Weeklikse Nuusbrief banner
Liewe Ouers

DATUMS

17 April, 2024 - Netbal: o.7-o.13 Totius (WEG) 00:00-23:59
18 April, 2024 - Hokkie Seuns: CBC St John's (WEG) 00:00-23:59 at CBC St John's
18 April, 2024 - Hokkie Dogters: CBC St John's (TUIS) 00:00-23:59
18 April, 2024 - Mardry Wright (Onderwyser) verjaar 00:00-23:59
18 April, 2024 - Kleiduifskietkompetisie 00:00-23:59
19 April, 2024 - Rugby: o.7 - o.13 Curro Durbanville (TUIS) 00:00-23:59
19 April, 2024 - Toets: Engels (gr. 4 en 6), Afrikaans (gr. 5 en 7) 07:45-09:10
20 April, 2024 - Kaperjolle 12:00-18:00
21 April, 2024 - Marietjie de Kock (OLSO) verjaar 00:00-23:59
21 April, 2024 - Annet Wilke (Terapeut) verjaar 00:00-23:59
23 April, 2024 - Skrywersbesoek Gr. 1-6 - Wendy Maartens 08:30-09:00
24 April, 2024 - Rugby: Laerskool Edgemead (TUIS) 00:00-23:59
24 April, 2024 - Netbal: o.7-o.13 De Tyger (WEG) 00:00-23:59
25 April, 2024 - Hokkie Dogters: Sunningdale (WEG) 00:00-23:59
25 April, 2024 - Hokkie Seuns: Sunningdale (TUIS) 00:00-23:59
25 April, 2024 - Uitstappie vir IP-Musiekleerders 11:00-12:00
25 April, 2024 - Oueraand 18:00-20:00
26 April, 2024 - Toets: Aardrykskunde ass. (gr. 4 - 6), NW (gr. 7) 07:45-09:10
26 April, 2024 - Sivvies 07:45-14:00
26 April, 2024 - Landloopwedloop: Sweet Valley 14:15-15:15
27 April, 2024 - Hokkie: o.9 en o.10 Seuns en Dogters Toernooi Laerskool Tableview (WEG) 00:00-23:59
27 April, 2024 - Keenen Faro (Onderwyser) verjaar 00:00-23:59
29 April, 2024 - Netbal: o.7-o.13 Monte Vista (TUIS) 00:00-23:59
1 Mei, 2024 - Werkersdag 00:00-23:59




>> SIEN DIE VOLLEDIGE DAGBOEK <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Geagte Ouers / Voogde

Week 3 van die akademiese jaar het op ‘n baie warm en bedompige Maandagoggend afgeskop met ‘n aangename verrassing vir ons leerders aangesien ons skool op 31 Januarie 101 jaar oud is. Ek het spesiaal met Martin Venter, Meesterkannonier van die Suid-Afrikaanse Kannonier Vereninging, gereël om met sy miniatuur-kanon x10 skote agter op die sportveldjie ten aanskoue van ons leerders en personeel te kom afvuur ter herdenking van ons 100ste bestaansjaar. Elke skoot het 10 jaar verteenwoordig. Hy het ook sy kennis rakende al die geskiedkundige kannonne in Suid-Afrika met ons gedeel en die leerders het dit baie interessant en leersaam gevind.
Feesvieringe is verder die aand voortgesit met heerlike samesyn van ouers/voogde en vriende van die skool tydens ons 100 + 1 Feesvieringe. Vanaf 18:30 kon ons ouers/voogde deur die skool se gange stap om die spog kunsuitstallings van die leerders se kunswerke wat die 100 jaar se geskiedenis en ryk tradisies van die skool uitbeeld, te besigtig. Smaaklike etes is ook die aand voorsien en groot opgewondenheid het onder ons ouers/voogde geheers om weer ‘n slag lekker saam te kon kuier. Baie dankie aan Marinda wat die afgelope 2 jaar agter die skerms die feesvieringe en ‘n spogstuk van ‘n feesboek beplan het. Graag wil ek die OOV, onder leiding van Ria Hertzog hartlik bedank vir die puik reëlings vir die spesiale geleentheid. Baie dankie ook aan Stephanie le Roux wat kom hand bysit het om te verseker dat alles klopdisselboom verloop tydens die spesiale okkasie.
Laat my dan ook toe om almal te bedank vir my mooi verjaarsdagwense, boodskappe en geskenke. Die personeel, prefekte en die leerders het my tot in die afgrond bederf. Ek is so bevoorreg, want elke Jannie het vir my ‘n spesiale verjaarsdagkaartjie gemaak met ‘n verjaarsdagwens - dit is so kosbaar! Ek sal die spesiale dag nooit vergeet nie. Vrydag, 28 Januarie, was nie net my verjaardag nie, maar het ook gepaard gegaan met die Jannies Jooldag. Die Jannies was omtrent in die 7de hemel met al die pret-aktiwiteite op die spyskaart en het seker gedink dit is deel van die skoolhoof se verjaardag.

Hierdie week het ons buitemuurse program ook afgeskop om ons leerders vir die somersportkodes voor te berei. Ongelukkig het die weer nie op Woensdag, 2 Februarie, so lekker saam gespeel nie en is van ons tenniswedstryde ongelukkig gekanselleer as gevolg van die ongure weer. Die koeler en nat weer na die naweek en Maandag se hittegolf het egter ‘n groot lafenis vir mens en dier gebring.

Op Dinsdag, 1 Februarie, het Benita Smit (Hoof van Grondslagfase) vir die Grondslagfase ‘n pragtige boodskap rakende die korrekte gebruik van woorde in jou daaglikse kommunikasie met mense aan die die Grondslagfase leerders (Gr. 1 - 3) gebring. Skynbaar praat vrouens sowat 18 000 woorde per dag en mans slegs sowat 6 000. Ek weet ek beweeg nou op ‘n gevaarlike terrein! Kinders gebruik tussen 3 000 en 7 000 woorde per dag en dit is waar sy ons leerders aanraai om eerder positiewe woorde te gebruik as afbrekende woorde. Moenie woorde onnodig op ‘n destruktiewe wyse mors nie, maar eerder as opbouend - dit bring baie meer vreugde. Kom ons dink voor ons praat, want soos hulle sê: dit is baie keer nodig om eerder jou mond toe te hou sodat jou brein kan asemskep. My ma het my geleer: "Jy kan dink wat jy wil, maar jy kan nie altyd sê wat jy wil nie."

Ons is so dankbaar dat dit baie beter met Kolya gaan aangesien hy uit die hospitaal ontslaan is en nou by die huis aansterk. Ons glo en vertrou hy sal binnekort by ons kan aansluit. Sy klasmaats mis hom baie en hulle glo dat hy sommer vinnig op die been sal wees.
Graag sluit ek af met die volgende woorde: "Woorde kan seer maak, heelmaak, saakmaak ….. Dink mooi voor jy praat!

Geniet die naweek!
Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF

ALGEMEEN

Klerebank

Hiermee die SKAKEL om die 100+1 feeshemp aan te koop.

Bestel asseblief teen 12 Februarie. ‘n Aflewering van ‘n klein bestelling, groottes 8 tot 14 jaar word volgende week verwag. Groottes 4 jaar, M en L is in voorraad. Na 12 Februarie sal die balans bestel word volgens bestellings ontvang. Die tweede bestelling behoort teen einde Februarie afgelewer te word.

Klerebanktye:

07:20 - 08:00 Maandae en Woensdae
13:30 - 14:20 Dinsdae en Donderdae

Nuwe Covid-protokol

Beste Ouers

Die President het gister aangekondig dat die kabinet veranderinge maak ten opsigte van die kwarantyn- en kontakopsporing-protokol vir die land. Laerskool Jan van Riebeeck sal hierdie protokol van nou af volg:
  • Indien jy positief toets, maar geen simptome toon nie, hoef jy nie te kwarantyn nie.
  • Indien jy positief toets en jy simptome toon, word die kwarantyntydperk van 10 na 7 dae verminder.
  • Indien jy in kontak was met iemand wat positief getoets het, hoef jy nie te kwarantyn tensy jy simptome toon nie.

Fotodag: Dinsdag, 1 Maart

Dinsdag, 1 Maart is dit fotodag.

Die volgende foto's sal geneem word:
  • Individuele foto's
  • Boetie- en sussie foto's
  • Beheerraadfoto
  • Biblioteekmonitors
  • Suidoosterredaksie
  • OOV
Reëlings:
  • Kleredrag: Leerders dra hul gewone wit JvR-skoolhemp (plat kraag met wapen op die sak) met hul grys kortbroek en donkerblou rompie, wit en grys sokkies met skoolskoene.
  • Daar sal GEEN LO-lesse op hierdie dag wees nie.
  • Leerders moet asb. betyds wees. Ons begin reeds om 08:00 met die foto's.
  • Maak asb. seker dat jou kind(ers) se hare en naels netjies en skoon is.

"My School" registrasie

MySchool is Suid-Afrika se vooraanstaande skool ondersteuningsprogram. Hulle dra maandeliks meer as R 1.5 miljoen by tot skole en welsynsorganisasies.

Gereelde kaartgebruik is die sleutel tot sukses van hierdie program: elke transaksie tel! Ondersteuners kan hulle kaarte gebruik by ‘n verskeidenheid nasionale en plaaslike handelaars wat deelneem aan die MySchool program.

Ons versoek dat elkeen wat hierdie kaart besit dit asseblief by onder andere Woolies moet gebruik aangesien ons die geld wat ons terugkry net so in ons eie skoolgemeenskap se Welwillendheids-projek terug sit.

Kliek HIER vir meer inligting oor hoe om te registreer.

Welwillendheid: Klereprojek

Die Welwillendheidskomitee wil baie graag al die ouers bedank wat skoolklere en skryfbehoeftes geskenk het. Ons gee ‘n laaste geleentheid indien jy nog enige klere wil skenk. Laaste dag vir skenkings is Donderdag, 10 Februarie. Dit kan na Marietjie de Kock se klas geneem word. Nogmaals baie dankie. Dit word opreg waardeer.

Als wat jy van Karri moet weet

Kliek op die foto hieronder vir 'n video wat die Karri-toep verduidelik.
Karri-toep

KULTUUR

Hulp met konsert 2022

Ons hou weer hierdie jaar konsert! Indien jy graag by die konsertreëlings betrokke wil raak, kliek HIER en vul die vorm in om ons in kennis te stel waar of op watter manier jy sal kan help. Dankie!

SPORT

Dapper Stappers Gr.4-7

Leerders van graad 4 tot 7 is welkom om op 26 Februarie saam met ons 'n roete in die berg te gaan stap! Hou jul e-pos dop vir 'n Google Form wat volgende week uitgaan vir meer inligting en om aan te dui of julle saam wil stap.

Indien julle voorstelle het vir lekker roetes, kliek HIER om ons te laat weet, ons sal julle insette waardeer.

Senior swemgala reëlings en program: 11 Februarie

Ons gaan vanjaar se swemgalas weer as twee aparte byeenkomste hou. Die spasie rondom die swembad raak beperk en dis beter vir almal se veiligheid as ons 'n junior- en seniorgala hou. Ons wil graag 'n paar algemene reëlings oor die dag oordra.
  • Ons gaan MASSA DEELNAME aanmoedig. Dit beteken dat daar nie voor die tyd enige inskrywings gaan plaasvind nie. Leerders neem op die dag aan die items van hul keuse deel. Dit beteken dat hulle mooi sal moet luister wanneer 'n item aangekondig / uitgeroep word.
  • Alle swemmers MOET 'n swempet dra. Indien hulle nie 'n swempet het nie, gaan hulle nie mag deelneem nie.
  • Deelnemers kom die dag met hul LO-klere en swembroek skool toe. Pak  asb. droë onderklere in. Indien 'n kind nie deelneem nie, mag hy/sy nie gewone klere dra nie. Leerders wat nie deelneem nie, moet feeshempies en blou skorts/ kortbroeke dra.
  • Kinders mag nie om die swembad of deur die skool hardloop nie anders verloor hulle punte.
  • Daar sal houers beskikbaar wees vir swemmers om hul items te stoor terwyl hulle deelneem.
  • Vryslag, borslag, vlinderslag en individuele wisselslag begin met 'n duikslag in die swembad. Rugslag begin in die swembad.
  • Aan die einde van 'n wedloop moet swemmers in die swembad bly totdat die afsitter die teken ('n blaas van die fluitjie) gee dat hulle mag uitklim.
  • Vir borsslag en vlinderslag moet swemmers aan die einde van die wedloop met beide hande raak.
  • Volgorde vir individuele wisselslag: 1. Vlinderslag, 2. Rugslag, 3. Borsslag, 4. Vryslag
  • GEEN kos en koeldrank by die swembad nie, slegs water in plastiekbottels word toegelaat.
  • Sien die onderskeie galas se itemlys vir die program. Ons gaan nie 'n tyd aan die items koppel nie, want ons weet nie hoeveel leerders aan elke item gaan deelneem nie.
  • Die OPE afdeling is slegs vir gr.7-leerders.
  • Ouers en buiteafrigters is welkom om die galas by te woon.
  • Kliek op die foto vir die itemlys.

Swemgroepe se indelings vir die week

Baie dankie aan almal wat die vorms voltooi het om hul kind/ers vir die swemgroepe in te skryf. Ons het die afgelope week almal wat by die oefening was, evalueer om te kyk of hulle wel kan swem en of ons hulle na 'n ander groep moet skuif. Die kinders wat na 'n ander groep moet skuif se ouers sal ons direk kontak. Die res van die swemmers bly in hul groepe soos hulle plek gekry het.
Ons wil egter versoek dat ouers ons dadelik in kennis stel indien jou kind/ers nie meer gaan swem nie of slegs een dag gaan swem. Daar is nog heelwat kinders wat 'n plekkie soek. Ons sal ouers ook in kennis stel indien daar plek oopgaan. As jou kind/ers se naam op die waglys is, hoef ouers nie 'n e-pos vir navrae te stuur nie.

Ons vra dat ouers asb. nie die afrigters of onderwysers tydens die oefening pla nie en om asb. vir leerders onder die afdakkie voor die tennisbaan of by die bome te wag. Dit ontneem leerders van lestyd as afrigters eers ouers se vrae moet beantwoord.

Indien 'n kind gereeld nie vir oefening gaan opdaag nie, gaan ons 'n ander kind die geleentheid gee. Volg gerus die korrekte skakel op die swembladsy op die skool se webtuiste vir die inskrywings se uitslae.

Interskole Atletiekbyeenkoms - 8 Februarie

Ons is baie opgewonde om op Dinsdag, 8 Februarie 2022, weer aan ons jaarlikse Interskole Atletiekbyeenkoms te kan deelneem. In 2020 kon van ons laaste byeenkomste van die seisoen nie plaasvind nie en in 2021 kon ons geen byeenkomste aanbied nie. COVID het beslis vir heelwat aanpassings en veranderinge gesorg. Alhoewel heelwat van die maatreëls verslap is, is nie alles afgeskaf nie en moet ons nog daarvolgens werk.

Aan die einde van 2021 was daar nog geen duidelikheid watter impak die 4de vlaag op ons atletiekseisoen aan die begin van 2022 sal hê nie. Ons het egter voortgegaan met die hoop dat ons iets sal kan doen en het ons die Kleuresportbyeenkoms aangebied. Ongelukkig kon al ons leerders nie die dag bywoon nie, maar ons het voortgegaan en dit was 'n heerlike dag. Ons het die O/10 - O/13-leerders wat nie in 2021 kon deelneem nie, gevra om te registreer om moontlik in die Interskolespan te kom.

Tussen die 9 skole wat aan die Interskole deelneem, maak ons beurte om die geleentheid aan te bied. Die onderwysers van JvR stap egter die ekstra myl en help steeds met baie van die admin om hierdie dag moontlik te maak. Ons help dan ook om 'n baan vir die dag te kry al is dit nie ons beurt om die byeenkoms aan te bied nie. Om 'n atletiekbaan soos Groenpunt te bespreek, moet ons deur sekere kanale werk asook met alle hoër- en laerskole in die Metropoolstreek om beskikbaarheid kompeteer. Ongelukkig is die fasiliteite baie vinnig bespreek en is ander bane in die omgewing nie beskikbaar nie. Na onderhandeling met Hoërskool Kampsbaai het hulle ingestem om ons die dag te help en het vir die Duitse Schule (hulle organiseer die byeenkoms die jaar) toestemming gegee om die veld te kan gebruik met 'n paar voorwaardes:

Ons moet steeds by die maksimum van 2000 mense vir 'n buitelugfunksie bly en ons is nie die enigste groep op die dag nie. 'n Gedeelte van Hoërskool Kampsbaai se velde word deur 'n filmspan gebruik en die skool funksioneer op die dag met hul normale akademiese program. Dit is ongelukkig waarom ons nie enige toeskouers die dag sal toelaat nie asook nie enige van die O/7 - O/9-atlete die jaar laat deelneem nie. Die O/7 - O/9-atlete gaan nie verder na enige van die volgende rondes nie, dit is slegs vir O/10 - O/13 atlete.

Leerders wat aangedui het dat hulle graag vir die Interskolespan wil kwalifiseer, maar die byeenkoms in 2021 gemis het, is deur die week geëvalueer en saam met die res van die span in kennis gestel waaraan hulle kan deelneem. WP-atletiek se vereistes vir meer as 'n dekade is dat atlete nie aan meer as 3 items mag deelneem nie en daarom help ons van ons sterker atlete om hul beste 3 items vir die dag te kies. Dit gee dan ook weer vir ander atlete die geleentheid om deel te neem.

Ons kan ouers verseker dat ons ALTYD AL ons atlete se beste belange op die hart dra en vir hulle soveel moontlik geleenthede probeer skep.

Ons besef dat ouers en familie baie graag die Interskole wil bywoon, maar vir hierdie ronde is dit buite ons beheer en kan ons dit nie doen nie. Die parkering is baie beperk om die skool en ons vra dat atlete die oggend om 07:30 by Laerskool Jan van Riebeeck moet aanmeld sodat die span met die bus na Hoërskool Kampsbaai vervoer kan word. Ons sien baie uit na die geleentheid en wens al ons onderwysers wat die dag as beamptes optree alle sterkte toe.

Nege Jannies word benoem vir die Kaapse Metro Skole Tennisspanne

Op Saterdag, 22 Januarie, is nie minder nie as nege van ons leerders tydens die Kaapse Metro (WP) Skole Tennis byeenkoms as deel van die span aangekondig. Hulle sal hul kleure op 'n later stadium ontvang as hulle die span op die baan verteenwoordig het.
Baie geluk aan die volgende spelers:

O/11: Adriaan Wessels; Nils le Roux; Gustav van der Linde; Stella Pansegrouw; Jeanne van Heerden en Ané Swanepoel
O/12: Dawid-Wiese Viljoen
O/15: Mia Symington en Fredrich Erasmus (gr. 7-leerders van 2021)

Tenniswedstryde: 2 Februarie

Op Woensdag, 9 Februarie, sou die skool vir die eerste keer in sy Geskiedenis 6 spanne gehad het wat aan verskillende tenniswedstryde sou deelneem. Ongelukkig het die weer ander planne gehad en ons moes 5 van die spanne se wedstryde eers uitstel.

Drie van die spanne speel in die Noord-liga en 3 spanne speel in die Table View-liga. Ons gemengde D-span in die Noord-liga was op die ou einde van die dag die enigste span wat gespeel het. Die span het binne 45 minute met hulle dubbel- en enkelwedstryde teen Aristea afgereken en alles gewen. Baie geluk julle en dankie aan Juf. Maricqe Coetzer wat hulle vir die middag vergesel het.

Kliek HIER vir advertensies van die week

Advertensies 4 Feb 2022

Kliek HIER vir die Jannies besigheidsregister

Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Waardes Email Footer
Email Marketing Powered by MailPoet