Geagte Ouers / Voogde – 17 April 2025
Ons Kaperjolle het darem nét sy eie sjarme en nie eens gure weer kon op die dag die kosbare samesyn van ons skoolgemeenskap demper nie. Die heerlike kuier en samesyn is nog steeds op almal se lippe. Hierdie jaarlikse en gewilde pretdag het op Saterdag, 12 April, plaasgevind en is onomwonde die hoogtepunt op die skoolgemeenskap se sosiale kalender, veral vir ons leerders. Kaperjolle bied soveel aktiwiteite en pret vir oud en jonk. Die leerders het hulle gate uit geniet en hulle glad nie aan die reënbuie gesteur nie. Volgens die leerders was die besoek aan die spookhuis die gewildste aktiwiteit om te doen. Nie eers ’n skrikwekkende foto van die skoolhoof of gerugte dat spoke in die gange rondloop, het die leerders afgeskrik nie. Volgens die leerders was my ‘gedramatiseerder’ foto blykbaar nie vreesaanjaend genoeg nie en daarom was hulle dus nie bang nie. Leerders het in lang rye tougestaan om die opwinding te ervaar, veral as daar ’n kans is dat ’n sogenaamde spook aan jou been kan vat. Ek glo dat die spookhuis se gewildheid sal nooit oor die jare taan nie en sal vir geslagte nog, ons leerders en selfs volwassenes, fasineer. Baie geluk en ook groot dankie aan ons ouers wat die smaaklikste disse by hul onderskeie stalletjies opgedis het vir ieder en elk om te proe. Die fraai versierde kosstalletjies het die geleentheid...