Laerskool Jan van Riebeeck Nuus

Liewe Ouers,

Datums

Donderdag, 14 September 2017    Wisk.Kompetisie te Melkbos  

Vrydag, 15 September 2017    Skaakwedstryd teen Highlands  (Tuis)

Maandag, 18 September 2017    Konsert (kleedrepitisie)  

Dinsdag, 19 September 2017    Konsert tot Vrydag 22 Sept.  

Woensdag, 20 September 2017    Juf. Heidré Ehlers verjaar  

Vrydag, 27 September 2017    Juf. Lucia de Jager verjaar   

>> SIEN DIE VOLLEDIGE DAGBOEK <<

UIT DIE HOOF SE KANTOOR

Konsert, konsert, konsert!

Ons hoop dat almal van u reeds kaartjies gekoop het vir ons skool se tweejaarlikse konsert waaraan al ons leerders deelneem.  Dit is reeds vanaf 25 Augustus elke week op die voorblad van ons weeklikse nuusbrief, so daar is geen verskoning as u nog nie kaartjies gekoop het nie…  Slegs enkele kaartjies is nog beskikbaar!

Ons sê ook baie dankie aan alle ouers wat ‘n bydrae gelewer het…  hetsy of dit hulp is/was met die maak van kostuums, dekor, grimering, geldelike bydraes of met toesig! Ons waardeer dit opreg. ‘n Groot dankie ook aan al die onderwysers se harde werk met die afrigting en ekstra ure wat aan die akademie bestee moet word om al die werk gedek te kry!  

Ook baie dankie aan Mnr. Ben Reynecke wat aan die hoof staan van ons konsert en al baie ure en dae hieraan bestee het. Ek glo dit sal ‘n groot sukses wees en ek is seker almal sal dit geniet!

Korrekte kommunikasiekanale

Alle ouers is nie altyd seker wat die korrekte kanale is om te volg wanneer hulle voorstelle / navrae / klagtes het oor sekere aspekte by die skool nie.

Ons het verlede week gedek watter kanale om te volg indien daar aangeleenthede is wat u wil meld / bespreek wat verband hou met Akademie, Sport, Kultuur en Geboue en Terrein.

Indien u enige voorstelle / navrae / klagtes of probleme het wat verband hou met Boeliegedrag of Opvoedkundige Sielkunde, kan u die volgende kanale volg:

· Boeliegedrag – vir enige aangeleenthede wat verband hou met boeliegedrag kontak die klasonderwyser, en daarna Me Charlene van Rooyen.  Vervolgens kan u die skoolhoof nader. · Opvoedkundige sielkunde – vir enige aangeleenthede wat verband hou met opvoedkundige sielkunde, kontak die klasonderwyser, en daarna Me. Marinda Brink.  Vervolgens kan u die Skoolhoof nader met u versoek, en laastens Me. Marike Badenhorst.

Daar is ‘n kits-skakel op die tuisblad van ons webtuiste geplaas vir u gerief, waar u direk inligting ontvang oor die skool se kommunikasiekanale – https://laerskooljanvanriebeeck.co.za/

ALGEMEEN

Hierdie week se Jannie van die Week is Emma Jonker – Gr 1. Baie dankie dat julle so mooi herwin hier by die skool. Ons hoop julle geniet julle Col Caccio’s geskenkbewys sommer baie!

Ons Herwinningsdepot hier by die skool is een van die mees volledige depots in die Stadskom. Ons herwin papier, karton, verskillende tipes plastiek, blikkies, tetrapak, plastiek doppies en sakkies en polistirene.

Maak asb seker dat julle die items in die regte houers gooi – hulle is almal duidelik gemerk.

Maak ook asb seker dat die items nie meer kos of vloeistof in hulle het nie.

Let ook daarop dat julle gladde karton, soos ontbytgraan houers ens. in die papier igloos kan gooi. Die karton houers is slegs vir dikker en geriffelde karton.

Maak asb seker dat julle al die verpakkingsmateriaal uit die bokse haal voordat julle dit herwin, en ook dat julle die bokse plat maak – sodoende kry ons meer in ons houers.

Kontak asseblief vir Isabel Lynch (ipot@mweb.co.za / 074 144 2288) as julle enige vrae het.

AKADEMIE

Na baie vroegoggende se oefening en ‘n wiskundekamp was ons leerders reg om teen 9 ander skole mee te ding. Die leerders was in goeie gees, maar tog ‘n bietjie senuweeagtig oor die onsekerheid wat voorlê. Die kompetisie bestaan uit 10 skole en 4 spanne per skool. Dit beteken 40 spanne en  160 leerders wat op die aand deelneem.

Die skole was:

Van Riebeeckstrand, Mikro, Welgemoed, Gene Louw, Curro Langebaan, Table View, Laerskool Brackenfell, Melkbos Privaat, Elkanah House en Jan van Riebeeck.

Die kompetisie fokus op vinnige denke en baie moeilike woordsomme. Die eerste rondte moet alle leerders 25 somme in 5min beantwoord. Rondte twee beantwoord alle leerders 10 woordsomme op hule eie. Rondte drie kry elke span 8 woordsomme en elke leerder moet twee kies en beantwoord. Laaste rondte bestaan uit twee vrae wat die span saam kan beantwoord. Na afloop van al die rondtes was dit tyd om aan te kondig wie die wenspan en wenskool is.



Vir die eerste keer in die 13 jaar wat die kompetisie plaasvind, het ‘n skool dit reggekry waar al 4 hul spanne in die top 10 geëindig. Ons kan met trots sê dat dit ons is wat dit reggekry het. Ons spanne het eerste, vierde, sewende en agste geëindig. Saam met die wenspan is ons ook aangewys as die beste skool. Uitstekende prestasie en vir die tweede jaar in ‘n ry wat ons beide afdelings van die kompetisie wen!!

Ons spanne:

Wenspan: Hanna van der Westhuizen, Janneke van der Walt, Kate Wilkin en Edmund van Rooyen.

4de plek: Helena Laubscher, Thea de Lange, Chris Scott en Albert Matthee.

7de plek:   Inge Meyer, Obed Bam, Johann Jordaan en Benjamin Pienaar.

8ste plek: Joshua Harvey, Stef Mostert, Gerard Snijders en Henry Potgieter.

Baie geluk aan al hierdie leerders se puik prestasie. Dit is ongelooflik. Baie dankie aan elke leerder wat so hard gewerk het, baie dankie aan elke ouer wat die leerders al 06:40 by die skool moes aflaai, baie dankie aan mnr. Lilly wat altyd ‘n helpende hand bygesit het en baie dankie aan mnr. Hanekom wat die ekstra myl gestap het om die leerders voor te berei vir die kompetisie. Ons is sommer baie trots op julle almal!

 

Ses-en-twintig van ons leerders het die afgelope Saterdag deelgeneem aan die WOW Provinsiale kompetisie in Stellenbosch.

Baie geluk aan die volgende leerders wat onder die Top 4 geëindig het. Hulle neem 21 Oktober deel aan die nasionale kompetisie by die Universiteit van Stellenbosch.



Gr. 1

Eerste plek – Liza Hertzog

Derde plek – Lara Frontini

Gr.3

Vierde plek – Mia Symington

Gr.4

Derde plek – Jana Brink

Ons is sommer BAIE trots op julle,want dit is ‘n groot prestasie !

Sestien van ons graad 6 en 7 leerders neem vanaand, 14 September,  aan die Melkbos-Wiskunde kompetisie deel. Hierdie leerders het baie ure ingesit ter voorbereiding.

Die leerders is:

Benjamin Pienaar

Gerard Snijders

Johann Jordaan

Albert Matthee

Henry Potgieter

Stef Mostert

Chris Scott

Hanna van der Westhuizen

Janneke van der Walt

Inge Meyer

Thea de Lange

Helena Laubscher

Kate Wilkin

Obed Bam

Edmund van Rooyen

Joshua Harvey 

Ons hou vir elke leerder duimvas en wens almal sterkte toe….kom ons kyk of hulle vanjaar weer die bekers kan huis toe bring ?!

Twee van ons leerders, Albert en Stefan Griesel, het verlede Saterdag aan  die KZN Regional Abacus and Mental Arithmetic Kampioenskappe deelgeneem by Laerskool Milnerton. 

Dit is ‘n baie 0pwindende kompetisie waar leerders in die eerste rondte 40 somme in 6 minute moet voltooi. Daarna moet hulle hoofreken doen en kyk hoeveel van die 40 somme kan hulle in 2 minute voltooi.

Daar was 80 leerders wat aan die kompetisie deelgeneem het en hulle wissel van Gr.R-Gr.7. 

Die toekennings aan die einde van die rondtes word bepaal deur die resultate wat elke kind behaal het. 

Hier is die uitslae:

Stephan Griesel Gr.4  level 5   Bronze

Albert Griesel     Gr.2  level 4   C

Die toekennings word as volg toegeken:

CC  –  Champion of Champions Trophy (1st in Age Group and Level) 

C  –  Champion Trophy (2nd in Age Group and Level)

Gold –  Medals for the Top 15% of the children in their Age Group and Level  (excluding 1st and 2nd place)

Silver –  Medals for the Next 25% of the children in their Age Group and Level

Bronze –  Medals for the Remaining 40% of the children in their Age Group and Level 

Al die leerders wat vlak 5 en 6 is uitgenooi na die AMSASA Nationale Kampioenskappe. Dit vind plaas in Gauteng 21 Oktober.  Die leerders wat hier presteer sal die geleentheid kry om uitgenooi te word na die GAJSMA International Abacus and Mental Arithmetic Championship wat vir die eerste keer in Suid-Afrika aangebied gaan word. 

Baie geluk aan ons twee leerders wat so mooi presteer het.

DUSN bied inleidingswerksessies aan in Ontwerp en 3D Printing op 16, 23 en 30 September. Dit vind plaas in L/S JvR se rekenaarsentrum. Registrasie vir die werksessies kan op ons webtuiste geskied by : http://www.dusn.co.za/workshops-intro/

Ons werkswinkels is daarop gerig om WWKT-inhoud (Wiskunde, Wetenskap, Kuns en Tegnologie) vir studente op ‘n interaktiewe en lewendige wyse te bied om sodoende kritiese denke en ‘n innoverende aanslag tot probleemoplossing te koester.

Besoek gerus ons webtuiste by www.dusn.co.za  vir meer inligting rakende ons meer gevorderde werkswinkels en Solution Center.

KULTUUR

A.g.v. die konsert volgende week, sal daar geen Dramaklasse wees nie.

Die drama-afsluiting vir Kwartaal 3 sal vir almal  (ook  die Maandag-en Vrydaggroep) op Woensdagmiddag 27 September wees.

Gr. 1-3–  14:15 tot 15:00

Gr. 4-7–  15:15 tot 16:00

Saterdag was die laaste dag van die Sang Eisteddfod. Weereens was ons baie trots op ons leerders :

Lily Lynch:  84% en 85%

Zina van der Westhuizen:   84% en 90%

Baie geluk!!

Ons is baie opgewonde om die volgende medaljewenners by die Kaapse Afrikaanse Eisteddfod aan te kondig:

Neena Lonte: Silwer medalje, Junior Klavier 10 jaar

Kate Wilkin: Silwer medalje, Junior klavier Groepsolos 12 jaar

Alexander Ulich: Silwer medalje, Junior Sang Seuns 8 jaar

… en boonop nog n GOUE medalje ook:

Neena Lonte: Junior Klavier 6 – 10 jaar Algehele wenner

Baie geluk … ons is BAIE trots op julle!

‘n Hele paar Jannies neem hierdie naweek deel aan ‘n spog balletkonsert, Seasons  of Enchantment, aangebied deur hul balletskool, die Cape Ballet Centre wat hier naby in Hofstraat geleë is.



Die hele balletskool, van die jongste tot die mees senior dansers, neem deel, sowel as ‘n paar gaskunstenaars.



Daar gaan drie vertonings wees, komende Vrydagaand om 19h00 en Saterdag, die 16de om 14h00 en om 18h00.  Dit word in die ruim Joseph Stone Amfitiater aangebied. Kaartjies kan deur Computicket bekom word.‌

SPORT

Neen kennis dat alle skoolsport vir die kwartaal hierdie week eindig. Daar moet met die verskeie afrigters gekommunikeer word of privaatlesse volgende week sal voortgaan.

Ons volgende oefeninge sal die eerste dag van die nuwe kwartaal wees. Hou asb. die sportprogram dop om seker te maak oor watter dae, tye en velde.

Ons skaakspan was Vrydag, 8 September by Herzlia Weizmann waar ons Jannies ons beste voet voor gesit het en ‘n groot uitdaging was vir die ander skool. Gerard Snijders het bord 2 gespeel en was die enigste Jannie wat sy opponent oorwin het. Ons Jannies het ongelukkig  3 – 1 teen Weizmann verloor. Ons span gee egter nooit op nie en sien uit na hierdie Vrydag se wedstryd teen Herzlia Highlands.

Die tweekampseisoen skop die naweek af en dit is lekker om te sien dat so baie van ons leerders deelneem. Die eerste byeenkoms is Saterdag by Bernadino Heights, waar die atlete hardloop, en die swem by Hoërskool Fairmont.

Die atlete wat deelneem is:

Albert Giesel

Alexander Benecke

Danny Newton

Christiaan van Wyk

Fredrich Erasmus

Stefan Griesel

Luan Krige

Henry Potgieter

Stef Mostert

Stefan van Wyk

Jordan Hoefer

Ons sien uit na ‘n heerlike seisoen en ons hou vir elke atleet duimvas. 

Indien daar enige ander atlete is wat graag sal wil tweekamp doen, kan hulle vir mnr Hanekom e-pos by leon@jvrprim.co.za.

Divan Rossouw (Graad 7) en Bernard Lombaard (Graad 5) vertrek op 25 September na Vancouver, Kanada, om aan die 7de Internasionale Karate-do Goju-kai Assosiasie Wêreldkampioenskappe deel te neem.

Die toernooi vind elke vier jaar plaas en 1092 deelnemers van 26 lande,insluitende die VSA, Brittanje, Japan, Kanada, Australië, Kanada, Brasilië, Swede, Switserland, China en ons bure, Namibië neem deel.

Die twee is reeds verlede jaar as deel van die Suid-Afrikaanse span aangewys en moes reeds baie oefenure insit ter voorbereiding vir die kampioenskappe.

Die byeenkoms vind plaas van 28 September tot 1 Oktober by die geskiedkundige Richmond Olympic Oval wat in 2010 die Winter Olimpiese Spele gehuisves het.

Dit is voorwaar ‘n reuse prestasie om op die vlak deel te kan neem. Ons is sommer baie trots op die manne en wens hulle alle voorspoed toe!

One never stands taller or more firmly grounded than when they stand on their principles.

– Joseph P. Martino

  

Vriendelike groete

J.H. Oosthuizen

SKOOLHOOF

Laerskool Jan van Riebeeck
Kloofstraat 52, Tuine, Kaapstad, 8001
021 423 4209