Die graad 1 – 5’s het die kwartaal afgeskop met ‘n onbeplande/outomatiese eenlyn-tekening. Hulle moes met toe oë en lekker los armbewegings, ‘n ‘skribbeling’ op die papier maak en dan na hulle eie en ook na mekaar se tekeninge kyk vir iets herkenbaar. Daarna het hulle met olie-pastel die dele beklemtoon wat hulle wou en enkele dinge soos ‘n oog, poot of snawel bygeteken.  Ons het na die oefening verwys as ‘kuns-yoga’.
Die graad 6+7’s het ‘n kans gehad om met houtskool te eksperimenteer. Ons het eenvoudige landskappe as tema gebruik om kontras (lig/donker) en perspektief/diepte uit te beeld ( groter, donkerder, meer detail voor en kleiner, ligter, dowwer na agter).
Die graad 1+2’s het nommers en die graad 3 – 5’s letters van die alfabet omskep in karakters soos diere, koddige mense en eienaardige monstertjies… Die nommers of letters moes herkenbaar bly deur die kleurgebruik te beperk en nie te veel/onnodige detail by te voeg nie.
Die graad 6+7’s het ‘n kunsgeskiedenis-les oor Henri Matisse gehad. Nadat ons na voorbeelde van sy vroeëre werke gekyk en dit bespreek het, het ons gefokus op sy bekende papier ‘Cut-outs’. Die kinders moes spesifiek let op balans, ritme en komplimentêre kleurgebruik. Hulle moes ook probeer om een positiewe en sy negatiewe vorm by hulle komposisie in te werk.
(Die gr 3+4’s gaan in ‘n volgende klas die oorblywende stukke/knipsels papier van hierdie projek opsikleer (upcycle ) in Matisse/Miro/Calder geïnspireerde mobiele.)
Foto’s hiervan is onderaan die blad te sien.