Share this emailCopy the public link or share it on your favorite channel.
Weeklikse Nuusbrief banner
Liewe Ouers

DATUMS

Sa 6 Junie 2026

  • Rugby: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Netbal: Mini-toernooi by Van Riebeeckstrand (o.7 - o.9)
  • Veiling

Ma 8 Junie 2026

  • Interne sport begin

Di 9 Junie 2026

  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 1)

Do 11 Junie 2026

  • Koffie-en-Beskuit Konsert (Slegs GF)

Vr 12 Junie 2026

  • Eksamen Eindig

Ma 15 Junie 2026

  • Skoolvakansiedag

Di 16 Junie 2026

  • Jeugdag

Wo 17 Junie 2026

  • Hoofleiers Verkiesing
  • Eksamen Sieketoetse

Do 18 Junie 2026

  • Musiekkonsert ISF
  • Helene Slabbert (Onderwyser) verjaar
  • Graad 3 uitstappie: Henties-fabriek (Groep 2)

Vr 19 Junie 2026

  • Finkom vergadering
  • Hoofleiers aanwys
  • Musiekkonsert GF
  • Toer oorhandiging
  • Netbal: Fair Cape Durbanville (o.8)




>> SIEN DIE VOLLEDIGE DAGBOEK <<

VIR AANDAG

Bekers/trofees inhandig

Leerders wat wisseltrofees ontvang het, moet dit asseblief so gou moontlik terugbring skool toe. Handig dit asseblief by juffrou Marietjie in.

Lego-kontak

Ons is reeds besig om aan 2025 se Akademiese week te beplan. Indien enige iemand 'n kontak het met iemand by Lego - boublokkies sal dit so gaaf wees om my (Marinda Brink) in kennis te stel. Die tema van die week is geskoei op Lego - boublokkies. Die plan is om volgende jaar se Akademiese week nog groter en met nog meer pret aan te bied.

Kontak my gerus: marinda@jvrprim.co.za

ALGEMEEN

NG Kerk Drieankerbaai veiling: 31 Julie 2024

Dit is tyd vir veiling! Kliek op die skakel vir meer inligting: https://qkt.io/gSkzHj

TERUGVOER

Rugby teen Milnerton Primary: 24 Julie 2024

Met afloop van die Kenridge rugbywedstryde, was daar bietjie nabetraging gedoen en het die afrigters skouer aan die wiel gesit met die volgende oefening. Hulle hardewerk was beloon met puik uitslae teen Milnerton Primary Woensdag(24/07)

o.7A - verloor 0-2
o.7B - gelykop 5-5
o.8A - wen 5-1
o.8B - wen 4-0
o.9A - wen 4-2
o.9B - wen 4-3
o.11A - wen 24-10
o.11B - wen 26-0
o.13A - verloor 12-24

Sterkte aan al die seuns met hulle wedstryde môre teen Curro Langebaan.

Netbal JvR vs Kampsbaai: 22 Julie 2024

Maandag, 22 Julie, het ons C-spanne weer die geleentheid gekry om teen Laerksool Kampsbaai te speel. Die spanne het baie goed gedoen. Ongelukkig het Woensdag se reën gemaak dat die ander spanne nie kon speel nie. Ons is baie trots op die twee spanne.

Uitslae:
0.13C wen 5-3
0.9C wen 4-1

Western Cape Virtual Eisteddfod

Coreen Scholtz en Chanelle van Wyk het gedurende Junie aan die "Western Cape Virtual Eisteddfod" in die klavier afdeling deelgeneem, en die afgelope week hulle uitslae ontvang. Baie geluk met julle pragtige prestasies!

Coreen Scholtz
Graad 4, Klavier solo, Romanties: Goud
Graad 4, Klavier solo, Kontemporêr: Silwer

Chanelle van Wyk
Graad 6, Klavier solo, Modern: Silwer
Graad 6, Klavier duet: Goud

Landloop Wynberg zone wedloop: 24 Julie 2024

Drie van ons leerders het Woensdag, 24 Julie 2024, aan die Wynberg sone landloopwedloop deelgeneem. Hulle het baie goed gevaar in uiterse nat en modderige toestande.

Uitslae:
Lukas 17de
James 19de
Delmar 10de (deur na Cape Metro champs)

Baie geluk, Jannies! Ons is so trots op julle!

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 26 Julie 2024 

Moeder Natuur stuur die afgelope tyd baie kouefronte met wolke wat ‘oopmaak’ en die aarde seën met salige reën. Is dit nie ‘n wonderlike voorreg om met die gekletter van mildelike reën op die dak soggens wakker te word nie. Die reuk van ‘n vars en nuwe dag is so kosbaar. Dalk met al die reën die afgelope tyd, sien baie min van ons die voordele wat dit vir die grond en mense inhou, raak as gevolg van die ontwrigting en skade wat dit veroorsaak het. Met die reën het Moeder Natuur ook haar winterkloue behoorlik vir die Wes-Kaap en veral vir ons pragtige Moederstad ingeslaan. Die gure weer beïnvloed beslis weer soos die vorige jaar al ons buitemuurse aktiwiteite. Die watertafel van beide die Conradieveld en die junior veld (agter die skool) het die afgelope tyd baie gestyg en maak dit selfs moeilik om op te oefen. Ons vra dus asseblief vir jul begrip indien wedstryde en/of oefeninge gekanselleer word.

Graag wil ek al ons ouers/voogde hartlik bedank vir hul ruim bydrae via die Karri-toep vir die fondsinsamelingsprojek van Donderdag, 18 Julie, om Internasionale Nelson Mandela-Dag te vier. Te danke aan julle vrygewigheid kon ons ‘n almintige R16 000 vir ‘’The Haven Night Shelter’’ insamel sodat hulle noodsaaklike benodigdhede vir haweloses kon aankoop. ‘’The Haven Night Shelter’’ in Kaapstad bied slaapplek, kos en klere aan ongeveer 80 hawelose volwassenes. Volgens Patricia van der Ross, Lid van die Burgemeesterskomitee vir Gemeenskapsdiens, was skuilings die vorige week oorvol nadat sterk winde en swaar reën meer as 4 000 mense dakloos gelaat het. Baie dankie vir julle omgee en ontferming oor kwesbare mense wat dikwels geen hoop meer het nie.

Baie geluk aan ons junior- en senior kore met hul onderskeie puik optredes op Maandagaand, 22 Julie, tydens HS JvR se Kunstefees. Baie dankie mnr Ben en juf. Rolene met die puik sang van die junior koor. Hulle het beslis die kollig met hul optrede tydens die aand gesteel. Wonderlik om te sien hoe hard hulle daaraan werk om eenstemmig te sing en ook in die proses die voorliefde vir sang aan te leer. Ons senior koor werk die afgelope tyd baie hard onder die leiding van Leon Starker aan veral stemtegnieke. Hulle het in ‘n baie kort rukkie dit reggekry om helder koorklank voort te bring. Baie dankie aan Leon, mnr. Ben en juf. Rolene vir julle kosbare tyd en die harde werk wat julle insit om onder andere stembou, gehoorontwikkeling, musiekwaardering en koordissipline aan te spreek. Ek waardeer jul volgehoue toegewydheid asook voortdurende streef om kwaliteit koorsang te lewer. Ons sien baie uit om die ontwikkeling en vordering van beide kore dop te hou. Baie dankie aan ons ouers/vogde wat die spesiale kooraand bygewoon het. Laastens, maar nie die minste nie, hartlike dank aan HS JvR en sy skoolhoof, mnr. Pieter Rademeyer, vir die geleentheid om deel van julle kunstefees te kon wees.
Op Woensdag, 24 Julie, het ons o.7 - o.13-rugbyspanne teen LS Milnerton op die Buys-veld van HS JvR gespeel. Die weer het nie saamgespeel nie wat veroorsaak het dat spel bemoeilik is. Die nat en modderrige veld het beslis nie die geesdrif van die skole gedemp nie. Om vol modder en deurdrenk van die natheid te wees, het tot groot vermaak van die spelers gelei. Dit was natuurlik vir die seuns ‘n hoogtepunt om in die reën te kon speel en ek weet dit het groot ongelukkigheid onder sekere mammas veroorsaak, maar rugby is ‘n wintersport en seuns is seuns! Baie geluk aan ons rugbyspanne deur 6 van die 9 wedstryde op die dag te wen en een gelykop te speel. Baie dankie aan ons afrigters vir hul toewyding ten spyte van die gure weer.

Ek klink dalk weer soos ‘n platespeler wat vasgehaak het, maar ek wil week 3 van die kwartaal ook afsluit deur weer op dankbaarheid te fokus. Dit is so maklik om ingestel te raak op die dinge wat vir ons moeilik is, byvoorbeeld teëspoed, teleurstellings, skade en verliese. Die gevolg is dat ons moontlik voortdurend kla en so kan dit onbewustelik deel van ons sorge en somberheid word. Kom ons word eerder dankbaar vir die goed wat ons het, want dankbaarheid lei altyd tot blymoedigheid. Vir die blymoedige mens is die lewe ‘n fees!

Ek sluit dan af met die volgende anonieme stelling oor dankbaarheid en wens vir almal ‘n wonderlike naweek toe. Die van julle wat die sportnaweek in Langebaan gaan bywoon, moet dit geniet en veilig reis – ek sien julle daar.

“’n Dankbare mens verwys na ‘n halfvol glas water en ‘n ondankbare mens praat van ‘n halfleë glas. Dankbaarheid sien meer raak en ondankbaarheid sien minder raak. Dankbare mense sien geleenthede, ondankbare mense sien probleme.’’

Vriendelike groete,
Naas Beets
SKOOLHOOF

Kliek HIER vir die nuutste foto's en video's op JvR-Kiek

Kliek HIER vir advertensies van die week