Verlede jaar is Thornley Webber , Ruben Janse van Rensburg en Bernard Lombaard gekies om op 2 en 3 Desember 2017 aan die Westelike Provinsie Krieket Unie se O/11 Distrik T20 Toernooifees deel te neem. Hulle het WP 0/11 se sentrale distrikte-span verteenwoordig. Die WP is opgedeel in 4 distrikte en daar is ‘n rondomtalie feestoernooi gehou.

Dit was ‘n T-20 formaat met twee wedstryde per dag. Daar is ‘n paar unieke nuwighede ingebring, o.a. dat as ‘n kolwer 24 balle trotseer, (4 boulbeurte) hy moet uittree om so te verseker dat almal ‘n beurt kry om te kolf. Die kolflyste is ook geroteer na elke wedstryd.
Op Saterdag, 2 Desember het die drie Jannies teen die WP se Noordelike Distrikte span op die veld gestap by Sunninghill se sportgronde. Die dag was bloedig warm. Ons opponente het eerste gekolf en n skaflike 86 lopies aangeteken. Ons het toe gaan kolf en ongelukkig gou n paar paaltjies verloor. Ruben en Bernard (nie uit nie) het goed vasgeskop maar kon nie verhoed dat ons met 16 lopies verloor nie. Die middagwedstryd was ook ‘n taai affere. Ons het teen die WP Suidelike-Distrikte span gespeel.
Ongelukkig moes die Jannies se span weer die knie buig teen baie sterk opponente. Daar is met groot afwagting uitgesien na die volgende dag se reeks rondomtalie wedstryde, die keer in Somerset-Wes. ‘n Welkome reënbui oornag het egter die boulers se aanlope en kolfkampies seepglad en onspeelbaar gemaak en net na middagete is die dag se twee wedstryde afgelas deur die WP krieket-unie. Almal was baie teleurgesteld, maar was baie trots om op dié vlak te kon meeding.

Ons wens die drie Jannies baie sterkte toe met hul krieketwedstryde die komende seisoen.