Weeklikse Nuusbrief banner
Liewe Ouers

DATUMS

9 Mei, 2024

00:00 Hokkie: o.9-o.13 teen Laerskool Rallim (Seuns - TUIS en Dogters - WEG) (+)

10 Mei, 2024

00:00 Hokkie Sportdag: o.7 - o.13 seuns en dogters Mikro (Tuis) (+)

07:45 Toets: NW / NWT (gr. 4 - 6), Aardrykskunde (gr. 7) (+)

10:00 Moedersdagverkope (+)

14:15 Landloopwedloop: Vishoek (+)

11 Mei, 2024

00:00 Rugby en Netbal: o.7 - o.13 Sportdag Laerskool Mikro, Kampsbaai, Durbanville (TUIS) (+)

00:00 Bernadine Zitha (Snoepie) verjaar (+)

13 Mei, 2024

14:15 Musiekkonsert: Graad 6 (+)

15 Mei, 2024

14:15 Musiekkonsert: Graad 7 (+)

16 Mei, 2024

00:00 Hokkie Dogters: Blouberg Ridge en Curro Century City (TUIS) (+)

00:00 Hokkie Seuns: Blouberg Ridge (WEG) (+)

00:00 Fair Cape Netbal: o.9A & B Laerskool Durbanville (+)

17 Mei, 2024

00:00 Fair Cape Netbal: o.8A & B Laerskool Durbanville (+)

07:45 Toets: Gesk. ass. (gr. 4 - 7) (+)

14:15 Landloopwedloop: Rondebosch & Rustenberg (+)

18 Mei, 2024

00:00 Rugby: Porterville (+)

00:00 Fair Cape Netbal: o.7A & B Laerskool Durbanville (+)

20 Mei, 2024

00:00 Grondslagfase Assesserings begin (+)

18:00 Beheerraadvergadering (+)

21 Mei, 2024

00:00 Eksamen begin vir Graad 7 (+)

00:00 Winter Buitemuurs eindig (+)





>> SIEN DIE VOLLEDIGE DAGBOEK <<

VIR AANDAG

Klasbraai: 23 Februarie 2024

Ons sien uit na ons jaarlikse klasbraai wat op Vrydagaand, 23 Februarie, vanaf 18:00 by die Conradieveld plaasvind. Kom kuier asb. saam deur ou en nuwe Jannie-vriendskappe te koester. Bring gerus jou eie piekniekmandjie of vleisie, kampstoele, komberse, ens. saam. Ons voorsien braaidromme en -hout. Die braaidromme word in graadgroepe van stygende orde (gr. 1 – 7) vanaf die hek tot by die klubhuis gerangskik. Kom kuier lekker saam waartydens ons die mooiste uitsig in die land kan vier!

Beheerraadverkiesing: Nominasies

Liewe Ouers,

Neem asseblief kennis dat julle vanaf Maandag, 26 Februarie, toegang sal kry tot benoemingsvorms (nominasies - Addendum B) om 'n ouer by die skool voor te stel wat bereid is om hom/haarself beskikbaar te stel vir die 2024 BR-Verkiesing. Benoemings sluit op Maandag, 04 Maart, om 13:00 en alle getekende benoemingvorms (nominasies) moet fisies dan by die adminkantoor (Jodene) ingehandig word. Ons sal die benoemingsvorms elektronies beskikbaar stel, maar dit is ook in harde kopie by die adminkantoor beskikbaar.

Maak asseblief seker die benoemingsvorm is deur die volgende persone onderteken:
  1. Voorsteller
  2. Sekondant
  3. Kandidaat
Volg gerus hierdie skakel vir die kennsigewing en benoemingsbekragtigingbrief.

Baie dankie vir julle dringende aandag.

Vriendelike groete
Naas Beets

Wit en blou gholfers: raad vir uitwas van merke

Dit het onder ons aandag gekom dat ouers sukkel om kolle uit die skool-/sporthemde te kry. Hier volg raad vir die was van die hemde:
  • Wanneer die hemp kolle op het, moet dit eers behandel word voor dit in die wasmasjien gegooi word.
  • Meng 'n half koppie WITasyn en 'n half koppie water en maak die kolle daarmee nat voor jy dit in die wasmandjie gooi. Dit moet minstens 'n halfuur of verkieslik oornag so gelaat word voor dit gewas word.
  • Daarna kan dit normaal gewas word.
  • Vermy dit om versagmiddel te gebruik. Dit kan die kolle erger maak. Indien jy wasgoed wil versag, gooi WITasyn in plaas van versagmiddel in die versagmiddelgleuf van jou wasmasjien.
  • Produkte wat goed werk vir kolle:
    • Vanish "super bar"
    • Boerseep
    • Ons ondersoek die moontlikheid om 'n buisie vir kolle aan te hou, meer inligting sal later volg.
  • Kolle wat al lank op die hemp is, sal dalk nie so maklik uitkom nie. Probeer om 'n merk so gou moontlik te behandel.
Omdat dié hemde die leerder se sporthemp ook is, kon ons ongelukkig nie katoen gebruik nie.

AKADEMIE

ATKV DigiSpel-kompetisie

Die Jannies (gr. 1-7) is welkom om in te skryf vir die ATKV se gewilde digitale spelkompetisie - DigiSpel. Hierdie spelkompetisie vind aanlyn plaas.

Bestudeer die deelnemersgids deeglik indien jou kind belangstel.

Daar is nog nie 'n spesifieke datum bekendgestel waarop die kompetisie gaan plaasvind nie. Kostes beloop R120 per inskrywing. Jy kan die inskrywingsfooi deur middel van die Karri-toep betaal. Ons sal na aanleiding van die betalings op Karri die leerders inskryf. Die sluitingsdatum vir betalings op die Karri-toep is 1 Maart 2024.

Kontak Ilse-Marié Holtzhausen (Afrikaanse vakhoof) vir navrae: ilsemarie@jvrprim.co.za

KULTUUR

Eisteddfod Inskrywings 2024

  • Die Eisteddfod inskrywings is oop en sal binnekort op Karri vir betalings gelaai word.
  • Sluit asb. by die Eisteddfod-groep binne die WhatsApp Community aan om op hoogte te bly van enige Eisteddfod-nuus.
  • Die Eisteddfod sal einde Mei by ons skool plaasvind en beloop R100 per item.
  • Vanjaar is Gr. R ook welkom on in te skryf vir voordrag (gedig). Gr. 1 en 2 kan aan voordrag (gedig) deelneem, gr. 3 aan voordrag en onvoorbereide lees en gr. 4-7 aan voordrag, onvoorbereide lees en prosa.
  • Volg die skakel na 'n vorm wat ingevul moet word om in te skryf. Indien jy meer as een kind wil inskryf, vul asb. die vorm vir elke kind apart in: Eisteddfod Inskrywingsvorm
  • Die inskrywings sluit 6 Maart en geen laat inskrywings sal aanvaar word nie. Ek sal elke leerder met hul keuses en afrigting help.

Muzkanda Musiekprogram

Vanaf die tweede kwartaal word Muzkanda Kids by Laerskool Jan van Riebeeck as 'n privaat ekstra kurrikulêre aktiwiteit aangebied. Goeie gehoor, ritmiese vaardighede en koördinasie word ontwikkel. Die program fokus op hierdie basiese musiekvaardighede deur middel van stories, speletjies en liedjies wat in Afrikaans, Engels en isiXhosa aangeleer word. Hierdie liedjies is uniek aan die program. Die program is ontwikkel deur Rina Schutte en dr. Barry Ross.
  • Alle graad 1-3’s is welkom om in te skryf.
  • Gr. 1-3-leerders woon op 16 Maart 'n demo by.
  • Na die demo sal ons meer inligting deurstuur en stappe om in te skryf.
Vir meer inligting besoek hul webblad: muzkanda.co.za of kontak gerus vir Rina by rinsch@rgjs.org.za of Rolene van Zyl by rolene@jvrprim.co.za.

Konsert 2024

GROOOOOT opwinding!!!! Ons tema vir vanjaar se Skoolkonsert is SOMEWHERE OVER THE RAINBOW....

Dit beloof om 'n mallemeule van kleur, kostuums, toneelspel, pragtige danse en 'n opwindende storielyn te wees. Elke leerder gaan betrokke wees en ons sien alreeds baie uit wanneer die konsert in ons skoolsaal plaasvind die laaste twee weke voordat die skool vir die September-/Oktobervakansie sluit. Die finale datums sal binnekort bekend gemaak word.

Graag versoek ons ouerbetrokkenheid met voorbereiding van kostuums, dekor, voorportaal en vele meer. Ons sal spoedig 'n vorm uitstuur waarop ouers kan aandui waarby elkeen graag betrokke wil raak.

Duisende dankies, elke klein sandkorrel maak 'n baie groot woestyn.

SPORT

Junior Swemgala: 1 Maart 2024

Ouers/voogde is welkom om die junior swemgala op 1 Maart by te woon.
  • Tyd: 10:00 – 12:30 (leerders kan na die gala huis toe gaan)
  • Moedig asb. jou kind(ers) aan om deel te neem. Leerders hoef nie in te skryf nie, ons moedig massa deelname aan.
  • Alle leerders (deelnemers en toeskouers) kom met skoolklere skool toe.
  • Deelnemers moet hul eie swemkeppie en skoolswembroek OF gewone donkerblou swembroek hê.
  • Die uitslae sal gebruik word om leerders te identifiseer vir opkomende swemgalas.
  • Vryslag, borslag, vlinderslag en individuele wisselslag begin met ‘n duikslag in die swembad. Rugslag begin in die swembad.
  • Aan die einde van ‘n item moet swemmers in die swembad bly totdat die afsitter die teken (‘n blaas van die fluitjie) gee dat hulle mag uitklim. Vir borsslag en vlinderslag moet swemmers aan die einde van die item met beide hande raak.
  • Volgorde vir individuele wisselslag: 1. Vlinderslag, 2. Rugslag, 3. Borsslag, 4. Vryslag
  • Volgorde vir wisselslag AFLOS: 1. Rugslag, 2. Borsslag, 3. Vlinderslag, 4. Vryslag
  • Die snoepie sal oop wees en daar sal ‘n koffiestalletjie wees.
  • GEEN kos en koeldrank by die swembad nie, slegs water in plastiekbottels word toegelaat.
  • Pak asb. vir deelnemers droë onderklere, sonskerm en genoeg water in.
  • Geen leerder mag voor die einde van die gala huis toe gaan nie.
  • Volg die skakel vir die slae.

Dapper Stappers: 2 Maart 2024

Ons stap op Saterdag, 2 Maart, Kloof Corner op tot by die kontoerpad teen Tafelberg en dan tot by die grot, Andy's Cave. Indien jy graag saam wil stap, sluit gerus by die Dapper Stappers-groep in die WhatsApp Community aan. Hier volg meer inligting:
  • Begin ongeveer 09:00 stap (onderhewig aan verandering, afhangend van die weer)
  • Begin met 'n opdraende 1.2km tot by die kontoerpad waarna ons 'n gelyke roete tot by Andy's Cave stap.
  • Alle leerders en ouers welkom, solank leerders wel al in die berg of bietjie verder gestap het en weet wat om te verwag.
  • Dis nie 'n moeilike roete nie, maar die opdraende aan die begin kan uitdagend wees.
  • Bring sonbrandroom en trek gepaste stapskoene en 'n hoed aan.
  • Pak genoeg water en peuselhappies.
  • Die vorm om aan te dui of jy wil saam stap en meer inligting sal binnekort op die Dapper Stappers WhatsApp-groep gedeel word.
Ek hoop om julle daar te sien!
Suzaan

Wintersportprogram begin 4 Maart

thumbnail of Winterprogram 4 – 15 Maart 2024
Neem asb. kennis dat alle somersport Vrydag, 1 Maart, eindig en dat die Winterprogram reeds Maandag, 4 Maart, begin.
Die volgende spanne sal nog steeds wedstryde speel soos op die kalender aangedui: Mini-krieket en Tennis A-spanne. Tennisoefening in die oggende sal voortgaan tot 14 Maart. Volg die skakel vir die volledige winterprogram.

Gholfdag: 14 Maart 2024

  • LAASTE DAG VIR INSKRYWINGS.
  • Stuur die bewys van betaling aan Rashard om jou bespreking te bevestig.
  • Gebruik asb. jou naam en Gholfdag as verwysing wanneer jy in die skool se rekening inbetaal.
  • Kontak asb. vir Rashard indien jy 'n gaatjie of enige pryse wil borg.
  • Daar is slegs 12 4-balle beskikbaar.
  • Die kostes sluit baanfooie en 'n ete na die tyd in.
  • Gholfkarretjies is bespreek en is vir jul eie rekening.
  • Kontak asb. vir Rashard indien jy enige vrae het: sport@jvrprim.co.za | 067 311 8914

ALGEMEEN

Ou Skooldrag

Neem asb. kennis dat geen ou skooldrag wat nou skool toe gebring word, aanvaar sal word nie. Klere is reeds alles afgelewer soos vorige skrywes gemeld het. Dankie aan diegene wat so goed reageer het. Ons kon twee skole sommer ordentlik help!

Somersokkie gr. 5-7: 13 Maart 2024

  • Woensdag, 13 Maart 2024
  • In die skoolsaal
  • Graad 5-7-leerders welkom
  • Kaartjies op Karri teen R100 (ete ingesluit)
  • Snoepie beskikbaar

Leer jou kind: Wat kan ek beheer en wat nie?

Wat is die dinge wat jou kind gespanne en ongelukkig maak? Leer hulle van jongs af om net te fokus op dit wat HULLE kan verander en leer hulle die onderskeid. Jy mag hulle dalk baie onnodige hartseer spaar. Sien die diagram hier onder wat wys wat jou kind kan beheer en wat nie.

- Marike Badenhorst, Opvoedkundige Sielkundige

Veiling: 1 Junie 2024

Liewe Ouers/Voogde,

Dit is met groot opgewondenheid dat ons die naderende 2024 veiling aankondig! Merk asseblief Saterdag, 1 Junie, op jul kalenders en maak 'n plan om hierdie jaarlikse sosiale hoogtepunt by te woon!

Soos altyd, speel die veiling 'n sleutelrol in die finansiering van ons skool, wat bydra tot die handhawing van die hoë standaarde wat ons so trots maak. Dit is danksy sulke fondsinsamelings dat ons onder andere oor die laaste twee jaar vir elke leerder in graad 5 en 6 'n splinternuwe skootrekenaar kon verskaf, asook die vierkant behoorlik kon opgradeer tot 'n pragtige lushof.

Ons doen 'n hartlike beroep op elke ouer/voog om, waar moontlik, 'n handjie by te sit. Elke bydrae, hetsy groot of klein, maak 'n merkbare verskil. Of dit nou 'n kunswerk is, 'n naweekwegbreek by 'n vakansiehuis, etes by vooraanstaande restaurante, of selfs 'n bottel van jou gunsteling drank, jou skenking kan help om ons veilinglotte nog meer aantreklik te maak.

As jy in enige hoedanigheid kan bydra, hetsy deur skenkings of deelname, kontak asseblief Anna Blackmore by 083 386 4057 of Michelle Forsyth by 066 353 0108. Ons waardeer elke bydrae en sien uit na 'n suksesvolle fondsinsamelingsgeleentheid.

Baie dankie vir julle volgehoue ondersteuning en toewyding aan ons skool.

Vriendelike groete,
Die 2024 Veilingskomitee

TERUGVOER

Swemgala-uitslae: 16 Febr. 2023

Laerskool Jan van Riebeek het Vydag, 16 Februarie, 'n swemgala aangebied waaraan Herzlia, Camps Bay Pimary, Houtbay International, Sea Point Primary en Kronendal kom deelneem het. Ons swemmers het goed gevaar en het 'n derde plek uit die ses skole behaal.

Die uitslae is as volg:
  1. Herzlia
  2. Camps bay
  3. JvR
  4. Kronendal
  5. Hout bay
  6. Sea point
Welgedaan, Jannies!

Delmar presteer by WP-Tweekampbyeenkoms

Delmar het die naweek aan die WP-tweekampbyeenkoms in Bellville deelgeneem. Hy kom 2de en wen die silwer medalje vir seuns o.15 met ‘n nuwe persoonlike beste tyd. Baie geluk, Delmar! Ons is trots op jou!

Zone-Atletiekbyeenkomsuitslae: 21 Febr. 2024

Woensdag, 21 Februarie, het 20 van ons atlete aan die Zone-atletiekbyeenkoms te Vygieskraal deelgeneem. Die byeenkoms lewer reeds baie goeie atlete op en is die tweede groot byeenkoms voordat leerders die geleentheid kry om moontlik by die WP-kampioenskappe deel te neem. Om te kwalifiseer vir die WP-kampioenskappe moet jy in die top 4 in die baanitems eindig en top 3 in die velditems. Die volgende leerders het almal gekwalifiseer om volgende week Woensdag, 28 Februarie, aan die WP-kampioenskappe deel te neem:
  • Delmar Benecke, 1ste 800m
  • Maia du Toit, 1ste 70m H
  • Jana Olivier, 1ste diskus en 2de gewigstoot
  • Stella Zulch, 1ste spiesgooi
  • Carter Shoeman, 1ste gewigstoot en 3de diskus
  • Frank van der Walt, 1ste gewigstoot en 2de diskus
  • Daniella Boshoff, 2de 200m H en 4de 75m H
  • Jeanne van Heerden, 3de diskus
  • Ellen van Heerden, 3de gewigstoot
Ons wil die atlete gelukwens met hul pragtige uitslae by die Zone-kampioenskappe. Reëlings rakende volgende week se byeenkoms sal direk met die ouers gekommunikeer word.

Mini-Krieketuitslae: 20 en 22 Febr. 2024

20 Februarie 2024:

o.9 A speel teen Llundudno
o.9A JvR 41/0 - Llundudno 26/3
JvR wen met 15 lopies

o.9 B speel teen Seepunt
o.9 B JvR 37/3 - Seepunt 35/3
JvR wen met 2 lopies

o.11A JvR speel teen Llundudno
JvR kolf eerste en teken 77/7 aan na 16 beurte
Llundudno 78/7/ na 15 beurte
Llundudno wen met 3 paaltjies.

Baie geluk aan Logan van Heerden met 'n boulsyfers van 4 beurte vir 4 paaltjies en het slegs 20 lopies afgestaan.

22 Februarie 2024:

o.13 A speel teen Kampsbaai.
JvR kolf eerste en teken 95 lopies aan.
Kampsbaai kon slegs 28 lopies aanteken.
JvR wen met 67 lopies.

Welgedaan aan Jack Dawes met boulsyfers van 4 beurte 4 paaltjies vir 12 lopies.

Hoërskool Jan van Riebeeck-nuus

Ons bars weer van trots nadat ons Woensdag, 21 Februarie, die Kaapse Metro-Sentraaldistrik se prysuitdeling bygewoon het om die laaste erkenning aan ons matriekklas van 2023 te gee!

Hoërskool Jan van Riebeeck ontvang die volgende toekennings:
  1. Beste presterende skool in Afrikaans Huistaal
  2. Beste vordering in Afrikaans Huistaalgemiddeldes
  3. Konsekwente jaarlikse prestasie in Wiskunde en Fisiese Wetenskappe
  4. Jenna Kohler - beste presteerder in Afrikaans Huistaal
  5. Annabel de Jager - beste presteerder in Engels Eerste Addisionele Taal
  6. Adrian Huysamen - beste presteerder in Ekonomie en Ingenieursgrafika en -Ontwerp
  7. Nicole Prinsloo - beste presteerder in Toerisme en Besigheidstudies
  8. Zia Meintjies - beste presteerder in Gasvryheidstudies
... en die kersie op die koek: Jenna Kohler is die 8STE beste presteerder van alle leerders in die distrik!

Baie geluk aan al ons onderwysers en ons puik Jan van Riebeeckers - ons hou jul toekoms met groot belangstelling dop!

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde - 23 Februarie 2024

Ons het week 5 van kwartaal 1 op ‘n hoë en ‘besige’ noot afgesluit met onder andere ‘n mini-kriekettoernooi te Laerskool Hugo Rust (Wellington) op Vrydagmiddag en -aand, ‘n swemgala Vrydagmiddag tuis met 8 skole uit ons onmiddellike omgewing wat deelgeneem het, ons o.13-rugbygroep het op Saterdag, 17 Februarie, aan die ‘Onder die Berg’-rugbytoernooi deelgeneem wat HS Jan van Riebeeck aangebied het, ‘n netbalkliniek is op Saterdag, 17 Februarie, tuis deur WPNA aangebied asook ons jaarlikse koorkamp wat op Vrydag, 16 en Saterdag, 17 Februarie, plaasgevind het. Dit is omtrent ‘n mondvol en julle kan dus aflei dat ons skoolprogram besig en propvol aktiwiteite is vir ons leerders om aan deel te neem. Laat my toe om weereens al ons toegewyde onderwysers en afrigters hartlik te bedank wat al die buitemuurse aktiwiteite vir ons Jannies moontlik maak.

Die jaarlikse koorkamp onder leiding van juf. Rolene en mnr. Ben het vanjaar oor twee dae geskied, naamlik die Vrydagmiddag, 16 Februarie, en Saterdagoggend, 17 Februarie. Graag wil ek hulle hartlik gelukwens met die nuwe aanslag van koorafrigting asook die aanleer van nuwe en moderne liedjies waarmee ons leerders hulself kan vereenselwig. Ons koorleerders het die koorkamp terdeë geniet. Hulle het nie net gesing en nuwe liedjies geleer nie, maar ook aan ander pretaktiwiteite deelgeneem. Ons is saam met die koorleerders baie opgewonde en sien uit na al die kooroptredes wat die jaar op hulle wag.

Op Dinsdag, 20 Februarie, om 12:15 het ons ‘n beplande ontruiming vir brand by die skool geoefen. Ons oefen een keer per kwartaal ‘n veiligheidsontruiming sodat ons leerders en personeel presies weet watter prosedure om te volg indien een van die volgende gevaarlike situasies homself voordoen:
  • ‘n Brand
  • ‘n Bomdreigement
  • Stakings en siviele onrus.
Ek wil nie graag sportspanne of individuele leerders uitsonder nie, maar laat my toe om die volgende merkwaardige uitslae met julle te deel:
  • Ons o.13A-dogterstennisspan wen op Maandag, 19 Februarie, die o.13A-dogterspan van Laerskool Durbanville 5 – 1 tydens ‘n ligawedstryd. Baie geluk Jeanne van Heerden, Stella Pansegrouw, Stella Zulch en Ané Swanepoel. Julle maak ons baie trots! Dit wil gedoen wees om hierdie puik uitslag teen ‘n ‘groot’ skool met meer as 1 200 leerders (gr. 4 – 7) te behaal.
  • Op Woensdag, 21 Februarie, het 20 van ons leerders aan die sone-atletiekbyeenkoms te Vygieskraal deelgeneem en die volgende 9 atlete kwalifiseer vir die WP-Kampioenskappe op Woensdag, 28 Februarie, te Dal Josaphat in die Paarl:
    • Delmar Benecke
    • Jana Olivier
    • Stella Zulch
    • Frank van der Walt
    • Daniella Boshoff
    • Carter Schoeman
    • Jeanne van Heerden
    • Ellen van Heerden
    • Maia du Toit
Ons hou styf duimvas dat die boegnoemde atlete hul WP-kleure sal verwerf. Baie dankie aan mnre. Leon en Erick wat ons atlete bygestaan en vergesel het.

Ek is saam met ons leerders baie opgewonde en sien baie uit om almal later vanaand tydens die klasbraai by die Conradieveld vanaf 18:00 te ontvang. Bring dus jou piekniekmandjie of iets ‘lekkers’ om te braai en geniet die samesyn en geselligheid wat net Laerskool Jan van Riebeeck kan opdis. Ons gaan net onsself wees!

Ek herinner ook al ons graad 6- en 7-ouers om gerus ‘n plan te maak om die Opedag van HS Jan van Riebeeck op Dinsdag, 27 Februarie, om 18:00 by te woon. Hulle gaan soos gewoonlik baie moeite doen om ons leerders spesiaal te ontvang.

Graag sluit ek af met die volgende aanhaling van Chris Bertram rakende groei-ingesteldheid en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe:

“When you are in a growth mindset,
what that means is that you choose to see that struggle
and challenges as an opportunity for growth and
for learning and development!’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF

Kliek HIER vir die nuutste foto's en video's op JvR-Kiek

Kliek HIER vir advertensies van die week

Email Marketing Powered by MailPoet