Op Vrydagoggend, 9 Februarie 2018, om 10:00 word daar 2000 5liter vol waterbottels by Laerskool Jan van Riebeeck (Kaapstad) afgelaai. Die Waterdryfspan van Laerskool Vastrap in Rustenburg, Noord-Wes, se ouers het hulle harte en hande oopgemaak en besluit om ‘n waterdryfprojek te reël om hulp te verleen aan die Kaap se waterkrisis ter voorbereiding aan ‘Day Zero’. Binne enkele ure het die gemeenskap van Rustenburg skole en besighede saamgekom en ons staan tans op 50 000liter water wat ingesamel is.
Die Waterdryfprojek se afsnypunt word beplan vir Vrydagoggend, 9 Februarie 2018, te Laerskool Vastrap Rustenburg, waar die trokke van Gift of the Givers die water sal oplaai. Daar is ‘n verdere 10,000liter geskenk aan Laerskool Jan van Riebeek in die Kaap. Die ouers se bereidwilligheid om hulle hande diep in hul sakke te steek, het hulle in staat gestel om finansiële bydraes te lewer aan verdere organisasies in die Kaap.
Gedurende die Waterdryfprojek is hulle bewus gemaak van ‘n water tekort sommer op hul voorstoep in ‘n gemeenskap genaamd Koster, 20 km uit Rustenburg, waar hulle volgende week teen 16 Februarie 2018 ‘n verdere 25 000l sal aflewer. Laerskool Vastrap wil graag poog om ander dorpe en stede te inspireer om betrokke te raak by hierdie inisiatief en dorpe uit te daag om in hul voetspore te volg.
Ons is trots Suid-Afrikaans en is oorweldig deur die gemeenskap en skole se bereidwilligheid om bydraes te lewer aan hierdie Waterdryf net in Rustenburg alleen. Saam kan ons ‘n verskil maak, as ander dorpe en stede betrokke raak. Hulle is kinderlik optimisties dat die projek al ons verwagtinge sal oortref.
Die skool (Laerskool Jan van Riebeeck) sal ‘n groot gedeelte van die water met hul buurskole, Ellerton Primary en Prestwich Primary, deel. Die onderskeie skole se leerderraad sal die water in ontvangs neem en op hierdie manier reik ons skole en gemeenskap na mekaar uit. Laerskool Jan van Riebeeck spreek hul dankbaarheid uit teenoor Laerskool Vastrap en die omliggende skole en gemeenskap van Rustenburg vir hierdie pragtige gebaar.