Weeklikse Nuusbrief banner
Liewe Ouers

DATUMS

9 Mei, 2024

00:00 Hokkie: o.9-o.13 teen Laerskool Rallim (Seuns - TUIS en Dogters - WEG) (+)

10 Mei, 2024

00:00 Hokkie Sportdag: o.7 - o.13 seuns en dogters Mikro (Tuis) (+)

07:45 Toets: NW / NWT (gr. 4 - 6), Aardrykskunde (gr. 7) (+)

10:00 Moedersdagverkope (+)

14:15 Landloopwedloop: Vishoek (+)

11 Mei, 2024

00:00 Rugby en Netbal: o.7 - o.13 Sportdag Laerskool Mikro, Kampsbaai, Durbanville (TUIS) (+)

00:00 Bernadine Zitha (Snoepie) verjaar (+)

13 Mei, 2024

14:15 Musiekkonsert: Graad 6 (+)

15 Mei, 2024

14:15 Musiekkonsert: Graad 7 (+)

16 Mei, 2024

00:00 Hokkie Dogters: Blouberg Ridge en Curro Century City (TUIS) (+)

00:00 Hokkie Seuns: Blouberg Ridge (WEG) (+)

00:00 Fair Cape Netbal: o.9A & B Laerskool Durbanville (+)

17 Mei, 2024

00:00 Fair Cape Netbal: o.8A & B Laerskool Durbanville (+)

07:45 Toets: Gesk. ass. (gr. 4 - 7) (+)

14:15 Landloopwedloop: Rondebosch & Rustenberg (+)

18 Mei, 2024

00:00 Rugby: Porterville (+)

00:00 Fair Cape Netbal: o.7A & B Laerskool Durbanville (+)

20 Mei, 2024

00:00 Grondslagfase Assesserings begin (+)

18:00 Beheerraadvergadering (+)

21 Mei, 2024

00:00 Eksamen begin vir Graad 7 (+)

00:00 Winter Buitemuurs eindig (+)





>> SIEN DIE VOLLEDIGE DAGBOEK <<

VIR AANDAG

Ouerinligtingsessie: Skooler en Teams Gr. 4 - 7

Woon gerus Maandag, 13 Maart, om 18:00 'n inligtingsessie oor die gebruik van Skooler in die skoolsaal by. Die volgende word gedemonstreer:
  1. Hoe om Skooler te gebruik.
  2. Hoe om in Teams in te teken.
  3. Hoe om Teams te gebruik.
Indien jy belangstel om die inligtingsessie by te woon, maak asb. die boodskap in Skooler oop en vul asb. die aangehegte vorm in sodat ons 'n aanduiding het hoeveel ouers dit moontlik gaan bywoon.

Skool verdaag vroeër: 28 Maart

Die skool verdaag op Dinsdag, 28 Maart, om 12:45 (gr. 1-3) en 13:00 (gr. 4-7) as gevolg van personeelopleiding wat vir Huppelland en die Laerskool se onderwysers/assistente vanaf 13:15 aangebied word.

Nasorg sal soos gewoonlik voortgaan.

AKADEMIE

Skooler & Teams: Vrae en Antwoorde-blad

Op die skool se webtuiste onder die myJvR tab, is daar 'n Vrae en Antwoorde-blad waar ons wenke en instruksies vir ouers gee wat hulp met iets nodig het waaroor ons gereeld vrae ontvang.

Ons het 'n Teams en Skooler bladsy geskep met al die wenke wat tot dusver in die nuusbrief verskyn het. Ons sal nog wenke en instruksies byvoeg soos nodig. Gaan loer gerus na die bladsy indien jy hulp het met iets spesifieks in Teams of Skooler benodig.

SKOOLER & TEAMS VRAE EN ANTWOORDE-BLAD

KULTUUR

Eisteddfod: Solosang

Die Karri-toep vir Eisteddfod Solosang is oop en leerders wat deur die musiekpersoneel geïdentifiseer is, kan nou hulle inskrywingsgelde betaal. Dit sluit 15 Maart.

Eisteddfod: Spraak

Die Spraak Eisteddfod is weer op ons. Die inskrywings is R90 per item en sal op die Karri-toep gelaai word.
  • Gr. 1 en 2 kan aan voordrag deelneem.
  • Gr. 3 kan aan voordrag en onvoorbereide lees deelneem.
  • Gr. 4 - 7 kan aan onvoorbereide lees, voordrag en prosa deelneem.
Indien jy jou kind wil inskryf, stuur 'n e-pos of WhatsApp aan Jana met die volgende inligting: Die leerder se naam en van, graad en items waaraan hy/sy wil deelneem.

E-pos: jana@jvrprim.co.za, WhatsApp: 072 014 8234.

Baie dankie,
Jana Nel

Redenaars: Interne kompetisies

Die interne kompetisie sal slegs oor twee dae strek. Aangesien die grondslagfase groep minder leerders is, sal die graad 3’s saam met die graad 4 - 5-groep hul toesprake lewer.

Gr. 3-5: Woensdag, 15 Maart

Gr. 6-7: Donderdag, 16 Maart

15:00 in die biblioteek.

Dramatye aanpassing

Liewe Drama-Ouers

Die wintersport begin eerskomende Maandag, dus sal ons weer die drama-tye aanpas. Die verandering in tye sal slegs op Maandae wees.

Nuwe tye op Maandae:

Gr.1-3 14:30 - 15:30

Gr.4-7 15:30 - 16:30

Die maats wat nie aan wintersport deelneem nie, is welkom om by my in die saal vanaf 14:00 te wag.

Baie dankie!

Groete, Jana

Musiekkonsert: 28 Maart

Die eerste musiekkonsert van die jaar sal op Dinsdag, 28 Maart, plaasvind.
Gr. 1's sal nie speel nie.
Gr. 2's speel 9:00
Gr. 3's speel 10:45
Almal is welkom om te kom luister

SPORT

Winter Buitemuurse Sportprogram 13 - 24 Maart

Kliek HIER of op die foto vir die program.

Skooler: SPORT-kontakgroepe

Ons wil 'n beroep op ouers doen om in Skooler te gaan kyk of al die sportgroepe waaraan kinders behoort onder Messages gelys is voordat die winter buitemuurseprogram in volle swang is.
  1. Maak Skooler oop.
  2. Gaan na Messages en kliek op die pyltjie aan die regterkant van die balkie.
  3. Gaan kyk of al die nodige sporgroepe daar gelys is.
  4. Indien jy meer as een kind in die skool het, doen dieselfde op hul profiel(e).
  5. Indien al die groepe nie gelys is nie, stuur 'n boodskap op die Algemene groep op Skooler of 'n e-pos aan suzaan@jvrprim.co.za met jou kind se naam, van, graad en watter sportsoort hy/sy aan deelneem wat nie in jou kontakgroepe verskyn nie.

ALGEMEEN

Veilingsdinee: 27 Mei 2023

Dit is weer veilingsdineetyd en ons is hard aan die werk om die aand 'n spesiale geleentheid vir elke Jannie-ouer te maak. Die doel van die veiling is om die skool se hoë standaard te handhaaf wat onmoontlik sal wees sonder fondsinsameling-inisiatiewe soos hierdie. Ons hoop werklik dat die jaar weer so 'n groot sukses soos laas jaar sal wees en dat die skool die fondinsamelingsdoelwitte bereik. Daarvoor het ons betrokkenheid nodig van die wat kan. Ons versoek dat die ouers wat iets kan bydrae om geveil te word asseblief vir Odette by odettefaling@gmail.com kontak. Sien ook aangeheg die uitnodiging na die veiling.

Vakansiesorg vir Skolevakansiedag (20 Maart)

Voltooi asb. die vorm indien jy belangstel om jou kind(ers) vir die skolevakansiedag in vakansiesorg te plaas.

Klerebank: Nuutste inligting rakende skooldrag

  • Reeds bestelde skoolbaadjies (soft shell) is tans by die borduurder.
  • Die laaste bestelling vir winterdrag moet nou geplaas word. Indien jy nog moet bestel, volg asb die skakel om aanlyn te bestel.
  • Die aanvullende oranje wedstrydhempbestellings en sportkouse moet nou gemaak word om betyds vir wintersport te wees.
    • Netbaldogters vanaf o.7 gaan die moulose hemde benodig.
    • Hokkiespelers vanaf o.9’s gaan wedstryde speel. Onthou wedstrydkouse. Die kortmouhemp is vir seuns, mouloos vir dogters.
    • Eerste spanne (gr. 6 en 7) word gewoonlik geborg.
    • Sysakkies is tans beskikbaar.
    • Volg die skakel vir aanlyn sportklerebestellings.
Indien jy onseker is van groottes, kom asseblief na die Klerebank voor skool op Maandae en Woensdae of na skool op Dinsdae en Donderdae. Jy kan ook die grootte skat en aanlyn bestel, by die huis aanpas en terugstuur vir omruiling.

Inligting oor winterdrag is op die skool se webtuiste uiteengesit.

Daar is nie ‘n oorgangsdatum van somersdrag na winterdrag soos in die verlede nie. Ons is steeds bewus dat leerders baie deurmekaar aantrek aangesien ons in 'n oorgangsfase is. 2024 sal egter wel baie meer formeel bestuur word en duidelike riglyne sal betyds gekommunikeer word.

Neem asb. kennis dat die huidige donkerblou skoolrompe steeds gedra mag word. Geruite rompe is nog nie beskikbaar nie.

Skooldrag op koeler dae

Met die koeler weer van hierdie week wil ons almal op hoogte van die winterdrag se vordering hou. Die volgende skooldrag is vir hierdie jaar se koeler dae aanvaarbaar:

Graad 1-3: Geen vaste datum vir winterdrag nie – leerder/ouer besluit self
  • Kortmou/langmou golfer (albei lyk dieselfde)
  • Skort/sportkortbroek
  • Sweetpaktop en -broek (moet tydens LO-dae en sportdae, sportwedstryde gedra word)
  • Soft Shell-baadjie – nie verpligtend nie, maar lekker warm om bo-oor sweetpaktop aan te trek.
  • Wit sokkies en tekkies of kaalvoet
Graad 4-7 (Dogters):

*Die onderstaande drag is vir hierdie jaar aanvaarbaar totdat al die klere aan almal beskikbaar is. LO-drag sal vanaf 2024 slegs op LO-dae gedra word.
  • Kortmou/langmou golfer (albei lyk dieselfde)
  • Donkerblou netjiese (formele) rompie met lang donkerblou sokkies (met wit strepies)/swart kouse en skoolskoene
    OF
    Skort
  • Donkerblou kortbroek/ donkerblou langbroek met lang donkerblou sokkies (met wit strepies)/swart kouse en skoolskoene
  • Sweetpaktop en -broek (moet tydens LO-dae en sportdae, sportwedstryde gedra word) met wit sokkies en tekkies
  • Soft Shell-baadjie
  • Gr. 7-oopknooptrui
Graad 4-7 (Seuns):

*Die onderstaande drag is vir hierdie jaar aanvaarbaar totdat al die klere aan almal beskikbaar is. LO-drag sal vanaf 2024 slegs op LO-dae gedra word.
  • Kortmou/langmou golfer (albei lyk dieselfde)
  • Sportkortbroek
  • Donkerblou kortbroek/khaki langbroek met lang donkerblou sokkies (met wit strepies) en skoolskoene
  • Sweetpaktop en -broek (moet tydens LO-dae en sportdae, sportwedstryde gedra word) met wit sokkies en tekkies
  • Soft Shell-baadjie
  • Gr. 7-oopknooptrui
Uitstaande items weens produksie/beskikbaarheid/kragonderbrekings:

Gr. 1-7:
  • Sweetpaktop en -broek
Gr. 4-7-dogters:
  • Geruite rompies vir somer- en winterdrag (eers kw. 4/2024)
  • Gr. 7-trui
Gr. 4-7-seuns:
  • Gr. 7-trui

Dans onder die Sterre, 23 Maart

Wanneer: Donderdag, 23 Maart
Tyd: 18:00 - 21:30
Kostes: R150 (betaal op Karri)
Wie: Graad 5 - 7-leerders
Snoepie beskikbaar

Lion's Club Paaseierskenkings

Ons wil baie graag weer vanjaar Kaapstad se Lion's Club help om paaseiers vir minderbevoorregte kinders in te samel. Dit sal wonderlik wees as elke leerder minstens een paaseier vir ons kan bring en dit in die emmer wat in Adri se kantoor staan, kan plaas. Hulle verkies die eiers wat die malvalekker aan die binnekant van die sjokolade het. Dit kom ook in ‘n string van vier of in verpakkings van 24 en meer. Ons wil vra dat die paaseiers voor of op Vrydag, 17 Maart, skool toe gebring word.

Welwillendheidsprojek: Insameling van skryfbehoeftes

Ons samel enige bruikbare en nuwe skryfbehoeftes vir Ellerton en Prestwich Primêr in.

Bring hierdie skryfbehoeftes na juffrou Marietjie de Kock se klas. Die sluitingsdatum is verleng na 31 Maart 2023.

Kliek HIER vir die volledige nuusbrokkie om te sien watter items geskenk kan word.

TERUGVOER

o.9 Krieket: Seisoen eindig op hoogtepunt

Die o.9-krieketspelers het 23 Januarie met 'n fantastiese seisoen afgeskop. Die spelers het uitstekend gevaar en dit was lekker om te sien hoe hulle deur die seisoen ontwikkel het. Ons wil graag dankie sê aan Coach Henk van Sports hub en Coach Patrick van Groenpunt Krieketklub vir hulle harde werk deur hierdie seisoen. Die o.9's het 'n totaal van sewe wedstryde gespeel en aan twee toernooie deelgeneem. Ons wil ook dankie sê aan al die ouers wat ons so getrou ondersteun het. Op 7 Maart het ons die seisoen op 'n hoogtepunt by die Kampsbaai krieketveld afgesluit. Ons het albei ons wedstryde gewen. Ons sien uit na kwartaal 4!

Krieketuitslae: 8 Maart

0.11 A vs Golden Grove

JvR het eerste veldwerk gedoen en ons kry hulle uit vir 44 na 15 beurte. Ons neem 3 paaltjies.

Phumi Salimani - 7 lopies na 2 beurte en 1 paaltjie
Nicholas Marais - 10 lopies na 2 beurte en 1 paaltjie
Alexander Wiedemann - 2 lopies na 1 beurt en 1 paaltjie

JvR kolf tweede en neem hulle telling verby na 6 beurte. Ben Esterhuyse (22* nie uit nie) en Nils le Roux 11 lopies - Nils was ongelukkig uit toe hy sy eie paaltjies raak slaan. JvR wen die wedstryd met 9 paaltjies.

Die 0.11A-span was onoorwonne die seisoen. Baie geluk, manne. Ons is baie trots.

0.11 B vs Pinehurst

Pinehurst het eerste gekolf en deur puik boulwerk het ons tot slegs 58 lopies beperk.

Ons het tweede gekolf en neem hulle telling verby met nog 4 boulbeurte oor.

Dit was 'n puik vertoning deur ons manne.

Tennisuitslae

Drie van ons tennisspanne het die week 'n wedstryd gespeel.

In die Noord-liga het ons Dogters A teen Kenridge vasgeval en ons verloor 1-5.

Ons gemengde A-span was te sterk vir Aristea en ons wen die wedstryd 6-0.

In die Table View-liga het ons Seuns A teen Blouberg International te staan gekom. Ongelukkig was die oposisie te sterk vir ons en ons verloor 0-6.

Volgende week is die laaste wedstryde vir die kwartaal en ons wens vir al ons spanne alle sterkte toe.

WP-atlete

Saterdag, 4 Maart, het 7 van ons atlete aan die WP-proewe te Paarl deelgeneem.

Dit was baie beplanning om die atlete by die stadion te kry aangesien ons graad 5 en graad 7-leerders op kampe was. Dit was 'n heerlike dag om wonderlike atlete te sien deelneem. Baie geluk aan al ons atlete wat pragtig op die dag presteer het.

Delmar Benecke het met 'n tyd van 3:48 in 1200m homself in die WP-span gehardloop. Dit was 8 sekondes vinniger as sy persoonlike beste tyd.
Jana Olivier het 3de in die diskus geeïndig met 'n afstand van 18,12m.

Baie geluk aan die twee atlete wat hul WP-kleure verower het.

Hulle neem Saterdag aan die Wes-Kaap byeenkoms te Paarl deel.

Ons wens vir julle sterkte toe!

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde

Soos julle bewus is, vind daar die afgelope tyd heelwat veranderinge by die skool plaas. Onder andere die opgradering van die infrastrukture, skooldrag, infasering van die toep, Skooler, as kommunikasiekanaal, Migrasie van die Google Workspace na Microsoft Educational wat beteken dat Google Classroom deur Teams vervang word. Ek verstaan dat veranderinge nie noodwendig deur almal in ons skoolgemeenskap omhels word nie, want vir sommige mense lei verandering tot angs en onsekerheid. Verder beleef ons as Suid-Afrikaners bewustelike en onbewustelik hoë vlakke van angs en stres as gevolg van ekonomiese onsekerhede, wisselvallige beurtkrag en dit te same met die verkeersfrustrasie sal dit enige iemand teen die mure uitfdryf.

Ek het baie begrip en empatie dat verdere veranderinge by die skool ook tot hoër frustrasievlakke kan lei, maar ek versoek egter dat die skoolgemeenskap indien daar ontevredenheid oor sekere aspekte van die skool is asseblief nie hul ongelukkigheid op WhatsApp-groepies en ander sosiale platforms openbaar nie. Dit is vir niemand goed nie en lei tot verdere angs en negatiwiteit. Kontak eerder myself of die skool as iets pla. Ons sal beslis luister en dinge in konteks kan plaas. Wees verseker dat ons baie deeglike navorsing oor die beplande veranderinge by die skool gedoen het voordat ons dit in werking gestel het. Enige verandering neem tyd en voor ons dit weet, lei die veranderinge na die spreekwoordelike beter bestemmings en ons skool hou tred met al die hedendaagse uitdagings tot voordeel van ons leerders. Dus nooi ek almal wat onseker is oor die gebruik van Skooler en Teams uit om op Maandagaand, 13 Maart 2023, om 18:00 in die saal 'n informele demonstrasie te kom bywoon. Tydens die sessie beoog ons om die gebruik daarvan prakties te demonstreer en julle as ouers/voogde gerus te stel.

Ons gr. 7’s en 5’e het vanaf 1 – 3 Maart 2023 die jaarlikse en gewilde kampe bygewoon. Die gr. 7’s het vanjaar vir die eerste keer by Big Oak Adventures net buite Franschoek gaan kamp terwyl die gr. 5’e die SOS Kamp naby Villiersdorp bygewoon het. Die gr. 5’e en 7’s het die kampe terdeë geniet en kon nie wag om al die interessante kampstories met hul ouers/voogde en gesinslede te deel nie. Natuurlik was hulle doodmoeg van die min slaap, die onbekende avontuur en al die opwinding. Tydens die kampe kon ons stadsjapies heerlik die natuur verken terwyl hulle in spanne moes saamwerk. Kampe bou beslis karakter, verbeter kommunikasievaardighede en ontwikkel leiereienskappe. Ons leerders het oorgenoeg te ete en te drinke ontvang, maar natuurlik mis hulle hul ouers se smaaklike tuisgemaakte kos en waardeer weer al die wonderlike voorregte wat baie keer as selfsprekend aanvaar word.

Die afgelope naweek het ons o.13A-rugbyspan aan die Hoërskool Hopefield Rugbydag op Saterdag, 04 Maart 2023, deelgeneem. Ons seuns het puik gevaar en beide wedstryde teen HS Hopefield en Hopefield Primêr onderskeidelik 10 – 0 gewen. Welgedaan seuns asook ons afrigters, mnre. Erick en André, met die voorseisoenprestasies, julle maak ons trots. Ons wens vir julle ‘n suksesvolle seisoen toe.

Na afloop van die WP-Atletiekkampioenskappe wat op 03 Maart 2023 te Dal Josafat (Paarl) plaasgevind het, is dit my voorreg om die volgende twee atlete hartlik geluk te wens met hul WP-Kleure wat hulle tydens die byeenkoms verwerf het:

Delmar Benecke
Jana Olivier

Ons wens dan vir Delmar en Jana sterkte toe wat môre (11 Maart) aan die Wes-Kaap Atletiekkampioenskappe weer te Dal Josafat deelneem. Tydens die byeenkoms neem atlete vanaf WP, Boland en Suid-Kaap deel om vir die nasionale kampioenskappe te kwalifiseer. Ons hou vir hulle twee styf duimvas!
Vandag vind ook die Junior Swemgala plaas en ons sien baie uit na ‘n heerlike dag van pret. Dit bring ons dan ook aan die einde van die somer buitemuurse program en begin die winter buitemuurse program op Maandag, 13 Maart, tot Vrydag, 24 Maart.

Dit is dan my voorreg om aan te kondig dat die vierkant se oppervlakte uiteindelik voltooi en gereed is om te gebruik. Ons gaan dit binnekort esteties aanspreek met meer plante en bome om dit in ‘n lushof te omskep vir ons leerders se genot.
Graag sluit ek af met die volgende aanhaling oor groei-ingesteldheid deur Albert Einstein en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe:

"Anyone who has never made a mistake,
has never tried anything new."

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF

Kliek HIER vir advertensies van die week

Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Waardes Email Footer
Email Marketing Powered by MailPoet