Liewe Ouers/Voogde,

Dit is met groot opgewondenheid dat ons die naderende 2024 veiling aankondig! Merk asseblief Saterdag, 1 Junie, op jul kalenders en maak ‘n plan om hierdie jaarlikse sosiale hoogtepunt by te woon!

Soos altyd, speel die veiling ‘n sleutelrol in die finansiering van ons skool, wat bydra tot die handhawing van die hoë standaarde wat ons so trots maak. Dit is danksy sulke fondsinsamelings dat ons onder andere oor die laaste twee jaar vir elke leerder in graad 5 en 6 ‘n splinternuwe skootrekenaar kon verskaf, asook die vierkant behoorlik kon opgradeer tot ‘n pragtige lushof.

Ons doen ‘n hartlike beroep op elke ouer/voog om, waar moontlik, ‘n handjie by te sit. Elke bydrae, hetsy groot of klein, maak ‘n merkbare verskil. Of dit nou ‘n kunswerk is, ‘n naweekwegbreek by ‘n vakansiehuis, etes by vooraanstaande restaurante, of selfs ‘n bottel van jou gunsteling drank, jou skenking kan help om ons veilinglotte nog meer aantreklik te maak.

As jy in enige hoedanigheid kan bydra, hetsy deur skenkings of deelname, kontak asseblief Anna Blackmore by 083 386 4057 of Michelle Forsyth by 066 353 0108. Ons waardeer elke bydrae en sien uit na ‘n suksesvolle fondsinsamelingsgeleentheid.

Baie dankie vir julle volgehoue ondersteuning en toewyding aan ons skool.

Vriendelike groete,
Die 2024 Veilingskomitee