons hele skoolgemeenskap ook saam met ons as personeel ongelooflik trots is op wat die eerste kwartaal alreeds vermag is.
|
Vanaf 25–27 Maart het ons gr. 6-leerders hul skoolkamp by Bergkroon te Wellington bygewoon. ’n Skoolkamp in die laaste week van die kwartaal, glo ek, is vir die gr. 6'e die spreekwoordelike kersie op die koek, want met hul terugkeer, is dit sommer amptelik vakansie! Die opwinding op Woensdagoggend, 25 Maart, met die vertrek van die busse, was tasbaar. ’n Skoolkamp is altyd propvol nuwe avonture en ’n wonderlike geleentheid om hul skoolmaats en hulself beter te leer ken. Die spanwerk, beplanning, deursettingsvermoë en veerkragtigheid wat skoolkampe vereis, gaan beslis later in hul lewe help. Ek glo hulle kon seker nie meer wag om hul wonderlike ervarings en stories met julle as graad 6-ouers/voogde te deel nie. Baie dankie aan juff. Lucia, Andri, Shahneé en mnr. André wat so mooi na hulle gekyk het.
|
Die laaste week van die kwartaal maak altyd voorsiening vir die gewilde musiekkonserte. Dit het as volg plaasgevind:
Die gr. 1–3-konserte op Maandag, 23 Maart
Die gr. 6- en 7-konserte op Maandag, 23 Maart
Die gr. 4- en 5-konserte op Dinsdag, 24 Maart
|
|
Die musiekkonserte is altyd kosbaar en was baie opwindend. Baie geluk aan al ons musiekleerders wat aan die konserte deelgeneem het; julle maak ons so trots! Ek besef ook hoe intimiderend dit vir ’n musiekleerder moet wees om voor ’n gehoor, wat bestaan uit ouers, grootouers, onderwysers en leerders, op te tree. Anders as spansportdeelname tydens ’n wedstryd, staan jy in hierdie geval stoksielalleen en vat dit baie moed en karakter om op jou eie voor ’n gehoor op te tree. Baie dankie aan juff. Rolene, Bea, mnr. Ben en die res van die musiekdepartement vir hul leeue-aandeel ter voorbereiding en onderrig van ons musiekleerders. Dit was spreekwoordelik ’n riem onder die hart om te sien hoeveel ouers, voogde, oumas en oupas die konserte ondersteun het. Dit beteken so baie vir die kinders! Ek is so opgewonde en trots om te sien hoe musiek en kultuur die laaste twee jaar by ons skool ontwikkel en gegroei het!
|
|
|
Graag noem ek die volgende opwindende aktiwiteite en uitstappies wat oor die laaste twee weke plaasgevind het:
|
- Op Woensdag, 18 Maart, is ’n algemene kennistoets deur gr. 5–7-leerders afgelê. Ons sal op ’n latere stadium die uitslae bekend maak.
- Ons graad 1’s het op Woensdag, 18 Maart, die Cape Town Science Centre besoek en dit baie geniet.
- Die graad 3’s het op Donderdagoggend, 19 Maart, vroeg op die rooibusse vertrek vir ’n besoek aan die ‘World of Birds’. Die opwinding en pret was so kosbaar!
|
|
- Baie dankie aan al ons ouers wat ons jaarlikse gholfdag op Donderdag, 19 Maart, te King David Mowbray Gholfklub ondersteun het. Daar was ’n vol veld van 80 spelers wat deelgeneem het. Die gholf was uitdagend met die Suidooster wat die baan spreekwoordelik beskerm het, maar die samesyn en lekker kuier voor en na die prysuitdeling was kosbaar. Baie dankie mnr. Rashard vir die puik reëlings, asook mnr. Keenen wat op die dag diens gedoen het.
- Die gewilde somersokkie vir graad 5–7-leerders het op Donderdagaand, 19 Maart, vanaf 18:00–21:00 plaasgevind. Dit bly maar altyd ’n hoogtepunt vir die leerders en hulle was pragtig getooi om die aand terdeë te geniet. Baie dankie juf. Mardry en span vir die puik reëlings, asook toesig.
- Ons graad 2’s het op Vrydag, 20 Maart, die ikoniese Tafelberg besoek. Die op- en afrit met die kabelkarretjies het groot opwinding veroorsaak en nie eers die triestige weer kon die opwinding demp nie.
- Ons eerste wintersportnaweek het vanaf 20–21 Maart tuis en weg plaasgevind. Ons eerste hokkiespanne (o.13A-seuns en -dogters) het op Vrydag, 20 Maart, weg teen Curro Durbanville gespeel, terwyl die res van die hokkiespanne tuis te St. Cyps op die astro hul wedstryde teen Laerskool Totius gespeel het. Ons het tans drie o.13-seuns- en dogtershokkiespanne. Dus, vir die eerste keer kon ons teen LS Totius ons o.13B- en C-spanne teen onderskeidelik hul o.13A- en B-spanne laat speel. Die groei in hokkie is fenomenaal. Rugby en netbal het die volgende dag tuis teen Laerskool Kampsbaai plaasgevind. Ons wintersportspanne het die seisoen op ’n hoë noot afgeskop met puik resultate. Baie dankie aan ons sportkantoor en al die afrigters vir al die puik reëlings en uitslae in die verband. My beste wense vergesel ons wintersportspanne vir ’n besige seisoen wat vanaf kwartaal twee voorlê.
- Baie dankie aan almal betrokke by die verkope van tweedehandse skoolklere op Maandag, 23 Maart, vanaf 12:30 by die skool. Die verkope het baie goed afgeloop en skoolklere, wat omtrent splinternuut is, is vir ’n appel en ’n ui verkoop.
- Ons Gr. 7’s het vanaf 25 Maart tot 31 Maart vertrek om aan die jaarlikse Oranjerivierroei deel te neem. Baie dankie aan mnr. Pieter Rademeyer wat aan stuur van sake staan, en mag julle as ouers die kosbare tyd saam met jul kind(ers) geniet. Ons wens julle baie pret toe en wees veilig.
- Die kwartaallikse markdag is op Donderdag, 26 Maart, deur die grondslagfase leerders aangebied. Dit is baie goed deur die leerders ondersteun.
Die komende vakansie neem ons o.11-rugbyspan aan die prestige Willie le Roux-rugbytoernooi vanaf 27–31 Maart te Laerskool Lochnerhof in die Strand deel. Baie dankie mnr. Rashard dat jy die seuns tydens die vakansie gaan vergesel en mag julle die toernooi terdeë geniet.
|
Hiermee gaan ek voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer:
|
“om iets vir ’n appel en ’n ui te verkoop” Die uitdrukking beteken om ’n item vir baie min, teen ’n laer prys of spotgoedkoop te verkoop.
|
Ek sluit dan af met geseënde Paaswense en mag jou spreekwoordelike paasmandjie oorloop van genade en vreugde. Geniet ’n wonderlike vakansie saam met jul vriende en gesinne. Reis asseblief veilig en sien julle dan weer op Woensdag, 08 April, wanneer die skole vir kwartaal twee heropen.
|
Groetnis Naas Beets SKOOLHOOF
|
|
|
|
|
|
VIR AANDAG
|
|
Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:
|
|
|
|
|
|
|
|
Neem asseblief kennis dat die Dinsdag- en Woensdagrooster omgeruil sal word wanneer die skool heropen. Op Woensdag, 8 April, sal ons dus die akademiese program van ’n Dinsdag volg.
|
Dit beteken dat aktiwiteite soos senior kooroefening, saalperiode en ander Dinsdagverpligtinge sal plaasvind.
|
|
Let egter daarop dat sport steeds volgens die gewone Woensdagprogram sal voortgaan.
|
|
|
|
|
|
|
|
Ons ouerbesoeke vir die eerste kwartaal vind op Maandag, 13 April, en Dinsdag, 14 April 2025, plaas. Hierdie geleentheid stel ouers in staat om eerstehands met onderwysers te gesels oor leerders se vordering, prestasies en enige areas van ondersteuning.
|
Volg hierdie skakel om 'n tydgleuf te bespreek: KLIK HIER
|
Hoe maak ek 'n bespreking nadat ek op die skakel geklik het? 1. Kies jou kind se graad 2. Kies die datum 3. Kies 'n onderwyser (Select Staff) 4. Kies 'n gepaste tydgleuf
|
|
Vir enige navrae, maak asseblief kontak met die betrokke klasonderwyser of stuur 'n e-pos aan megan@jvrprim.co.za.
|
|
|
|
|
|
|
|
Sien meer inligting oor kwartaal 2 se studiekursus hier onder:
|
|
Indien jou kind deel is van die studiekursus, sluit gerus by die WhatsApp-groep aan deur op die skakel te klik: Studiekursus (Ls JvR)
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Ons senior koor tree Sondag, 12 April, by die Passion ChoralFest in die Hugo Lambrechts Ouditorium op. Dit is ’n groot voorreg om die verhoog met bekende kore soos die Cape Town Camerata, Tygerberg City Choir, Vivox Voces en die DF Akademie Kamerkoor te deel, en die koor sien daarna uit om by hierdie geleentheid te sing. Die konsert is die afgelope week ook in die TygerBurger geadverteer. Ons nooi die skoolgemeenskap uit! Dit beloof om ’n besonderse konsert te wees. Sien aangehegde dokumente vir meer inligting rakende kaartjieverkope en konsert detail. Datum: Sondag, 12 April Plek: Hugo Lambrechts Tyd: 16h00 Kaartjies: www.choirfest.co.za Reëlings vir die Senior Koor: * Repetisie: Arriveer 13h30. Die repetisie saam met die ander kore begin stiptelik om 14h00. * Ouers wat nie die konsert bywoon nie, kan die leerders weer 18h00 by Hugo Lambrechts oplaai. Ons sal nader aan die tyd die lokaal identifiseer. * Kleredrag: Formele Skooldrag (hou WA-groep vir spesifikasies dop) Kontak gerus vir juf Rolene indien daar enige verdere vrae is.
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Die senior koor skop die tweede kwartaal af met ’n heerlike kooroefening! Hierdie reëling is getref sodat die senior koor genoegsame oefentyd het voor hulle belangrike optrede by die Passion ChoralFest op Sondag, 12 April.
Hier is die koor se oefentye vir die eerste week van die tweede kwartaal:
* Woensdag, 8 April: 07h30 - 08h30 (sover moontlik, verseker dat die leerders betyds vir die oefening is, asb)
* Donderdag, 9 April: 11h30 - 12h30
Baie dankie vir almal se samewerking in hierdie verband. Ons sien baie uit na die senior koor se eerste optredes!
|
|
|
|
|
|
|
|
Die Musiekdepartement wil graag ‘n geleentheid skep vir ouers/voogde om hul kind(ers) se musiekonderwyser(s) te ontmoet. Ons wil hierdie tyd gebruik om te gesels oor jou kind se musieklesse en om ook te luister na wat julle graag met ons wil deel. Algemene kwessies soos musiekeksamens, eisteddfods, lestye, oefenroetines en algemene vordering en verwagtinge, is van die belangrike punte wat ons graag wil bespreek.
|
Ons nooi daarom alle musiekouers uit om enige van jou kind(ers) se musieklesse gedurende Kwartaal 2 by te woon. Julle is ook welkom om ‘n alternatiewe tyd vir ‘n ontmoeting af te spreek.
|
Kontak gerus jou kind se musiekonderwyser om ‘n datum en tyd vir ‘n ontmoeting te bevestig. Ons sien baie uit daarna om ouers in die musiekdepartement te verwelkom en hoop om almal deur die loop van Kwartaal 2 hier te sien.
|
|
Ek lys die musiekonderwysers en kontakbesonderhede:
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Ons kore werk hard om voor te berei vir die konserte wat gedurende die tweede kwartaal vir ons voorlê. Indien daar optredes bygevoeg word, sal ons julle in kennis stel.
|
Teken gerus die datums aan en hou die Nuusbrief en betrokke WA-groepe dop vir meer gedetailleerde inligting rakende die spesifieke geleenthede:
|
7 Mei HSJvR Reünie Kultuuraand (aandkonsert)
19 Junie GF Musiekkonsert (oggendkonsert by LJvR)
|
12 April Passion ChoralFest by Hugo Lambrechts @ 16h00
21 April Fairmont High School Choir Evening (aandkonsert en busvervoer sal gereël word)
7 Mei HSJvR Reünie Kultuuraand (aandkonsert)
18 Junie ISF Musiekkonsert (aandkonsert by LJvR)
|
|
Ek herinner graag dat dit verpligtend is vir koorlede om die optredes by te woon, tensy daar vooraf verskoning gemaak is by Juf Bea (junior koor) of Juf Rolene (senior koor). Moenie huiwer om ons te kontak met enige vrae nie – ons help graag!
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Sien verdere inligting hier onder:
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Ons toets tans die belangstelling. Sodra daar genoeg belangstelling is vir ’n minimum van 80 items, sal die vooraf bestellings oopgestel word vir betaling via die Karri-toep.
|
👉 Voltooi asseblief die aangehegte vorm indien jy belangstel. 📅 Let wel: Die vorm sluit op 28 Maart 2026, en alle bestellings moet voor hierdie datum geplaas word.
|
Indien daar voldoende belangstelling is, behoort die truie teen die einde van Junie beskikbaar te wees.
|
Laat die Jannie-ondersteuners uitstaan langs die sportveld! Plaas nou jou bestelling by die skakel hier onder!
|
|
(Indien jy reeds verlede jaar bestel het, wil ons jou vra om asb. weer hierdie opgedateerde vorm te voltooi.)
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Ons vier vanjaar Wêreldboekedag op ’n opwindende manier! Leerders word uitgenooi om aan te trek soos hul gunsteling karakter uit ’n Jaco Jacobs-boek.
|
Daar wag ook ’n spesiale verrassing – die beste kostuum wen ’n fantastiese boekprys! 🎉
|
|
Ons kan nie wag om al die kreatiewe karakters by die skool te sien nie!
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
🎭 Kaartjieverkope is NOU OOP! 🎟️ Moenie "Dekades: Die storie van Laurika Rauch” misloop nie – ’n onvergeetlike musikale reis deur die jare met een van Suid-Afrika se mees geliefde stemme. Die hele Hoërskool Jan van Riebeeck is op die verhoog in hierdie eens in 'n leeftyd revueproduksie, opgedra aan ons ikoon-oudleerder, Laurika Rauch! ✨ Beleef die magiese, die stories en die liedjies wat generasies geraak het. 🎫 Kry jou kaartjies nou op Quicket: 👉 https://qkt.io/BYKiYc 🌟 BBP-ervaring beskikbaar: Geniet die vertoning vanuit die GOUE / BBP-area met premium sitplekke, ligte verversings en ’n drankie ingesluit. 📍 Moenie wag nie – bespreek vandag nog en wees deel van hierdie besondere aand!
|
|
|
|
|
|
|
|
Dis weer tyd vir Laerskool Jan van Riebeeck se jaarlikse Kaperjolle – die grootste en lekkerste dag van die jaar!
|
🍔 Kosstalletjies: Onder andere boereworsrolle, pannekoek en Woodstock Brewery se food truck.
|
🍭 Lekkergoedland: Bederf jou soettand – spookasem en slushies!
|
🎶 Musiek: Om jou in die regte bui te kry.
|
👻 Spookhuis: Vir die dapperste avonturiers! (Slegs Graad 4–7). Slegs 13:00–17:00.
|
🎯 Speletjies: Die vierkantspeletjies is vir alle kinders.
|
🍺 Kroeg: Yskoue bier en wyn vir volwassenes.
|
🍖 Koskompetisie: Wie kook die beste in die dorp? Skryf asseblief jou span in!
|
📅 Datum: 11 April 2026 ⏰ Tyd: 12:00–18:00 📍 Plek: Laerskool Jan van Riebeeck (klein veld)
|
Hierdie is die perfekte geleentheid om jou familie en vriende te bederf met hope pret en vermaak. Kom skep herinneringe wat julle vir altyd sal koester!
|
👨👩👧👦 Volwassenes: R100 – sluit proegeleenthede by die braaikompetisie én ’n stem vir die wenner in.
|
🎈 Juniorkinders (Graad R–3): R100 – eindelose vermaak met speletjies in die vierkant.
|
🎃 Seniorkinders (Graad 4–7): R140 – toegang tot al die speletjies én die spookhuis.
|
|
🌟 Moet dit nie misloop nie – ons sien jou daar! 🎊
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Dis weer tyd vir die jaarlikse Kaperjolle koskompetisie.
|
Vanjaar se tema is: Jan van Riebeeck se pitstop-toer, wat beteken jy kan ‘n dis maak van enige land waar ou Jan voet aan wal gesit het.
|
🌍 Jou span kan ‘n dis maak van enige van die volgende lande: Nederland, Indonesië, Japan, Viëtnam, Maleisië, Sierra-Leone, Tansanië, Portugal, Italië en natuurlik Suid-Afrika. Jou “pitstop” moet ook volgens die tema versier word.
|
🔥‘n Gedeelte van jou gereg moet op die kole gemaak word.
|
😋 Nes verlede jaar gaan dit weer ‘n proe-kompetisie wees. Die eetgerei sal voorsien word, en jou porsies moet so twee of drie happies groot wees.
|
🏆Almal wat proe, mag stem vir een gunsteling-gereg en die wenner is die pitstop met die meeste stemme.
|
Wie gaan die kroon dra as Jan Pitstop Kampioen 2026? Skryf jou span teen 20 Maart in deur hierdie vorm in te vul: SKRYF HIER IN
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Hou asb 6 Junie 2026 oop vir hierdie jaar se Laerskool JvR Opvoedingstrust Veiling, wat by die Mount Nelson sal plaasvind.
|
|
Ons soek graag skenkings vir ons lotte. Enige ouers wat kan help met drank, vakansiehuise, jagritte, kuns, juwele, spa-ervarings, ens. word vriendelik versoek om Anna Blackmore op 083 386 4057 te kontak.
|
|
Enige bydrae word opreg waardeer.
|
|
|
|
|
|
TERUGVOER
|
|
Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:
|
|
|
|
|
|
JANNIES VAN DIE WEEK
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Hier volg die week se rugbyuitslae:
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Hier volg die week se hokkieuitslae:
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Hier volg die week se netbaluitslae:
|
|
|
|
|
SPORT JANNIES
|
|
|
|
|
|
INDIVIDUEEL
|
|
|
|
|
Lukas Loubser (Gr.5) het die naweek van 14-15 Maart aan die Wes-Kaap Nippers-kampioenskappe deelgeneem. Hy het baie goed presteer en die volgende medaljes verower.
Silwer in die flags Silwer in die beach sprints 4de in die hardloop en swem afdeling
|
|
Hy neem 26-28 Maart aan die nasionale kampioenskappe in Gqberha deel. Ons wens vir hom alle sterkte toe.
|
|
|
|
|
|
Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.
|
|
|
|
Klik HIER vir advertensies van die week
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
Jy ontvang hierdie nuusbrief
|
|
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
|
|
|
|
|
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad
|
|
|
|
|
|