Weeklikse Nuusbrief banner
Liewe Ouers

DATUMS

9 Mei, 2024

00:00 Hokkie: o.9-o.13 teen Laerskool Rallim (Seuns - TUIS en Dogters - WEG) (+)

10 Mei, 2024

00:00 Hokkie Sportdag: o.7 - o.13 seuns en dogters Mikro (Tuis) (+)

07:45 Toets: NW / NWT (gr. 4 - 6), Aardrykskunde (gr. 7) (+)

10:00 Moedersdagverkope (+)

14:15 Landloopwedloop: Vishoek (+)

11 Mei, 2024

00:00 Rugby en Netbal: o.7 - o.13 Sportdag Laerskool Mikro, Kampsbaai, Durbanville (TUIS) (+)

00:00 Bernadine Zitha (Snoepie) verjaar (+)

13 Mei, 2024

14:15 Musiekkonsert: Graad 6 (+)

15 Mei, 2024

14:15 Musiekkonsert: Graad 7 (+)

16 Mei, 2024

00:00 Hokkie Dogters: Blouberg Ridge en Curro Century City (TUIS) (+)

00:00 Hokkie Seuns: Blouberg Ridge (WEG) (+)

00:00 Fair Cape Netbal: o.9A & B Laerskool Durbanville (+)

17 Mei, 2024

00:00 Fair Cape Netbal: o.8A & B Laerskool Durbanville (+)

07:45 Toets: Gesk. ass. (gr. 4 - 7) (+)

14:15 Landloopwedloop: Rondebosch & Rustenberg (+)

18 Mei, 2024

00:00 Rugby: Porterville (+)

00:00 Fair Cape Netbal: o.7A & B Laerskool Durbanville (+)

20 Mei, 2024

00:00 Grondslagfase Assesserings begin (+)

18:00 Beheerraadvergadering (+)

21 Mei, 2024

00:00 Eksamen begin vir Graad 7 (+)

00:00 Winter Buitemuurs eindig (+)





>> SIEN DIE VOLLEDIGE DAGBOEK <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 21 Julie 2023

Dit is dan my groot eer en voorreg om ons leerders, ouers/voogde en personeel hartlik terug by die skool na ‘n heerlike wintervakansie te verwelkom. Ek glo dat almal die 3 weke van lekker rus behoorlik gebruik het om die spreekwoordelike battery sommer ten volle te herlaai en is slaggereed vir nog ‘n opwindende kwartaal propvol aktiwiteite wat voorlê. Daar is heelwat sport, kultuur (Koor & Eisteddfod) en akademiese aktiwiteite om na uit te sien, veral die interskole wat weg tydens die naweek van 18 en 19 Augustus te Moorreesburg plaasvind asook die akademiese week vanaf 25 Augustus tot 02 September. Meer inligting sal binnekort volg.

Die Suid-Kaap Sporttoer vanaf 19 – 23 Junie 2023 was ‘n reuse sukses en die leerders wat die toer meegemaak het, kan nie ophou praat oor die wonderlike ervaring om teen skole buite ons area te speel asook die ongelooflike besienswaardighede wat hulle besoek het nie. Ons het nie toegelaat dat die leerders hulle selfone saam op toer neem nie. Hulle het saans na die sportwedstryde bordspeletjies gespeel en lekker met mekaar gesels. Dit is juis die samesyn, sosialisering en kameraadskap wat die leerders vir ‘n baie lang tyd gaan onthou en waardeer. Weereens baie dankie aan die onderwysers (Leon, Ischké, Shahneé, Sharon, Erick, Suné Swanepoel en Rashard) wat die leerders op toer vergesel het en so mooi na hulle omgesien het. Mnr. Leon, baie dankie en geluk met die reël van die puik sporttoer. Hierdie Suid-Kaap Sporttoer vir die o.13A-Netbal-, o.13A-Rugby-, o.13A-Hokkie- (seuns en dogters) asook die o.12A-Netbalspan word nou ‘n jaarlikse instelling en daar word reeds aan die 2024 sporttoer beplan.

Op Dinsdag, 18 Julie, het al ons Jannies en onderwysers terug skool toe gekeer. Die eerste dag van kwartaal 3 is tradisioneel met ‘n saalbyeenkoms begin waartydens ek almal amptelik na die heerlike vakansie kon verwelkom. Die saalboodskap is deur ons 2023 Hoofseun en Hoofdogter gelewer. Jan-Willem Silvis en Mieke Huysamen het hul puik van hul taak gekwyt met hul eerste amptelik optrede as die nuwe hoofseun en –dogter. Baie dankie aan Jan en Karlien Silvis (Jan-Willem se ouers) en André en Tanya Huysamen (Mieke se ouers) wat die simboliese aansteek van die hoofleierbalkies behartig het. Verder het ons ook saam met die res van die wêreld Nelson Mandela Internasionale Dag gevier. Ek verwys graag na een van Madiba se legendariese stellings wat so gepas is vir onderwys, naamlik “Education is the most powerful weapon which you can use to change the world’’.
Dit is dan ook my eer en voorreg om met julle te deel dat juf. Ischké (netbalhoof) gedurende die Junie-vakansie haar Protea-kleure as nasionale netbalskeidsregter verwerf het. Welgedaan Ischké! Ons is baie trots op jou en dankbaar vir alles wat jy vir netbal by ons skool tot voordeel van ons netbaldogters doen.

Die buitemuurse program het ook die week volstoom afgeskop terwyl die gure weer vir ons verskeie uitdagings gebied het om met die sportoefeninge voort te gaan. Sterkte aan die o.9 - o.13 hokkiespanne wat vanaf vanmiddag en môre aan Laerskool Stellenbosch se hokkietoernooi deelneem.

Graag sluit ek dan af met die volgende stelling van Andy Andrews rakende die lewe en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe.

“Life itself is a privilege
But to live life to the fullest, well that is a choice.’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF

VIR AANDAG

Ouerbesoeke: 31 Julie en 1 Augustus

Op 31 Julie en 1 Augustus vind daar ouerbesoeke plaas. 15 Minuut-afsprake sal met onderwysers gemaak kan word om oor jou kind(ers) se akademiese vordering of emosionele welstand te gesels. Volg hierdie stappe om ‘n afspraak te maak:
  1. Volg die skakel vir die Besprekingsbladsy.
  2. Kies die graad waarin jou kind is.
  3. Onder “Select Staff”, kies die onderwyser met wie jy ‘n afspraak wil maak.
  4. Op die kalender, gaan na Julie of Augustus en kliek op een van die twee datums hier bo genoem.
  5. Kies die tydgleuf wat jou sal pas. Indien daar geen tydgleuwe meer beskikbaar is nie, stuur gerus ‘n boodskap op Skooler of per e-pos aan die betrokke onderwyser om ‘n alternatiewe tyd te reël.
  6. Rol af op die bladsy en vul jou naam, e-posadres, kind se naam en enige addisionele kommentaar in.
  7. Jy sal ‘n bevestiging van jou afspraak per e-pos ontvang.
  8. Indien jy die afspraak wil skuif of kanselleer, volg die stappe in die e-pos.
  9. Jy kan tot en met 24 uur voor ‘n afspraak nog bespreek, verander of kanselleer.
  10. Om te sien watter onderwyser bied watter vak aan, sien gerus die personeelblad op die webtuiste.
Die skool verdaag op 31 Julie en 1 Augustus vroeër: 12:45 (gr. 1-3) en 13:00 (gr. 4-7)
Die bus sal om 13:10 vertrek.
Geen sport sal plaasvind nie.

Klerebank: Bestellings

Dankie dat jy aan die klerebankopname aan die einde van verlede kwartaal deelgeneem het. Bestel asb. nou DRINGEND die klere wat jy aangedui het wat nog gekoop moet word. Bestel gerus sweetpakke aangesien ons dit ook aangepas het. Die winter gaan nog ‘n rukkie met ons wees. Ons vestig graag aandag daarop dat die nuwe skooldrag vir alle leerders vanaf Januarie 2024 verpligtend sal wees. Laaste bestellings om vir Jan. 2024 gereed te wees, sal op die laatste teen 31 Augustus bestel moet word.

Die bestellings moet aanlyn by die Klerebank gemaak word: Treadle Clothing

AKADEMIE

Akademiese Week: 25 Aug - 2 Sept 2023

Dis ‘n KUNS om ‘n jannie te wees …

Gedurende 25 Aug. – 2 Sept. 2023 vier ons die KUNS van jannie-wees. Dit verg omtrent ‘n spesiale KUNS om ‘n jannie in murg-en-been te wees. Tydens hierdie week staan die ‘akademiese rooster’ soos ons dit ken, stil. Ons wyk van die verpligte KABV-kurrikulum af en gebruik ‘n lekker wye tema (Die KUNS van jannie-wees) om op verskeie areas met ons kern besigheid waarmee ons skool spog en uiters trots is nl. AKADEMIE te integreer. Ons bied die geleentheid aan ons personeel en ouers om betrokke by hierdie week te wees. Hierdie holistiese week sal baie pret en leersame geleenthede verseker. Om blootstelling en leergeleenthede aan leerders te bied sonder dat hulle besef dat hulle met akademie en leer besig is, is die KUNS.

Ons het ‘n soortgelyke week vier jaar gelede aangebied waartydens die klem op Sport in Akademie geplaas is. As gevolg van die sukses van aktiwiteite van daardie week het ons skool besluit om die daaropvolgende jaar hokkie as ‘n formele sport by ons skool aan te bied.

Die idee met vanjaar se Akademiese week is nie noodwendig om iets nuut na afloop van die week by die skool te implementeer nie, maar eerder om Akademie met verskillende leerareas rondom die woord KUNS te integreer. Om daardeur ons skoolgemeenskap te verryk en verder te bou aan die unieke, besondere kultuur wat Laerskool Jan van Riebeeck van ander skole onderskei. Die balans waarna ons skool jaarliks streef, word hiermee gevier, want dit verg ‘n spesiale KUNS om ‘n Laerskool Jan van Riebeecker te wees!

Ek rig ‘n ope uitnodiging aan jou as ouer/voog om betrokke by hierdie week se program te raak - as toeskouer, deelnemer of selfs aanbieder. Hou asb. hierdie ruimte dop, want daar sal weekliks verdere inligting rondom al die bedrywighede van die week geplaas word.

Vir nou is twee goed belangrik:
  1. Hou die datum op jou kalender oop en raak gerus saam met ons opgewonde!
  2. Indien jy voel dat jy graag betrokke wil raak, kontak my gerus (Marinda Brink: marinda@jvrprim.co.za). Enige talent, inligting, diens wat jy aan ons leerders kan oordra of jou kennis van ‘n spesifieke onderwerp wil deel, sal ‘n reuse bydrae by ons program kan maak. Dis altyd so lekker indien daar ‘n ouer/voog is wat iets vir ons leerders kan leer of demonstreer of aanbied. Enige voorstel is welkom. Voorbeelde om aan te dink: Dis ‘n KUNS om kuns te waardeer; die Geskiedenis van KUNS; Dis ‘n KUNS om jouself te beskerm, te beveilig; Om gesond te bly, is ‘n kuns; Dis ‘n KUNS om (interessante sport/vaardigheid) te bemeester; Om te kan skryf, is ‘n KUNS, om ‘n verskil in ander mense se lewens te maak is ‘n KUNS, ens.
Onthou dat ons fokus is om af te wyk van die gewone en om ander, interessante inligting te deel deur heerlike aktiwiteite en leergierige blootstelling te beplan.

Hier volg ‘n lys van bedrywighede wat reeds vir die week beplan is:
  • Vrydag, 25 Aug: Ouma- en oupadag met Elsabe Daneel as gasspreker (Die KUNS om in die onthou-gange van ouma en oupa te wandel). Kaartjies binnekort op Karri te koop. (Vir die grootouers)
  • Woensdag, 30 Aug:
    • Gr. 6 & 7-leierskappraatjie met Lindie Strydom as gasspreker (Die KUNS om leierskap te ontwikkel)
      (Vir ons senior leerders)
    • Jannies Talent (Die KUNS om talente te ontwikkel) – kaartjies binnekort op Karri te koop
      (Vir die gesin)
  • Donderdag, 31 Aug: Personeelopleiding (Sensoriese integrasie en die KUNS om dit aan te spreek (vir die onderwysers)
  • Vrydag, 1 Sept: Loslit-dag (Die KUNS van omgee) Kaartjies binnekort op Karri te koop (vir die leerders)
  • Vrydag en Saterdag (1 – 2 September): Sportafsluiting: Sport vs Laerskool Welgemoed. Inligting volg later.
  • Saterdag, 2 Sept.: Damesontbyt met Lindie Strydom (en nog ‘n verrassing) (Die KUNS van vrou-wees) Kaartjies binnekort op Karri te koop.
*Joga vir ons leerders word reeds ook beplan en sal oor verskeie dae aangebied word.

KULTUUR

Klavier Eisteddfod

Neem asb. kennis dat die klavier Eisteddfod in Augustus plaasvind. Daar is amper elke Saterdag 'n groep wat speel. Maak dus vroegtydig seker dat dit nie met sportaangeleenthede bots nie. Eisteddfodtye kan nie geskuif word nie.

Koor: Reëlings 2023

  1. Na vele oorweging is daar besluit dat die kore hierdie jaar in hul sweetpakke en tekkies sal optree. Indien jou kind iets nie het nie, leen asb. by maats vir die geleenthede.
  2. Ons is op kort kennisgewing genooi om deel te wees van 'n koorkonsert by die Groote Kerk saam met Jak de Priester. Die voorlopige datums is 1 of 2 Augustus, dit sal nog bevestig word. Wees net solank bewus hiervan. Ons besluit volgende week of ons hieraan gaan deelneem.
  3. Die Weskus Koorfees is hierdie jaar by Laerskool Table View. Die datum vir ons skool is nog nie vasgemaak nie, maar dit sal tussen 16 en 19 Oktober wees.
  4. Daar is 2 Kerssangdienste waar ons kore gaan optree:
    • Tamboerskloof NG Kerk - datum sal nog bekend gemaak word (moontlik Sondag, 26 November)
    • Drieankerbaai NG Kerk - 3 Desember om 19:00
    • By die Kerssangdienste dra die koorlede almal WIT klere - dit lyk so feestelik!

Jannies Talent 2023

Jannies Talent is om die draai! Hou asb. 30 Augustus oop vir die "glansryke" aand!
  • Leerders wat ingeskryf het, sal volgende week geroep word om vir oudisies te kom.
  • Ouers sal binnekort in kennis gestel word wanneer hulle kaartjies op die Karri-toep kan koop.
  • Kaartjies sal R100 vir volwassenes en R50 vir kinders wees. Kom geniet die heerlike gesinsaand.

Privaat dramalesse Kwartaal 3 2023

Ons skop die kwartaal se privaat-dramalesse vanaf Maandag, 24 Julie, af.

Tye is as volg:

Gr. 1-3
Maandag: 14:30 - 15:30
Woensdag: 14:10 - 15:10
Vrydag: 13:00 - 14:00

Gr. 4-7
Maandag: 15:30 - 16:30
Woensag: 15:10 - 16:20
Vrydag: 14:00 - 15:00

Ons sien baie uit na 'n heerlike kwartaal 3!

ALGEMEEN

Bring-en-Raai 2023

  • 11 Augustus 2023
  • Stuur 'n e-pos aan karienzulch@gmail.com en bespreek 'n tafel vir 'n span van 8 spanlede teen R1800 per tafel.

TERUGVOER

Eisteddfod: Literatuurstudie-uitslae

Veertig van ons graad 4 - 7-leerders het hierdie jaar aan die Eisteddfod se Literatuurstudie-afdeling deelgeneem. Die leerders moes binne twee ure 'n onderwerp kies en 'n kreatiewe storie opdis wat vir beoordeling gestuur is.

Baie geluk aan die volgende leerders wat uitstekend gevaar het!

Gr. 4
Lof: Jenna Erasmus, Quinn du Toit en Alienor Coetzer-Dereymaeker

Gr. 5
Lof+: Annalene Viljoen en Jack Dawes
Hoogste Lof: Amelie van der Walt en Katryn Silvis

Gr. 6
Lof: Ané Swanepoel, Lukas Welgemoed en Isabella Marais
Lof+: Bernardo Oosthuizen
Lof++: Daniella Boshoff, Conrad Slabbert, Leah de Kock en Willem Vorster

Gr. 7
Lof: Gemma de Vries, Pierre-Jaque Smit, Annabel Koen, Lida-Mari Bosman en Sofia Newton
Lof+: Katia van Wyk

Ons is veral trots op Katryn Silvis (gr. 5) en Amelie van der Walt (gr. 5) wat Hoogste Lof ontvang het. Amelie het 'n silwermedalje losgeskryf en sal dit tydens die Eisteddfod se spesiale prysuitdeling ontvang.

Een ding is seker... die Jannies kán skryf!

Eisteddfod Sang: Uitslae

Baie geluk aan Abigail Fourie wat 'n medalje vir Sang by die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod gewen het. Ons is trots op haar! Sy het ook tot by die finale rondte van Sound of Music deurgedring. Dit was 'n wonderlike ervaring vir haar gewees!

Eisteddfod: Spraak-uitslae 2023

Baie geluk aan die volgende leerders wat medaljes ontvang het by die Spraak Eisteddfod. Die Prestige-aand vind op 13 Oktober te Hoërskool Jan van Riebeeck plaas. Volg gerus hierdie skakel vir meer inligting indien julle belangstel om dit by te woon.

Jean-Jacques Rossouw - Voordrag Graad 1 - Silwer Medalje
Kitty Partner - Voordrag Graad 2 - Silwer Medalje
Antjie Samuel - Voordrag Graad 3 - Silwer Medalje
Cato Terblanche - Voordrag Graad 4 - Silwer Medalje
Karu Rademeyer - Voordrag Graad 6 - Silwer Medalje
Sophia Derksen - Lees Graad 5-6 - Silwer Medalje
Antjie Samuel - Voordrag Junior Graad R-4 - Goue Medalje

Kliek HIER vir advertensies van die week

Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Email Marketing Powered by MailPoet