Weeklikse Nuusbrief banner
Liewe Ouers

DATUMS

9 Mei, 2024

00:00 Hokkie: o.9-o.13 teen Laerskool Rallim (Seuns - TUIS en Dogters - WEG) (+)

10 Mei, 2024

00:00 Hokkie Sportdag: o.7 - o.13 seuns en dogters Mikro (Tuis) (+)

07:45 Toets: NW / NWT (gr. 4 - 6), Aardrykskunde (gr. 7) (+)

10:00 Moedersdagverkope (+)

14:15 Landloopwedloop: Vishoek (+)

11 Mei, 2024

00:00 Rugby en Netbal: o.7 - o.13 Sportdag Laerskool Mikro, Kampsbaai, Durbanville (TUIS) (+)

00:00 Bernadine Zitha (Snoepie) verjaar (+)

13 Mei, 2024

14:15 Musiekkonsert: Graad 6 (+)

15 Mei, 2024

14:15 Musiekkonsert: Graad 7 (+)

16 Mei, 2024

00:00 Hokkie Dogters: Blouberg Ridge en Curro Century City (TUIS) (+)

00:00 Hokkie Seuns: Blouberg Ridge (WEG) (+)

00:00 Fair Cape Netbal: o.9A & B Laerskool Durbanville (+)

17 Mei, 2024

00:00 Fair Cape Netbal: o.8A & B Laerskool Durbanville (+)

07:45 Toets: Gesk. ass. (gr. 4 - 7) (+)

14:15 Landloopwedloop: Rondebosch & Rustenberg (+)

18 Mei, 2024

00:00 Rugby: Porterville (+)

00:00 Fair Cape Netbal: o.7A & B Laerskool Durbanville (+)

20 Mei, 2024

00:00 Grondslagfase Assesserings begin (+)

18:00 Beheerraadvergadering (+)

21 Mei, 2024

00:00 Eksamen begin vir Graad 7 (+)

00:00 Winter Buitemuurs eindig (+)





>> SIEN DIE VOLLEDIGE DAGBOEK <<

VIR AANDAG

Skooltye vanaf volgende week Donderdag

Die skool verdaag vanaf net voor die eksamen tot die einde van die kwartaal vir die hele skool vroeër.

Donderdag, 17 November - Dinsdag, 13 Desember

13:00 (Graad 1 - 3)
13:15 (Graad 4 - 7)

*Bus vertrek op hierdie dae om 13:20

Woensdag, 14 Desember

10:30 (Graad 1 - 3)
10:45 (Graad 4 - 7)

*Bus vertrek om 10:50

Opgradering van die inwonende terreinpersoneel se ablusiegeriewe

Beste Ouers/Voogde,

Laerskool Jan van Riebeeck het die afgelope jaar met behulp van ouerdonasies en ruim skenkings heelwat infrastruktuurverbeteringe en opgraderingsprojekte afgehandel. Hiervoor is ons baie dankbaar.

Ons wil graag ook die ablusiegeriewe van die inwonende terreinpersoneel opgradeer. Ongelukkig beskik die skool nie oor die nodige fondse om dit onmiddellik te doen nie en neem ons die vrymoedigheid om vir julle vriendelik te versoek vir 'n moontlike bydrae om die geriewe vir die inwonende terreinpersoneel op te knap.

Hierdie is 'n vrywillige bydrae en ons sal volgende week 'n Karri-toep bydrae skep en aanstuur.

Baie dankie vir jul goedgunstige oorweging.
Vriendelike groete
NAAS BEETS

AKADEMIE

Skryfbehoeftes vir Grondslagfase-leerders van 2023

Liewe Grondslagfase Ouer/Voog van 2023

Die einde van die jaar het aangebreek en dit is tyd om reg te maak vir 2023. Die skryfbehoeftes vir 2023 is op die Karri-toep gelaai en is tot 30 November 2022 beskikbaar. Indien jy hierdie geleentheid misloop, sal julle self verantwoordelik wees vir die aankoop van skryfbehoeftes. Elke graad se skryfbehoeftelys sal vroeg in Desember op die skool se webtuiste beskikbaar wees. Indien jy skryfbehoeftes bestel het, sal dit in die nuwe jaar in die leerder se klas op hul wag.

Baie dankie!

November-eksamenrooster 2022

Kliek op die foto om die rooster in PDF te sien en af te laai.

KULTUUR

Konsertfoto's en -video skakels

Die skakels na die konsertfoto's en -video is nou aan almal gestuur wat dit op die Karri-toep bestel het. Indien jy dit bestel het, maar nie die skakel na die foto's en/of video ontvang het nie, stuur gerus 'n e-pos aan suzaan@jvrprim.co.za. Vir enige ander navrae of versoeke, kan jy ook vir Suzaan kontak.

Ons wil 'n versoek aan ouers rig om asb. nie enige foto's van ander ouers se kinders op sosiale media te plaas nie. Indien jy 'n foto wil plaas waarin ander ouers se kinders ook is en hul gesigte duidelik sigbaar is, maak asb. eers by daardie kinders se ouers seker of jy die foto op sosiale media mag plaas. Ons wil graag ouers se privaatheid respekteer. Julle is welkom om die registeronderwyser in die verband te kontak.

Baie dankie aan Annéne van Eeden vir ons pragtige konsertfoto's! Sy het baie moeite gedoen om foto's van al die aande te neem en selfs "behind the scenes" oomblikke vas te vang. Dankie ook aan Pie in the Sky Productions vir die professionele konsertvideo!

Storieskip, 24 November

Storieskip gaan op 24 November 'n toneel vir alle graad 1-3-leerders in die saal kom opvoer. Hierdie opvoering vind tydens skooltyd plaas. Die kostes beloop R10 p.p. en ouers kan dit op die Karri-toep betaal. Maak asb. die betaling voor 18 November om 14:00.

Redenaars 2023

Daar is briewe uitgedeel rakende redenaarsdeelname vir 2023. Indien enige iemand belangstel en nie ‘n brief ontvang het nie, kontak asseblief vir Andri de Villiers (andri@jvrprim.co.za).

Alle voorlopige deelnemers moet teen Vrydag, 18 November, bevestig word.

Kooroptrede, 27 November

Ons is baie opgewonde om weer op te tree! Albei kore sing op Sondagaand, 27 November, om 19:00 by Tamboerskloof NG Kerk se Kerssangdiens. Dis altyd 'n baie mooi (kort) aand. By hierdie geleentheid sit koorlede by hulle ouers in die kerk. Hulle dra nie skoolklere nie, maar wel enigiets WIT (met 'n tikkie kersfees "bling"). Ons sien daarna uit om julle daar te sien.

American Academy of Ballet Performance Awards: 13 Nov. 2022

Sondag, 13 Nov 2022, by JvR om 10:00.

Ons beoordelaar is Laurence Kaplan, Direkteur van AAB New York.

Kom ondersteun ons dansers asb.! Almal is al so opgewonde en het hard geoefen.

Ons dansskool se dansers is besonders en talentvol en styg in beide genres uit - die Klassiek en die Moderne. Dit is prysenswaardig! Dis deels weens heelwat individuele aandag en dat hulle in hanteerbare groepe goeie opleiding ontvang. Die Cape Town Eisteddfod (Mei 2022) uitslae was uitstekend. Moderne Dans Assessment (29 Okt 2022) was 'n nuwe aangeleentheid en 'n groot sukses. Ons wil dit graag volgende jaar uitbou tot 'n volwaardige geleentheid vir alle dansers. Nou dans hulle die pragtige AAB Ballet (13 Nov). Dit lê baie naby my hart en dis 'n groot voorreg om ons dansers te kon afrig en motiveer en 'n groot eer om mnr. Kaplan te ontvang.

Die volgende 25 dansers neem aan die AAB Performance Awards deel:

Graad 1
Christa -Bella Swart, Annabelle Enslin, Christina du Toit, Isla Jooste
Graad 2
Noah Karusseit, Heidi v Heerden, Natalie Lawson
Graad 3/4
Jana v Gijsen, Solange Stevens, Danielle Fourie, Sadie Gillmer, Gabriella Buckenham, Ella Grey
Graad 5/6
Daniella Boshoff, Jessica Schincariol, Larah Opperman, Michaan Naylor, Kerala Allewell, Karlien v d Walt
Graad 7/8
Emma Liebenberg, Lara Basson, Juliette Visser, Amelie VIsser, Lumarie Fourie
Graad 10
Marianne Nel

Soos hulle sê, "break a leg"!

SPORT

Atletiekkliniek: 26 November 2022

George (Sors) Joubert en sy span gaan op Saterdag, 26 November 2022, by Laerskool Kampsbaai 'n atletiekkliniek vir enige belangstellende atlete teen R350 p.p. aanbied. Die sessies gaan in twee afdelings verdeel word: tegniek en basiese toepassings / beweging. Enige iemand wat belangstel kan die kliniek bywoon. Voltooi die Google Form om in te skryf.

Afrigterspan vir die dag:
  • Sprints: Henricho Bruintjies Suid-Afrikaanse Sprinter (100 m 9.97 sek.)
  • Hoogspring: Jess Perez Suid-Afrikaanse Tienkampatleet – African Medallist
  • Biomeganika: Dr GF Joubert Ex Suid-Afrikaanse atleet, Hoof van Sprints / Hekkies afrigter by Stellenbosch Universiteit
  • Hekkies: Abri van Heerden ASA Vlak 2 afrigter, Hekkiesafrigter by Paarl Gym/Impossible Athletics Academy
  • Gewigstoot / Spiesgooi: Muller Joubert ASA Vlak 2 afrigter, - Gooiafrigter by La Rochelle
  • Verspring: Keanan Watson Ex Suid-Afrikaanse atleet, Wes-Kaapse Unitversiteit
GOOGLE FORM

ALGEMEEN

Prysuitdeling 2022

Maak asb. 'n aantekening in jou dagboek om die prysuitdelingsgeleenthede in ons skoolsaal by te woon.

Maandag, 5 Des:
Gr. 1 - 08:30
Gr. 2 - 10:00
Gr. 3 - 12:00

Dinsdag, 6 Des:
Gr. 4 - 08:30
Gr. 5 - 10:00
Gr. 6 - 12:00

Donderdag, 8 Des:
Gr. 7 - 18:00

Nuwe skoolklere bestellings

Ons het in die nuusbrief die nuwe skooldrag aangekondig. Sien gerus die volgende inligting vir bestellings:

Nuwe hemde vevang beide die LO- en skoolhemp met die wapen. Graad 1-7-leerders se hempies lyk presies dieselfde. Dit mag nie saam met grys skoolbroeke gedra word nie.
Leerders kan huidige skoolklere of die nuwe kombinasie dra.

Sportbroek/skort/formele kortbroek
  • Gr. 1 - 3 Seuns en Dogters: Slegs sportbroek/skort
    Bestellings
  • Gr. 4 - 7 Seuns: Dra sportbroek op LO-dae, andersins die skool se nuwe donkerblou formele kortbroek en donkerblou strepieskouse.
    Bestellings
  • Gr. 4 - 7 Dogters: Dra sportbroek/skort op LO-dae, andersins die skool se nuwe formele kortbroek/huidige skoolromp, slegs tot geruite romp beskikbaar is.
    Bestellings

Nuwe Skooldrag: Somer (kw.1) 2023

Nuwe Skooldrag Okt 2022

TERUGVOER

Lara Basson presteer met Lions Peace Poster

Die liefdadigheidsorganisasie, LIONS, bied jaarliks ‘n internasionale PEACE POSTER kompetisie vir kinders tussen 11 en 13 jaar aan. Elke jaar is daar ‘n ander tema wat kinders moet interpreteer en uitbeeld in ‘n sekere formaat en medium van hul keuse. Hierdie jaar se tema was besonder uitdagend: LEAD WITH COMPASSION. Aangesien die kompetisie wêreldwyd is, is die topinskrywings van ‘n baie hoë standaard.
Vyf van ons leerders se werk is deur die Seepunt Lions Klub gekies, wat op hul beurt moes kies watter een van die werke deurgaan na ‘n volgende rondte. Die leerders is Lara Basson, Anna Dawes, Neil Heyns, Mïlla Joubert en Lara Warren. Baie geluk met jul pragtige kunswerke!

Lara Basson het uitstekend gevaar met haar ‘Moeder Theresa en kind’ houtskooltekening. Haar werk is geprys deur gerespekteerde beoordelaars vir haar tegniese vernuf. Sy behaal ‘n 3de plek in die Wes-Kaap, met inskrywings van ongeveer 23 verskillende klubs!
Dit is ‘n besondere prestasie en ons is ongelooflik trots op haar.

Leerders presteer in Kommunikasie-eksamen

Kate Mouton (graad 7), Stella Bojé (graad 7) en Karu Rademeyer (graad 5) het in September vanjaar die Suid-Afrikaanse Spraak- en Dramakollege se nasionale Mondelinge Kommunikasie-eksamen afgelê en het hul uitslae ontvang.

Dié drie Jannies het reeds vanaf Januarie tydens ’n weeklikse les vir hierdie praktiese eksamen voorberei en dit saam met die junior dramagroep van die Hoërskool Jan van Riebeeck afgelê. Die vlak waarop hul ingeskyf is, Intermediêr 1, is dus reeds op die graad 8 & 9-hoërskoolleerders se vlak.

Die eksamen behels ’n program wat elke leerder aanbied en die volgende insluit: ’n voorbereide demonstrasie of praatjie oor ’n interessante onderwerp, die voorlees en bespreking van ’n boek, improvisasie-standpunt of groepverhaalkuns, vrae en besprekings oor die aanbieding en dan het die hele groep saam ’n 12 minute-program met ’n spesifieke tema aangebied.

Kate, Stella en Karu het al drie ’n allemintige 96% vir dié uitdagende eksamen behaal – ’n uitmuntende prestasie vir dié laerskoolleerders! Baie geluk!

James Marais wen brons medalje by bergfietskompetisie

James Marais (Gr. 4) het Sondag, 6 November 2022, aan die Western Cape Downhill Champs bergfietskompetisie by Hellsend Dirt Compound (Vuurberg) buite Stellenbosch deelgeneem. Hy het 'n derde plek in die Nipper Boys kategorie behaal. Die resies het bestaan uit oefen rondtes Saterdag, ‘n kort oefensessie Sondagoggend, een afrit om die begin volgorde van die resies te bepaal en die afdraende resies later die Sondag. Baie geluk met jou medalje, James!

Tennisuitslae: 9 November 2022

Ons het Woensdag, 9 November, met vyf spanne teen verskillende skole wedstryde gespeel. Die uitslae was soos volg:
  • Noord-liga, o.13-dogters A vs. Kenridge verloor 1-5
  • Noord-liga, o.13-seuns A Kenridge verloor 1-5
  • Noord-liga, Gemengdespan vs. Aristea wen 5-1
  • Table View-liga, Gemengde span 1 vs. CBC Seuns wen 4-2
  • Table View-liga, Gemengde span 2 vs. Van Riebeeckstrand seuns verloor 2-4

o.11 en o.12-Netbaloefengroep besoek Elandsrus

Ons o.12 en o.13-netbaloefengroep het die naweek van 4-6 November 2022 by Patrys van der Merwe se plaas, Elandsrus, buite Drie Susters gaan kuier. Gedurende die naweek het hulle hul netbalvaardighede en kennis opgeskerp. Hier volg van hulle terugvoer oor die naweek:

Wat 'n voorreg! Die opwinding het begin toe ons vroeg Vrydagoggend die skool verlaat het. Almal was so opgewonde oor die toer. Ons almal was reg, met ons nekkussings wat om ons nekke hang en al ons groot, swaar sakke. Toe ons by die plaas kom, het ons al ons sakke in die gastehuis neergesit. Die eerste baansessie het begin. Ons het heerlike kos daardie aand geëet! Daai aand kon ons nie regtig so laat wakker bly nie, want die volgende dag sou 'n baie lang dag vir ons wees. Saterdag het ons die dag met 'n baansessie afgeskop. Raai wie was ons afrigter... 'n oud-Protea Netbalspeler, Tannie Patrys. Ons het drie baansessies gehad, maar tussendeur het ons die lekkerste aktiwiteite gedoen. Ons het in 'n plaasdam geswem, in die spanne opvoerings gedoen en teiken gaan skiet. Almal het gesê ons gaan veldfokus gaan doen en dat daar mooi blomme gaan wees. Saterdagaand het ons ons konserte opgevoer en ander lekker speletjies gespeel. Daardie aand het ons lekker laat gaan slaap, want op Sondag het ons net een baansessie gehad. Sondag was dit die prysuitdeling. Daarna het ons die plaas verlaat en baie mense het vir Tannie Patrys gevra om hulle keppies en tekkies te teken. Baie interessante, snaakse goed het op pad terug gebeur, maar ek los dit vir iemand anders om te vertel! Ons sê baie dankie aan al die juffrouens wat daar was!

Deur Daniella Boshoff

Daar was groot opwinding oo die netbaltoer wat van 4-6 November plaasgevind het. Dit het ons omtrent 7 ure geneem om by die plaas naby Drie Susters te kom. Ons het baie lekker geëet, geslaap en natuurlik baie lekker netbal gespeel. Ons was in 3 groepe verdeel en in daardie groepe moes ons ‘n musiek geïnspireerde optrede en ‘n drama-opvoering op die planke bring. Ons het met ‘n .22 na verskillende teikens geskiet. Ons terug rit was vol opwinding, van ‘n poets in 4 Sheep tot ‘n vragmotor vol rys wat leeggesteel word. Dit was ‘n onvergeetlike naweek en ons het almal baie geleer. Ek is baie dankbaar vir elke juffrou wat hulle naweek opgeoffer het vir ons besige o.11’s en o.12’s.

Deur Hila Hertzog

Jannies se o.12 en o.11-netbalspanne het die afgelope naweek na Elandrus naby Drie Susters getoer vir ’n opwindende netbalkliniek. Ons het definitief baie nuwe tegnieke geleer en sal dit altyd onthou. Tannie Patrys van der Merwe wat ons afgerig het, het vir ons ’n klomp nuwe maniere van speel gewys wat ons op die baan gaan help in die jaar wat voorlê. Daar was vier onderwysers saam op die toer wat ook baie gehelp en ondersteun het. Ons Jannies kan baie dankbaar wees dat ons so bevoorreg is om juffrouens te hê wat altyd omgee en daar vir ons is. Ons het ook baie kompetisies gehou en ons het lekker toneel gespeel. As ons nie besig was op die bane nie, was ons besig om te eet, gesels, stap of ons toneelspel te oefen. Al wat ek weet, is dat ons almal dit baie geniet het! Dankie aan al die juffrouens wat saam met ons gaan toer het en ook aan mnr. Beets vir al die geleenthede wat meneer aan ons gee.

Deur Karu Rademeyer

Die naweek saam met die 0.11- en 0.12-netbalspan was net absolute pret! Ons het geleer om beter in ‘n span te werk, ons het geswem en ons het baie nuwe tegnieke en vaardighede aangeleer. Ons was ook baie verras toe hulle vir ons die geleentheid bied om teikens te skiet! Almal het tog ‘n bietjie geskrik toe dit verlede Vrydagaand in Beaufort-Wes begin donderweer! Ons is baie dankbaar vir die onderwysers en afrigters wat dit gereël het, Patrys wat vir ons afgerig het en baie welkom laat voel het en ons ouers wat ons altyd ondersteun.

Deur Stella Lamprecht en Katia van Wyk

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde

Laerskool Jan van Riebceeck sluit week 4 van die laaste kwartaal af met die aanbieding van ‘n suksesvolle gholfdag op Vrydag, 04 November 2022, by die Royal Cape Gholfklub. Die merkwaardige gholfklub is die oudste gholfklub in Afrika met ryk tradisie en geskiedenis waarmee ons skool so maklik kan assosieer. Hierdie spesiale gholfdag dien nie as ‘n fondsinsamelingsprojek nie, maar eerder ‘n dag van samesyn vir ons ouers/voogde wat lief is daarvoor om gholf te speel. Die gholfdag lei tot nuwe vriendskappe, kameradie en bou nuwe netwerke asook om op nog ‘n manier die skool se sukses oor die afgelope jaar te vier. Gholf is egter ‘n sportsoort wat enige sportman baie nederig hou, soos wat deur baie van ons wat aan die dag deelgeneem het, ongelukkkig ervaar het. Ek het die wonderlike voorreg gehad om deel van Andries Viljoen se AVCONENG-span (André Symington en Jan-Jurie Fourie) te wees. Ons het ons gate uit geniet en lekker gelag, want daar is min sportsoorte wat ‘n mens kan uitdaag soos gholf en jou ego super broos laat. Die sogenaamde gholfgode was beslis nie aan ons span se kant nie, maar nie eers hulle kon ons geesdrif demp nie. Baie geluk aan Oloff Sieberhagen en sy span (Louis Boshoff, Adriaan Theron en Jake Rennie) wat die dag puik gespeel het en met ‘n allemintige 93 punte (4bal-samespel met beste 2 punte per putjie) die gholfdag gewen het. Laat my asseblief toe om die organiseerder van die gholfdag, Alet Loubser, hartlik te bedank vir al haar puik reëlings om die 48 spelers op die dag te akkommodeer en spesiaal te laat voel. Laat my ook toe om haar man, Cobus Loubser, wat voorheen ook as Tesourier in ons Beheerraad gedien het, hartlik geluk te wens met sy aanstelling as die nuwe bedryfshoof (CEO) van Curro. Cobus, ons wens jou alles van die beste toe met jou nuwe rol. Ons weet jy gaan ‘n groot sukses daarvan maak.
Verlede Woensdag tydens die o.13A-krieketwedstryd wat tuis teen Laerskool Kampsbaai gespeel is, kon ons ook die nuwe elektroniese tellingbord inwy. Weereens groot dankie aan al die ouers wat ‘n finansiële bydrae gemaak het om die tellingbord te kon aankoop. Ons o.13-krieketspan het die middag in slegs 15 boulbeurte ‘n reuse telling van 166 lopies aangeteken waarvan die openingskolwer, Werner Steyn, ‘n onoorwonne 80 lopies aangeteken het. Nodeloos om te sê dat ons ver gewen het, want die opposisie is vir slegs 55 lopies uitgeboul. Welgedaan aan mnr. Warren en sy span met die puik oorwinning.
Alhoewel ons nou net op somersport fokus, het 11 van ons Gr. 6- en 10 van ons Gr. 5-netbaldogters aan ‘n netbalkamp te Elandsrus naby Driesusters (Karoo-area) oor die naweek van 04 - 06 November deelgeneem. Die netbalkamp is deur die bekende Patrys van der Merwe en Elize Kotze aangebied. Ons netbaldogters en afrigters het ongelooflik baie geleer en dit alles buite hul gemaksone. Graag wil ek die volgende juffrouens hartlik bedank wat ons 21 dogters tydens die naweek vergesel het en veilig teruggebring het:
  • Ischké Felix
  • Lucia de Jager
  • Shahneé Felix
  • Helene Slabbert
Die jaarlikse begrotingsvergadering, waartydens die daaropvolgende jaar se skoolfondsverhoging bespreek en besluit word, is op Maandagaand, 07 November 2022, om 18:00 in die biblioteek gehou. Die skoolfondsverhoging is eenparig soos volg goedgekeur:
  • Huppelland = 6% verhoging
  • Laerskool = 12% (sien onder)
Graag wil ek al die ouers wat die belangrike vergadering bygewoon het, bedank. Baie dankie aan ons BR-Voorsitter (Merwe Scholtz), ons Tesourier (Susan van der Walt), ons finansiële bestuurder (Liesel Hammond) en al ons begrotingsbestuurders vir jul waardevolle insette en tyd om die effektiewe begroting saam te stel. Daar is ook tydens die vergadering uitgewys dat daar vanjaar meer as R4M aan projekte by die skool en Huppelland spandeer is wat nie uit die skool se begroting kom nie, maar wel uit ruim donasies van ouers. Ons salueer al ons ouers wat die agfelope jaar ‘n finansiële bydrae gemaak het of kosbare tyd by die skool spandeer het om ons skool van krag-tot-krag te neem.

Groot opgewondenheid heers vandag by die skool aangesien ons al die 2023 Gr.1’s hul nuwe skool en nuwe juffrou kom ontmoet. Dit dien dan as ons Opedag. Vanaand vind die jaarlikse piekniek saam met hul ouers by die sportveld agter die skool plaas. Dit is vir ons ‘n wonderlike voorreg om al die ‘nuwe’ Gr.1’s by die ‘groot’ skool saam hul ouers te verwelkom. Ons beste wense vergesel hulle met die aanvang van hul laerskoolloopbaan en ons weet dat hulle baie vinnig hul voete sal vind, want die spesiale etos by ons skool bemagtig hulle om net hulself te wees. Graag wens ek ook die volgende Gr.1-juffrouens sterkte toe wat so mooi na hulle gaan kyk en hulle help om hul volle potensiaal te bereik:
  • Liezel Theron
  • Nicola Swanepoel
  • Helene Slabbert
Ons het ook aanpassings aan die res van die grondslagfase aangebring en deel dus graag met almal:
  • Graad 2: Rache Turner, Anja Nauta (graadhoof) en Naomi Uys
  • Graad 3: Maricqe Coetzer, Heidré Ehlers en Michelle Compion
Ons is hartseer om te noem dat Benita Smit (Grondslagfase Departementshoof) aansoek om ‘n bevorderingspos gedoen het. Ons het nog niks formeel ontvang om te bevestig dat sy wel die pos by Laerskool De Hoop as Grondslagfase Adjunkhoof ontvang het nie. Ons hou egter duimvas dat sy hierdie pos wel sal ontvang, want ons weet dat sy suksesvol in hierdie posisie sal wees. Ons hou almal op hoogte sodra ons formele nuus in die verband ontvang.

Op hierdie noot is dit ook vir ons sleg om aan te kondig dat Bibi Janse van Rensburg (gr. 5), Nadia Meiring-Stahmer (gr. 4) en Razelle Hanekom (sportorganiseerder) ons aan die einde van die jaar sal verlaat. Beide Bibi en Nadia se mans het bevordering by hul onderskeie werke gekry. Ons is baie dankbaar vir hul puik werk wat hulle by die skool gedoen het en ons wens hulle baie sterkte toe met hul pad vorentoe. Razelle het 'n pos by die Hoërskool aanvaar. Sy gaan 'n groot leemte laat, maar ons is opgewonde saam met haar vir hierdie nuwe fase. Sy was vir lank deel van die Laerskool se span en het die sportprogram help op die been kry tot waar dit vandag is. Ons is baie dankbaar vir alles wat sy vir die skool oor die jare gedoen het!

Ons het reeds goeie onderwysers in Bibi en Nadia se plekke aangestel, nl. Erick Snyman (gr. 5) en Ilse-Marie Holtzhausen (gr. 4). Ons weet dat hulle sommer baie maklik by ons skoolgemeenskap sal inskakel.

Ek sluit af met die volgende anonieme aanhaling wat op ons waarde vir die kwartaal, Respek, fokus en wens julle ‘n wonderlike naweek toe.

“Respect is like a mirror,
The more you show it to other people,
the more they will reflect it back!’’

Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF

Kliek HIER vir advertensies van die week

Advertensies 11 Nov 2022 2

Kliek HIER vir die Jannies besigheidsregister

Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Waardes Email Footer
Email Marketing Powered by MailPoet