Laerskool Jan van Riebeeck streef daarna om ‘n gebalanseerde lewenswyse by leerders te kweek. Leerders word aangemoedig om aan minstens een sportsoort per kwartaal deel te neem. Daar word drie keer per jaar ‘n sportprogram aan leerders uitgedeel waarin die tye van die verskeie sportoefeninge aangedui word. Kwartaal een en vier se sportprogram is min of meer dieselfde en kwartaal twee en drie s’n stem ook ooreen.

Somersport: Atletiek, swem, krieket, tennis, tweekamp

Wintersport: Rugby, netbal, hokkie en landloop

Deurlopend: Skaak

SPORTKOMMUNIKASIE: Ons poog om minder papier te gebruik en stuur Google Forms aan ouers uit om hulle in kennis te stel wanneer hul kind(ers) aan wedstryde of byeenkomste deelneem. Dit is belangrik dat ouers dit spoedig voltooi.

KANSELLASIES: Wedstryde en/of oefeninge word per uitsondering gekanselleer. Die besluit word om ongeveer 12:00 op die betrokke dag geneem en daarna word ouers en leerders in kennis gestel. Indien dit ‘n weg-wedstryd is, neem die gasheerskool die besluit en stel ons in kennis. Ons het dus geen beheer oor die tyd wanneer hulle dit kanselleer nie.

SPORTNAVRAE: Enige navrae kan gerig word aan sport@jvrprim.co.za.

Besoek gerus elke sportsoort se blad vir meer inligting.

Sport Aktiwiteite

Atletiek

Die jaar eindig met ‘n Kleuresport op die Hoërskool se velde. Daar word ‘n span gekies om aan die Interskole byeenkoms deel te neem. Daarna moet atlete kwalifiseer vir die Zone-byeekomste.

Tweekamp

Die skool bied Tweekamp aan en die items sluit swem en hardloop in. Die seisoen is tussen September en Maart van die daaropvolgende jaar.

Swem

Die Kleuregala vind in die eerste kwartaal gedurende skoolure by ons skoolswembad plaas. Leerders wat kan swem neem hieraan deel. Hier moedig ons massa-deelname aan. Hierdie gala asook die oefeninge word gebruik om ons swemspan te identifiseer wat gedurende die res van die seisoen aan ander galas deelneem.

Tennis

Tennis is ‘n somersport, maar privaatafrigting vind deur die jaar op ons bane plaas. Ons spanne is in verskeie ligas ingeskryf en speel gereeld tydens die somer wedstryde.

Krieket

Krieket vind in die eerste en vierde kwartaal plaas. Die spanne oefen op Maandae en Dinsdae. Wedstryde wissel vir elke ouderdom.

Die spelers oefen op die Conradieveld.

Rugby

Rugby vind gedurende die Winterseisoen plaas. Sportdae vind gewoonlik op ‘n Saterdag plaas en ligawedstryde op ‘n Woensdag. Die seuns oefen by die skool en op die Conradieveld.

Hokkie

Hokkie word van O/9 tot O/13 vir beide seuns en dogters aangebied. Ons fokus op die aanleer en ontwikkeling van vaardighede vir die speel van hokkie.

  • O/9 – O/13: Dinsdae en Donderdae
  • Oefening: Oefeninge vind plaas op die Conradieveld en die Hoërskool se St. Michaels veld (geleë onder die Conradieveld)
  • Toerusting: Die skool sal genoeg balle en ‘n paar ekstra hokkiestokke voorsien. Leerders moet egter hul eie ‘shin guards’, mondskerms en hokkiestokke saambring.
  • Wedstryde: Ons begin in 2020 om meer gereeld wedstryde te speel.

Netbal

Netbal vind in die Winter plaas.

Daar vind gewoonlik twee sportdae in die Boland omgewing op Saterdae plaas.

Ligawedstryde is gewoonlik op Woensdagmiddae.

Landloop

Landloop vind in die winterseisoen plaas en leerders oefen Maandae en Woensdae. Wedlope vind op ‘n Vrydag plaas.

Skaak

Skaaklesse vir leerders van graad 1-7 word een keer per week in graadverband aangebied. Die skool se skaakspan speel gedurende die tweede en derde kwartaal op Vrydae ligawedstryde.