Agter v.l.n.r.: Izzy du Plessis, Karu Rademeyer, Michaan Naylor, Stella Zulch, Bailey Thomson, Anna Louw, Frank van der Walt en Ruben Eksteen.
Voor v.l.n.r.: Jeanne Koen, Leah de Kock, Emma Snijders en Delmar Benecke.
Afwesig: Willem Vorster

LEIERPOSISIES EN KOMITEES

Graad 6-leerders word jaarliks verkies as media-leiers om leerders en personeel pouses en na skool behulpsaam te wees in die mediasentrum. Verkiesing en opleiding word deur die mediapersoneellid hanteer.

Elke registerklas mag, indien die behoefte bestaan, ‘n klaskaptein aanwys gedagtig daaraan dat alle leerders ’n beurt sal kry sodat leierontwikkeling bevorder word. Klaskapteine moet ’n voorbeeld stel vir hul klasmaats en sal versoek word om sekere take te verrig ter bystand van die onderwyser, wat hulp met klasnetheid en orde mag insluit.

Sportspanne mag, indien die behoefte bestaan, sportkapteine aanstel. Sportkapteine moet ‘n voorbeeld stel vir hulle spanmaats en sal versoek word om sekere take te verrig ter bystand van die afrigter.

Die leerders in Graad 6 word verdeel in verskillende komitees, welke komitees jaarliks bepaal word. Die leerders sal kwartaalliks geroteer word sodat hulle in al die komitees dien.

Die leerders in Graad 7 word verdeel in drie (3) verskillende komitees. Die leerders sal kwartaalliks geroteer word sodat hulle in al drie (3) komitees dien. Die Graad 7 komitees is die Sosiale Komitee, Terreindienskomitee, en Uitreikkomitee. Vier (4) leerderraadlede per kwartaal word by die drie (3) Graad 7 komitees ingedeel.

FORMELE LEIEROPLEIDING

Die Graad 6 leerders sal in hulle Graad 6 jaar aan leierskapkursusse blootgestel word. Dit kan die laaste week van die eerste drie kwartale gedoen word. Aan die begin van die vierde kwartaal sal die Graad 6 leerders ‘n finale leierskapkamp / -kursus bywoon.

Die leerderraadvoogde bepaal watter leerderraadslede en Graad 7 leerders in welke van die drie (3) komitees sal dien.

Die leerderraadlede, Graad 7 en Graad 6 leerders sal kwartaalliks geroteer word sodat almal ‘n geleentheid het om op die graadkomitees te dien.

VERKIESINGSPROSEDURE VAN LEERDERRAAD

Na afloop van die Graad 6 leierskapontwikkelingskamp (welke kamp in die vierde kwartaal plaasvind), moet elke Graad 6 leerder agt (8) mede-Graad 6 leerders nomineer as leerderraad kandidate waarvan ten minste twee (2) leerders ‘n geslag verteenwoordig. ‘n Graad 6 leerder is geregtig om aan te dui dat hy / sy homself / haarself nie verkiesbaar stel nie.

Die Graad 6 onderwysers sal na afloop van ‘n proses waar die genomineerdes bespreek en oorweeg word, ‘n stemlys van vyf-en-twintig (25) kandidate saamstel, waarvan ten minste vyf (5) kandidate verteenwoordigend van ‘n geslag moet wees. Die name van die vyf-en-twintig (25) kandidate word op die dag van die verkiesing bekendgemaak.

Stemming vind plaas in die laaste week van die vierde kwartaal. Slegs die Graad 5 en 6 leerders, asook die onderwysers wat vir die kandidate klasgee, is stemgeregtig. Die puntetoedeling van die stemme is as volg:

Graad 5: 1 punt

Graad 6: 3 punte

Onderwysers: 5 punte

Stemgeregtigdes stem vir agt (8) kandidate waarvan ten minste twee (2) verteenwoordigend van ‘n geslag moet wees. Die verkiesingskomitee verwerk die uitslae. Die skoolhoof monitor die verkiesingsproses en indien hy / sy tevrede is dat die proses regverdig was, bekragtig hy die uitslae. Die besluit van die verkiesingskomitee tesame met finale bekragtiging deur die skoolhoof is finaal en is nie appelleerbaar nie. Die name van die twaalf (12) leerderraadslede word op die laaste dag van die vierde (4de) kwartaal bekendgemaak.

VERKIESINGSPROSEDURE VAN HOOFSEUN EN HOOFDOGTER

Die verkiesing vir die hoofseun en hoofdogter vind plaas in die derde (3de) kwartaal. Slegs die Graad 7 leerders asook die onderwysers wat vir Graad 7 leerders klasgee, is stemgeregtig.

Die puntetoedeling van die stemme is as volg:
Graad 7 leerder: 1 punt

Leerderraadslede: 3 punte

Onderwysers: 5 punte

Die hoofseun en hoofdogter word op die laaste dag van die derde (3de) kwartaal bekendgemaak.

Die skoolhoof behou die reg voor om in uitsonderlike gevalle ‘n leerderraadslid in sy / haar Graad 7 jaar aan te stel. ‘n Voorbeeld mag wees wanneer ‘n leerder in die eerste of tweede kwartaal van Graad 7 by die skool ingeskryf word en in hulle vorige skool ‘n leerderraadslid was.

KENTEKENS

Komiteelede van die komitees sal toepaslike balkies ontvang. Die leerderraadlede sal by aankondiging van die leerderraad elkeen ‘n balkie ontvang. By aankondiging van die hoofseun en hoofdogter sal hulle ‘n balkie ontvang.

Leierskap

Lees gerus ons volledige Leierskapsbeleid.