Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Liewe Ouers

Dagboek

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)


>> SIEN DIE VOLLEDIGE KALENDER <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 5 September 2025

Die seisoen het gedraai en Septembermaand het die afgelope week sy welkome verskyning gemaak. Vir die eerste keer in my vyf jaar by die skool is ek met heerlike sonskyndae bederf om Lentedag en -week te vier. Ons weet ook dat Moeder Natuur beslis nie haastig is om die lenteseisoen en warmer weer sommer sonder teenstand aan Kaapstad en omgewing te oorhandig nie. Lentedag word tradisioneel oral in Suid-Afrika op 1 September gevier, maar hier in die Moederstad kan die permanente lenteweer ons heel moontlik op ’n latere stadium beskore wees. Ek weet nie van julle nie, maar ek soek nou warm, sonskynweer waar die son lekker warm op ’n mens se gesig val, terwyl ons pragtige lentebloeisels kan geniet. Kom ons hoop dat ons ons warm baadjies vir eers kan wegpak en mag die sonnige dae sommer ook ons gemoedstoestand ’n lekker hupstoot gee.

Die afgelope naweek het ons ook amptelik die 2025-wintersportseisoen met ’n sportnaweek teen Laerskool Welgemoed in die noordelike voorstede op ’n hoogtepunt afgesluit. Hierdie week het ons eers ’n breek van sport geneem voordat die somersportoefeninge op 8 September afskop. Op Vrydagmiddag, 29 Augustus, het ons spreekwoordelik heelwat houe tydens die hokkiewedstryde teen Laerskool Welgemoed gevat, en was die sterk opposisie die beter spanne op die dag. Graag wil ek hul eerste hokkiespanne (seuns en dogters) uitlig wat met uitmuntende spel die oorhand gekry het. Dit was ’n moeilike dag en ek het na afloop van die wedstryde, veral met ons eerste spanne, probeer moed inpraat. Dit was vir hulle baie moeilik om die seisoen op dié manier af te sluit. Ek het onder andere ’n lang gesprek met die eerste seunshokkiespan na afloop van ’n groot pakslae met hulle gevoer en verduidelik dat om te verloor nooit lekker is nie, maar ongelukkig gaan dit heel moontlik in die toekoms weer met hulle gebeur. Die lewe bied nie slegs oorwinnings en suksesse nie, maar soos ek al verskeie kere vir ons Jannies tydens saalbyeenkomste verduidelik het – dit is partykeer nodig om te verloor. ’n Mens leer ongelukkig net wanneer jy verloor of onsuksesvol is. Vir seker is dit nie lekker om op hierdie wyse te leer nie, maar wanneer ons verloor of misluk, het ons een van twee keuses: óf ons laat toe dat dit ons onderkry en tou opgooi, óf ons leer om te verbeter – ons lig ons kenne en dit bou karakter deur om altyd te volhard. Dis wat ons as Jannies doen: ons respekteer dit wat met ons gebeur, neem verantwoordelikheid vir wat gebeur het en streef daarna om te verbeter.
Gelukkig kon ons op Saterdag, 30 Augustus, terugkeer om tydens die netbal- en die rugbywedstryde sake te beredder. Ons netbal- en rugbyspanne het opgemaak vir die vorige dag se hartseer en harde lesse. Ek wil nie sommer spanne op die dag uitsonder nie, maar laat my toe om ons eerste netbalspan onder leiding van juf. Ischké hartlik geluk te wens met ’n puik oorwinning van 21–11, en dit onder geweldige druk met ’n groot en geesdriftige skare toeskouers rondom die baan. Die hoogtepunt van die dag was die puik oorwinning van ons eerste rugbyspan met ’n uitstekende uitslag van 17–10 in ’n titaniese stryd om die sportnaweek af te sluit. Ek het lanklaas soveel toeskouers tydens ’n laerskoolwedstryd gesien; die pawiljoen was stampvol met menigte ook om die veld. Die ondersteuning van ouers, oud-ouers, leerders, oud-leerders en personeel was ’n riem onder die hart. Baie geluk aan die afrigters, mnre. André, Keenen, Zander en Rahiem, die twee kapteine, naamlik Carter Schoeman en Rudi Badenhorst, en die seuns wat ’n merkwaardige seisoen beleef het. Nog vars in my geheue is hulle merkwaardige terugvegpoging tydens die Dirkie Uys-interskole-wedstryd waar hulle eenvoudig net nie tou opgegooi het nie. Dat hulle die afgelope Saterdag weer bereid was om hul spreekwoordelike lywe op die spel te plaas en vir mekaar, die afrigters, hul ouers en ons trotse skool te speel, sal my ewig bybly. Hulle is ’n merkwaardige groep seuns wat die spel van rugby liefhet. Mag hulle vir altyd nederig bly en die wonderlike spel respekteer.

Die emosies, die dankbaarheid en die kameraderie na afloop van Saterdag se rugby was kosbaar, en ek glo dat almal wat daar was hierdie spesiale ervaring vir ’n baie lang tyd sal koester. Ons moet egter besef dat sukses tydelik is; daarom bly ons nederig en toon te alle tye respek vir ons opponente. Ek wil vir mnr. Johan Engelbrecht, hul skoolhoof, en sy personeellede hartlik bedank vir die vriendelike ontvangs en kosbare gasvryheid, en hulle gelukwens met die puik reëlings gedurende die afgelope naweek. Dit was ook spesiaal om te sien hoe goed ons ouers met hulle ouers gedurende die sportnaweek oor die weg gekom het en mekaar met die nodige respek hanteer het. Mag ons die spesiale sportverhouding tussen die Jannies en die Blessies vir nog baie jare omhels.

Ek deel dan graag ook met julle die goeie nuus dat Coreen Scholtz (Gr. 5) aangewys is as medaljewenner in die kategorie Afrikaanse Lirieke in die Junior Sangafdeling van die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod, asook Antjie Samuel (Gr. 5) as medaljewenner in die Unisa Junior-kategorie van die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod. Baie geluk aan die twee jong dames! Dit is wonderlik om te sien dat ons leerders so goed op kultuurvlak presteer.

Graag gaan ek voort om ons pragtige moedertaal te promoveer en sluit ek met nog ’n bekende Afrikaanse uitdrukking af:

“Vol fiemies wees”

Die uitdrukking verwys na iemand wat aanstellerig, vol grille of vol voorkeure is.

Vriendelike groete
Naas Beets
Skoolhoof

VIR AANDAG

Neem kennis van die volgende belangrike aankondigings en gebeure:

AKADEMIE

Akademiese- en Kultuurweek 2025

Om vaardighede aan te leer en kennis uit te bou, begin ons almal deur blokkies te bou. Ons is opgewonde om vanjaar se program en die aktiwiteite met julle te deel: Die Boublokke van Ontwikkeling
Beskik jy oor ’n unieke vaardigheid wat jy graag met ons leerders wil deel? Kontak my gerus by marinda@jvrprim.co.za.

SPORT

Buitemuurseprogram Kwartaal 4

Sport vir Kwartaal 3 sal vanaf Maandag, 8 September, tot en met Donderdag, 25 September, plaasvind.
Kwartaal 4 begin wanneer die skool weer heropen.
Neem asseblief kennis
1. Alle leerders word met busse na die Conradieveld en terug skool toe vervoer, indien dit nodig is.
2. As leerders tydens oefeninge of wedstryde afwesig gaan wees, moet die betrokke afrigter of die sportkantoor in kennis gestel word.
3. Afstel van oefeninge of wedstryde weens reën, ens. sal per Whatsapp aan ouers om 12:00 op die betrokke dag gekommunikeer word.

ALGEMEEN

Ouma- en Oupadag: 19 September

Ons sien met groot opwinding uit na Ouma- en Oupadag wat op Vrydag, 19 September, plaasvind. Dis altyd ’n spesiale geleentheid waar ons die belangrike rol van grootouers in ons kinders se lewens vier.

????️ Kaartjies is nou beskikbaar op Karri!

Maak seker jy bespreek betyds om nie hierdie kosbare dag mis te loop nie.

???? Vir meer inligting en besonderhede, sien asseblief hier onder.

Jannies Talent: 25 September 2025

Kom geniet ’n aand vol talent en pret!

???? Donderdag, 25 September
???? Skoolsaal
18:00
Kaartjies beskikbaar op Karri.

’n Groot Dankie!

Ons wil graag vir David Matthews en sy span hartlik dankie sê vir al die kantoorskryfbehoeftes wat hulle aan ons geskenk het. Ons waardeer dit opreg!

Boodskap van Merwe Scholtz, Beheerraadvoorsitter

Beste JvR-ouers,


Koöpteer van beheerraadslede

Ek glo dat dit goed met julle en jul kinders gaan en dat julle die skool geniet.

Daar is van ons beheerraadslede wie se termyn in die komende maande tot ‘n einde kom. Daar is vele strategiese kwessies op die horison, insluitend ingrypende wysigings tot die skolewet. Ter selfde tyd moet ons vir Naas en sy span die nodige ruimte skep om voort te gaan met die uitstekende werk wat hulle doen en ons unieke skoolomgewing met sy wees jouself-manier van doen te handhaaf en verder uit te bou. Dit midde die toenemende finansiële voetwerk wat nodig is om in 'n openbare skool die boeke te laat klop.

Ek doen 'n beroep op minstens twee van ons ouers wat volgende jaar kinders in graad R, 1, 2 of 3 het wat belangstel en bereid is om betrokke te raak. Kontak my (mscholtz@genfin.co.za). Ons het spesifiek ‘n behoefte aan finansiële kundigheid en breër bestuursvaardighede.

Dit is nodig om ouers wat kinders het wat minstens nog 5 jaar by ons op skool is tot die beheerraad te verkies, sodat hulle twee termyne kan dien en so die nodige kontinuïteit kan verskaf.

Stuur asseblief ook aan ander ouers wat julle voel kan help.

Groetnis,
Merwe
082 783 8795

Jan Kas gesluit - 2 Oktober

Neem asseblief kennis dat Jan Kas op 2 Oktober gesluit sal wees as gevolg van 'n personeelfunksie.

Vir enige navrae, kontak vir Megan by megan@jvrprim.co.za

Ouersportdag 2025 – Kry jou spanne reg!

Maak reg vir pret, spanpoging en sportgees!

Saterdag, 29 November 2025, van 08:30 tot 17:30 bied ons die opwindende Ouersportdag aan.

Kom wys jou vaardighede in:

  • Netbal
  • 7’s Raakrugby
  • 8’s Hokkie
  • Aflosswem
  • Tennis
  • Skaak
Daar is slegs plek vir 8 spanne, elk bestaande uit 16–20 lede. Moenie uitmis nie – dit beloof ’n dag vol lag, kompetisie en lekker saamwees.

???? Skakel of WhatsApp Danielle le Clus-Rossouw by 082 923 5903 om meer inligting te kry en jou span se plek te bevestig.

Mediasentrum nou oop tydens tweede pouse!

Ons is opgewonde om aan te kondig dat die mediasentrum vanaf 2 September gedurende tweede pouses oop sal wees.

Kom loer in en neem ’n boek uit – daar wag iets vir elke smaak en belangstelling!

TERUGVOER

Die jongste sportuitslae, toekennings, prestasies en ander resultate:

SPORT

Hokkieuitslae: 28-29 Augustus 2025

Hier volg die week se hokkieuitslae:

Netbaluitslae: 30 Augustus - 1 September 2025

Hier volg die week se netbaluitslae:

Rugbyuitslae: 30 Augustus 2025

Hier volg die week se rugbyuitslae:

INDIVIDUEEL

Dané aangewys as Top 10 junior danser

Dané Olivier het in Augustus aan die TIME-danskompetisie deelgeneem, waar daar sowat 3 000 inskrywings was in verskeie dansstyle. Sy het uitstekend presteer en plekke in ballet- sowel as kontemporêre solo’s en groepe behaal. Sy is ook aangewys as een van die Top 10 junior dansers.

In Desember gaan Dané Barcelona toe om aan die internasionale Youth Grand Prix-balletkompetisie deel te neem. Sy is een van slegs vyf dansers van haar balletskool wat vir hierdie groot geleentheid gekies is.

Klara blink uit in Gimnastiek

Baie geluk aan Klara Jansen van Vuuren (Gr.6) wat Vrydag, 29 Augustus gekies is vir SA nasionale kampioenskappe in Gimnastiek wat op 2- 5 Oktober in Pretoria sal plaasvind.
Klara het Vrydag haar WP klere ontvang.

Baie geluk, Klara! Ons is trots op jou!

JANNIES GESPREKKE

Insigte, wenke en kundige leiding vir ouers wat hul kinders se groei en welstand wil bevorder.

Zen Den Gesels: Uitvoerende funksies

Almal van ons benodig uitvoerende funksies. Vir sommige kinders is dit ’n natuurlike proses, maar vir baie kinders bly dit ’n uitdaging en ’n frustrasie. Hierdie vaardigheid is een van die belangrikste vaardighede om te funksioneer in ons besige leefstyl.

Volg Die Suidooster vir al die nuutste artikels, foto's en video's.

Klik HIER vir advertensies van die week

facebook instagram 
Jy ontvang hierdie nuusbrief
omdat jy 'n ouer of ondersteuner van Laerskool Jan van Riebeeck is.
Laerskool Jan van Riebeeck, Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad